Monday, November 22, 2010

Die gejaag na wind.

Hierdie afgelope week was nogal besig gewees. Partykeer het mens net te veel dinge en te min tyd om alles klaar gedoen te kry, maar soos gewoonlik werk dinge uit en alles word tog afgehandel.

Ons het ons jaarlikse Afrikaanse kerssang diens by Wonga Park Christian Reform Church gehad Sondagaand, en al die dames het wonderlik saam gewerk om van die geleentheid eintlik ‘n reuse sukses te gemaak het. Dinge het in die begin nie so lekker gevlot nie, maar soos mens die kinkels maar uitwerk kom die plan tog mooi bymekaar. Ons het eintlik ‘n klompie amazing vrouens in die gemeente, daar is Heidi Kruger wat die mooiste lap geverf het vir ons met die drie wyse manne, Erna Duvenage wat met die idée vorendag gekom het en die apliek werk op die lap gedoen. Dan is daar Anli Roelofse wat die beplanning van die aand gedoen het met al die versierings en die eetgoed, en dan al die helpers soos Tania Steyn, Susan de Lange, Cecilia Blignaut en Hendrika Jooste. Die vrouens rock!

Christiaan het ook begin met voorbereiding vir sy eksamen. Al sy vakke word in drie dae geskryf, dit is nogal ‘n bietjie hectic, maar dis hoe dinge hier gedoen word in die skool. Soos gewoonlik het die kind nie behoorlik time management toegepas nie en saam met die leerwerk was daar ‘n houtwerk projek wat ook moes klaar kom. Nodeloos om te sê het ons soos gewoonlik weer tot laataand gewerk om die projek klaar te kry, mens sou sweer die 5 weke wat hy kans gehad het om die ding te doen nie genoeg was nie. Wanneer sal hy tog ooit leer. Hy skuld natuurlik vir Alex en die gaan kollekteer. Die voorbereiding / “step up” program vir Gr11 word gedoen net na eksamen en dan is hy klaar met skool vir die jaar tot Februarie volgende jaar. Hy gaan natuurlik bietjie suffer volgende jaar want hier kan jy al in Gr10 al begin om Gr11/12 of soos dit hier genoem word VCE vakke te neem. Hy het besluit om in Gr11 alreeds te begin met een van sy Gr12 VCE vakke. Ons sal sien hoe baie word daar Xbox gespeel.

In die komende week gaan Celesté optree in die Union teater by Melbourne Universiteit. Die drama groep (Childrens Performing Company of Australia) waarby sy betrokke is het ‘n opvoering, dit behoort fun te wees. Dit laat my terug dink aan al Nicolette se ballet opvoerings in die staatsteater in Pretoria. Wat nogal opmerklik was hier is ons het duidelike riglyne gekry oor waar die kinders afgelaai moet word, wat die reels is oor foto’s en opnames binne in die teater is asook al die reels oor veiligheid en etiket. Die mense is fanaties oor al die “safety procedures” in plekke. Dit laat mens dink aan die lugwaardinne wat op die vliegtuie staan en mimiek elke keer as jy iewers heen vlieg.

Ons het weereens huis inspeksie gehad en darem 'n goeie verslag gekry. Hier word die huis wat jy huur elke ses maande besoek en alles word gecheck. Foto's word geneem van die huis en aan die eienaar voorsien om te verseker dat jy die huis netjies oppas en skoon hou. Ek weet nie hoe kry die average Ozzie dit reg om ooit sy deposito terug te kry nie, die huise wat ek al hier gesien het laat my hare regop staan hier. Ons was laasweek in 'n maatjie van Clarissa se huis gewees en mense dit was maar 'n grillerige ondervinding. Dit lyk net of die ouens nooit skoonmaak nie, niks word gebere of weggepak nie. Alles is oor die oppervlak van die huis se vloer gestrooi en almal klim maar bo-oor dit. Selfs die kat het 'n rojale tyd in die huis, sy speel bal was 'n appel wat so oor die vloer gly.

Thursday, November 18, 2010

Kinders van vandag.

Ek glo nie dit maak saak waar jy bly, of dit nou in Oz of Suid Afrika is nie. Maak nie saak hoeveel kinders jy het of hoeveel geld jy in die bank het nie. Ons almal het dieselfde issues met ons kinders. Dis as of die ore net nie lekker funksioneer nie. Iewers is ek seker het daar ‘n kortsluiting ingetree, as ek tog net kan uitvind waar dit is.

Jy praat mooi, lek gat, smeek, vloek en skreeu, maar wragtag dis asof niks help nie. Die doofgheid wil nie weg, of liewers hulle is sommer heel op ‘n ander planeet. Partykeer lyk dit of hulle boomrook want die kyk wat jy kry as jy durf iets vra laat my dink aan die blomme kinders van die sestigs. Daai kyk van “Hey bra wat’s fout. Chill man” Hoe is dit dat ons ouers ons groot gekry het. Ons het tog geluister as hulle gepraat het, of liewers daai kyk het sommer alles gesê en terug praat was taboe. As jy ooit durf terug praat het dan was jou ore sommer witwarm geklap gewees. Wat het soveel verander dat ons kinders nie kan verstaan as jy praat nie. Is dit vandat almal skielik regte bekom het dat ons kinders nie luister nie.

Van vroeg af het ek probeer om my vier kinders te leer dat as jy iets soek moet jy daarvoor werk. Niks is verniet in die lewe nie, maar ek glo nie ons kinders verstaan daardie konsep nie.

Vandag toe ons vrouens so sit en om die tafel werkskaf om die kers sangdiens se “bling” klaar te maak begin ons so gesels oor ons kinders en hulle dinge. Dit lyk altyd asof dinge so rustig in ander mense se huise is, maar as jy eers begin gesels dan besef jy dis net ‘n persepsie wat jy vorm. Die werklikheid is absoluut iets heel anders. Dalk moet ons ‘n realiteits program begin waar ons kinders swop van een huis na ‘n ander, maar die huisreëls van die eenhuis na die ander mag nie verander. Ek wonder hoeveel waardering sal die kinders dan vir hulle eie ouers dan hê.

Enige takers daar buite?