Monday, November 30, 2009

Die groot uitpak

Hierdie afgelope week was weereens 'n hoogtepunt in ons lewens. Die rede hiervoor was dat ons container is uiteindelik afgelaai by die huis. Ek het skoon amper 'n zulu toi toi gegooi voor die trokke toe dit voor ons huis gestop het hier laas Woensdag oggend. Die opgewondenheid was tasbaar toe die trokke hier stop en ons almal skarrel vir 'n vale rond binne en buite die huis. Alvorens die trok behoorlik kon stop moes ek eers van huis tot huis gaan on uit te vind wie se kar staan voor ons deur geparkeer. Ek het nog nie vir julle vertel van die boom voor die huis wat almal graag onder wil stop vir koelte nie, die mense kan skaars wag dat iemand sy kar skuif of hulle kom uitgehardloop en skuif dan hulle kar onder ons koelte boom in. Dis absoluut lagwekkend. Wel so loop ek toe nou maar van huis tot huis en kry die skuldige. Die mense het hulle eie garage, maar nooit as te nimmer sal hulle daar stop. Die vrou het dadelik haar kar kom skuif, maar was dit nou 'n stryd vir haar om 'n ander parkeer plekkie te kry vir haar kar. Ek kon net my kop skud vir mense.

Wel so staan die trokke toe rug teen rug en die ses manne begin toe die trokke uit pak. Hulle het behoorlik gewerk, en het elke vyf en veertig minute rus ingekry. Hier oorwerk die mense hulle nie self nie. Jy rus gereeld, tel niks swaar op nie, en skuif niks swaar rond nie. Vir alles is hier tools om die harde werk makliker te maak. Die bene word gebuig as iets opgetel word, die rug mag nie geooreis word nie. As iets te swaar is word die trollie ingespan. Hier is geen manne met werk stamina of krag nie. (Net 'n klomp oz woesies, selfs boeta word grootoog aangegaap as hy iets groot by die skool optel. Die meisies swymel blykbaar as boeta nader tree. Dis nou die meisies se weergawe.) Die manne was seker so vier of vyfure aan die werk hier gewees toe is hulle klaar. Die goeie nuus is ons het almal ons eie beddens en al ons goed het veilig hier aan gekom, die slegte nuus is ons het redelik skade opgedoen met van ons goed. Die buite stel wat van castiron gemaak is, is daar drie stoele gebreuk. Twee van hulle is letterlik in stukke gebreuk. Hoe die josie dit gebeur het is 'n totale raaisel vir ons. Een van my groot lampe (en dis die een wat Luke gerewire het) is stukkend gebreuk asook een van my groot bruin staan vase. Twee van ons splinternuwe beddens was so verpak dat die onderkante heeltemal ingegee het. Die beddens was nie eens 2weke oud toe ons getrek het nie. Dit moet ons nou alles eis van die versekering. So dit wys jou, niks is veilig nie.

Ek het foto's geneem van die werkers, en dit was almal 'n klomp jong manne gewees. Snaakse mense en huul het geen humorsin. Omtrent elkeen van die manne was vol tatoeer merke op die lywe. Volgens hulle is dit kuns, en dis hulle manier hoe hulle, hulle kuns uit leef. Ja seker dink ek so by myself, ons ouers sou letterlik en figuurlik ons koppe van ons lywe af geklap het as ons met sulke "kunswerke" by die huis opgedaag het. Ek is seker hulle het nooit vetkryte gehad nie. Die ouens het nie net een of twee klein diskrete "kunswerke" nie, dis sulke groot en kleurvolle goed orals oor. Die arms, bene en die hele rug is vol en sommer die hande en vingers ook.

So die res van die week het ons uitgepak en uitgepak. Wel ek het nie veel uitgepak nie. Teen Donderdag het ek so 'n geweldige migraine ontwikkel dat Anli vir Alex kom help het om die kartondose uit te pak. Die middag toe ek my kop kon lig is die kombuis uitgepak en meestal van die goed het 'n plekkie gekry. Soos wat Alex en Anli uitpak sien hy dat hier nog steeds te veel gemors saam gekom het. Ek sal maar deur die kaste gaan en alles weer herorganisser, en dit wat volgens hom gemors is evalueer en besluit of dit bly of maar liewers moet gaan.

Dis lekker om deur jou eie goed weer omring te word. Dit voel meer huis.

Hierdie week doen ek my lisensie, so ouens hou duim vas dat ek dit maak.

No comments:

Post a Comment