Sunday, November 15, 2009

Die week in oorsig

Die week het begin waar ek in stad toe is met die trein en daarna met die tram vir my kursus. Soos dit maar gewoonlik gaan gebeur die onvoorsiene en die treine is laat as gevolg van sein probleme. Gelukkig stel hulle jou in kennis hiervan op die trein so jy sit nie en wonder wat gaan aan, hoekom beweeg die trein of hoekom is dit so stadig nie. Ek was so vyftien minute laat, maar ek het die plek gevind en die dag het begin. In Australia word die ouens verplig om 'n sertifikasie te kry dat jy 'n behoorlike opgeleide boekhoudster is en by die Instituur geregistreer is.

Die week was in die algemeen heeltyd warm en Dinsdag toe gaan swem ons maar by die Aquarina, dis nou 'n swembad met 'n gym fasiliteit ook. Hier kan jy van die binne of buite swembaddens gebruik maak, en daar is selfs sauna's en jacuzzi's. Die kinders het dit geniet, die hitte put hulle geweldig baie uit en dan slaap hulle gewoonlik in die middae tot so sesuur.

Ons het Vrydag na die inry teater gegaan en dit het ons 25dollar vir die familie gekos. Dis baie goedkoper as om een fliek kaartjie van 15-20 dollar per persoon te betaal. Doen bietjie die somme, dis flippen duur om hier movies toe te gaan. Solank ons nog die ozzie dollars verdien sal dit maar by videos of inry teater bly. Die inry teater het baie memories terug gebring van ons kleintyd. Die jaffels, en die gekookte eiers asook toebroodtjies en koffie in warmflesse. Ons sal volgende keer net onthou om warmer klere aan te trek asook om meer komberse of selfs die slaapsakke saam te vat. Die movie wat ons gaan kyk het was A Christmas Carol, die kinders het dit geweldig baie geniet.

Ons container is darem al in die land, en die komende week moet dit deur doeane en aksyns gaan, asook deur kwarantyn. Hou duim vas dat daar nie iets is wat hulle nie van hou, en dat die minimum bokse getrek word vir ondersoek. Hou nog meer duim vas dat al die kampgoed deur sal kom, en dat daar nie probleme ondervind sal word met 'n ongewenste grassie of saadjie nie. As alles goedgaan behoort dit afgelewer te word binne die volgende week dan.

Alex soek nog werk, en dit lyk of daar darem iets om 'n temp basis dalk sal deurkom die volgende week. Julle moet maar bid dat dit positief sal wees.

Groete tot volgende keer.

No comments:

Post a Comment