Wednesday, December 21, 2011

Geboorte pyne van vooraf

Ons het nou al baie beleef in ons korte bestaan. As kind was verandering nou iets wat jy aanvaar het en alles wat kwyt geraak is, is dood eenvoudig aanvaar sonder enige teenstribbeling. Soos mens groter en natuurlike wyser word besef jy, jy kan maar dinge bevraagteken, alles hoef nie net blindelings aanvaar te word nie as wet nie. Om positiewe resultate te bereik het mens maar partykeer die ekstra tree gegee om mense te akkomodeer met 'n probleem. Soos toe ek nog by SARS gewerk het in my prille jeuglike and baie naiewe jongmens dae. Mense het ingekom met hulle aanslae waarop daar natuurlik bedrae betaalbaar was aan die belastingaarder. Baie mense het nie die geld gehad om dadelik alles te betaal nie en my werk was om uitstel te verleen of selfs 'n afbetalings ooreenkoms uit te werk wat tot voordeel vir albei sou wees. Partykeer was mens maar hardekwas gewees en ander dae kon jy sien dalk moet jy maar 'n ekstra maand of ses byvoeg om die situasie net makliker te maak. Daar was altyd 'n uitweg as jy een gesoek het, as die klient nie te vrede was kon hy altyd na iemand hoër op in die voedsel ketting mee gaan praat.

Hier in Ozland werk dit nie so lekker nie, die mense in die voorste linies se woord is wet. Jy kan nou maar rondspring soos 'n mal springhaas en niemand gaan jou te hulp snel en probeer om jou saak op te los nie, nee fok die ouens sal liewers die polisie bel en jou laat verwyder want hulle voel dalk bedreigd deur jou optrede. Goed so, ek sal ook bedreigd voel as ek sulke patetiese en power kliente diens lewer.

So gaan ek toe gister na die RTA (Road and Transport Authority) dis wat hulle genoem word in NSW, in Victoria of Melbourne was dit sommer net Vicroads. Vroeg die oggend besluit ek vandag is die dag vir die lisensie verandering, en later wil ek sommer ook nog Costco toe gaan vir 'n bietjie kers inkope en daarna sommer die klompie meubels wat ek op ebay gekoop het gaan oplaai. Het ek maar liewerste 'n pilletjie gedrink en weer gaan le dan sou dit soveel beter gewees het.

Ek daag toe by die RTA se kantore op, gewapen met al my dokumente en kry my nommertjie uit die computer. Die ry is lank en die mense is baie. Ek gaan sit maar en wag dat my nommer opgeroep word. Na so 'n kwartier is dit my beurt en dadelik kan ek sien hier kom 'n ding. Ek het die verkeerde flippen kode gekies oor wat ek nou wou doen en woeps sit sy my sommer terug in die sisteem. Kyk toe wil ek sommer nog my moer pluk, maar daar word my nommer sommer toe weer geroep. Ek beweeg een ry aan en handig my papierwerk in. Die dame vat nie die papiere nie en vra wat wil ek doen. Ek verduidelik toe maar en sy begin die papiere nader hark en binne vyf sekondes is ek afgeskiet oor my aansoek. Ek het die verkeerde papier wat my adres bevestig en sy is nou maar jammer maar ek moet 'n ander papier bring of iemand kry wat my langer as fokken 12maande ken wat hier in Sydney bly. Regtig popsie wat dink jy, gedink ek gaan sommer nou my towerstokkie swaai en iemand kry. Dit maak nie saak hoe ek verduidelik of desperaat ek klink dit is die verkeerde papertjie en daar gaan haal sy sommer nog 'n inligtingspapiertjie om my te wys. Ek word daar weg gestuur met ongedane sake. Wel so maklik kry jy my nie onder, ek loop daar weg brommend en sommer omgekrap.

Terug huis toe gaan ek, kry die regte damn papier na 'n gesoek en is toe terug na die ouens toe. Ek staan weereens in die ry om my nommertjie van die rekenaar te kry, ek maak toe sommer dubbel seker ek druk die regte knoppies vir die regte prosedure. Wag weer so 'n kwartier alvorens ek vorentoe geroep word. Ek handig die papiere in en die proses begin van vooraf. Dit lyk of dit dalk makliker sal gaan maar net toe ek dink die geveg is gewen toe word ek hier met 'n linker hou geslaan. Die ouens dink dit toe goed om my met 'n "P" lisensiekaart te verras. Wat die joos is dit die, ek verduidelik dit is onmoontlik. Nou kyk dit is hier waar ek alle rasionele denke oorboord gooi en mooi verduidelik dat ek volgens alle standaarde en norme uit 'n derde wereld land kom, waar rekenaar stelsesl eintlik nie veronderstel is om met mekaar te kan praat nie maar dat dit inderwaarheid eintlik gebeur, en hier in Ozland volgens alle standaarde en norme dit as 'n eerste wereld land gesien word die verskillende state se stelsels nie met mekaar kan koppel nie gaan my verstand te bowe. Elke flippen staat is 'n land op sy eie, die dat dit eintlik 'n mini immigrasie is. In Victoria het ek 'n vol lisensie gehad, geen beperkings en defnitief geen "P's" nie. Nou moet ek weereens bewys lewer van my Suid Afrikaanse lisensie. My moer meter slaan toe heeltemal die rooi en die klokkies lui hard. Geen mate verduideliking kan die mense oortuig dat ek eintlik al in 1996, hoog swanger met die 2ling (seker die beampte het my jammer gekry) my lisensie gekry het nie. Ek moet dit kan bewys en al hoe ek dit kan bewys is as ek my lisensies inbring. Ek is daar uit, gelukkig sonder enige begeleiding, maar jy kon my hoor. Teen daardie tyd kook ek al, maar ek is weereens in my kar en terug huis toe om nog bewyse te gaan kry.

Oppad toe laai ek sommer vir boeta op na sy skof, ek kry my lisensie kaarte, sommer die vorige wat ook al verval het en my ID waarin my oorspronklik lisiensie was. Besluit toe dat boeta moet ook sy leerling lisensie oorskakel en sommer 'n afspraak maak vir sy bestuurslisensie. Terug na die kantore nou is ek gewapen, ek het alles sommer ook die immigrasie brief wat die visa goedkeuring gee.

Terug by die kantore, herhaal die proses om my nommer te kry en wag weereens. My nommer word geroep en ek is gereed vir die geveg wat dalk mag volg. Ek kan sommer sien die gemoed sak op die gesigte, dis nou my vierde persoon en almal is in 'n ry. Ek praat toe baie stadig, mooi hard en duidelik om enige misverstand uit die weg te ruim. Dit vat die dame 'n tydtjie om alles deur te werk, vrae word gevra en nog inligting moet ek neerskryf op die vorm, daar is nie plek nie maar ek vul in. Dit lyk skoon of ek besig is om my pedigree daar uit te le net om my lisensie te kry. Uit eindelik na vyf ure van in en uit die kantore het ek my lisensie.

Geboorte gee was beslis 'n makliker ervaring.

Alex se omskakeling was 'n natuurlik pynloos want ek het al die pyne ervaar, maar die voertuig se reigistrasie le nog voor en hier kom vir jou 'n ding. Hieroor later.

Sunday, December 18, 2011

Sydney het nuwe intrekkers

Wel ons is darem nou almal uit eindlik hier in Kersiefontein - Sydney, die heen en weer gevliegery tussen die twee stede kan nogal uitputted op 'n mens se gestel raak.

Die trekkery het darem afgeloop sonder enige voorval en die aflaai aan diekant het goed verloop met boeta wat maar moes bont staan om dinge georganiseer te kry. Dis net jammer dat ons internet verskaffer nie werk gedoen het en die installasie behoorlik gedoen het nie. Nou sal ons moet wag tot die nuwe jaar as ek dinge so uit kyk. Ek kan mos nie my poppe uit die pram gooi nie, hulle verstaan nie my bliksem en donner, so aan die einde van die dag is ek nog steeds daarsonder.

Uit eindlik het elke kind weer sy eie kamer en boeta sy eie badkamer. Dit het nogal woes geraak met drie tieners meisies en 'n tiener seun wat almal moet tandeborsel en wie weet wat nog in een badkamer.

Die eksamens is verby en nou wag ons maar vir die uitslae. Boeta sin lyk nie te sleg nie, maar hy het geleer dat die pad nie maklik is nie. Hy het maar op die moeilike manier geleer dat elke besluit wat geneem word sekere gevolge het. Hy het twee vakke opgeskop en dit opsig self was dalk nie so erg, maar nou moet hy in jaar 12 harder werk en 'n ekstra vak optel om genoeg krediete te kry. Slim van toe sy baas.

Die kinders sal almal na Cherrybrook Technology Highschool toe gaan en dit is loop afstand van ons huis af. Dit is omtrent dieselfde afstand as wat die kinders elke dag gestap of fietsgery het in Centurion.

Die vakansie gaan ons maar besig wees met dekorasie dinge, die meisies wil hulle kamers bietjie opdolly, so ons gaan maar die opshops bietjie deursoek vir goedkoop artikels wat kan afgeskuur word en dan verf. Ons het 'n paar goeie idees gekry met verskillende vorms rame en wie weet dalk klim daar 'n aspirant binneshuis versierder uit hierdie hele proses.

Boeta het gelukkig maklik 'n oorplasing na Cherrybrook se Woolworths gekry so ek hoop maar in my stilligheid dat hy genoeg skofte in die week kan kry sodat ons 'n bietjie rus en vrede kan kry. Ons moet gereeld hoor ons is oud, dit omdat ons nie altyd lus het om laat aand te gaan kapperjol nie. Die mannetjie slaap tot na tien in die oggend en drentel dan so stadig boontoe opsoek na kos, ons is dan al lankal klaar met dinge wat ons wou gedoen het. So ons stille gebed is maar dat die skofte gereeld dalk hier van middag tot laat aand kan wees, hopelik ook 'n paar middernag skofte, dalk sal ons minder hoor hoe boring ons is.

Die week moet ek plan maak en kerspersente gaan kry, dit voel vir my of dit al hoe moeiliker raak soos die kinders ouer word. Mens weet werklik nie meer wat om te kry vir hulle nie. Die sagte hints wat so hier en daar gegooi word om te probeer bepaal wat is die "must have" ding vir die jaar loop uit elke keer om niks. Dit gaan beslis 'n moeilike jaar wees.