Sunday, November 1, 2009

Wel hierdie week het ook gekom en gegaan met soveel spoed dat jou kop eintlik spin. Christiaan was die week op uitstappies gewees en het meestal baie moeg by die huis aangekom. Die eerste dag het hulle fiets gery vanaf die skool tot in Melbourne stad. Dit was die hele pad deur verskillende parkies en fietsry paadjies. Van waar ons bly kan jy tussen die verskillende "reserves" stap tot binne in die stad. Dit is omtrent so 30km tot binne in die stad. Christiaan was die dag so moeg hy het by die huis gekom en seker dadelik gaan slaap na aandete. Gewoonlik het hy nie in die bed gekom tot so voor elf nie.

Vir Dinsdag en Woensdag het hy op 'n roei uitstappie gegaan. Hulle het al die pad met die Yarra rivier geroei tot by hulle oornag verblyf en toe weer terug. Hy het dit so geniet dat hy amper 'n ander kayak gesink het. Hulle het 'n speletjie genaamd "Fruit Salad" gespeel en met die gespelery tussen die kayaks deur het hy die een so getrap dat dit skeef gekantel het en skielik water aangevat het. Donderdag moes hulle elkeen met die trein ry (op sy eie) tot by Flinders stasie in Melbourne waar hulle die onderwysers ontmoet het. Vandaar het hulle op 'n bootvaart gegaan vir die oggend. Vrydag het hulle op 'n bustoer gegaan. Het nie veel inligting gekry oor dit nie aangesien hy die middag skaars by die huis aangeland het toe toe weer vort is om te gaan kamp saam vriende.

Anli Roelofse het die taak op haar geneem om alles wat ons mag benodig vir die huis te organiseer. So het ons almal beddens met beddegoed, die kombuis het al sy benodighede wat jy kan aandink, daar is 'n bank en 'n paar poefs vir die kinders om op te sit en tv te kyk. Daar is 'n yskas, staal tafel en plastiek stoele vir die eetkamer. So sal ons regkom tot ons eie goed arriveer. Nou is dit net seker maak dat ons 'n wasmasjien, tv en eetkamer tafel gaan koop aangesien ons dit nie saamgebring het nie. Wie weet dalk, net dalk tel ek iets langs die pad op.

Met hierdie hele getrekkery het ek weereens gevind daar is mense wat meer as bereidwillig is om te help, of hulle jou nou ken of nie. Of dit nou een of twee goed is of selfs amper 'n hele kombuis vol goed, die mense is vrygewig. Anli is die tipe mens wat dinge laat gebeur. As 'n ding nie uitwerk is daar altyd nog iets wat sy sal probeer, sy gaan le net nie. Ons gesin is voorwaar geseend om haar familie te ken.

Ons het 'n bietjie gaan stap (dis nou ek, Alex en die 3 meisies) in die verskillende parkies hier in ons omgewing en die kinders het heeltemal mal gegaan op al die swings en glyplanke. Ons was seker 'n goeie uur of selfs langer weg gewees. (Sal foto's laai) Dit is voorwaar nog party dae moeilik om te glo dat mens hier kan rondstap, van een parkie na 'n ander, en nie bang hoef te voel dat iets met jou sal gebeur nie. Jy voel werklik sorgvry, en kan asemhaal sonder om heeltyd jou omgewing te scout vir enige moontlike ongure karakters wat dalk net iewers kan skuil.

Net soos in Suid Afrika is hier tog ook maar misdaad. Enige iemand wat hiernatoe kom en dink dit is nie die geval nie is in vir 'n surprise. Hier vind jy ook maar dat in sekere gebiede die Australianers nie tyd het vir immigrante nie en die ouens word fisies aanval. Hier is ook gevalle waar daar by trein stasies mense aangerand word en besteel word. Partykeer kom soek moeilikheid vir jou en dan moet jy maar gereed wees.

Ek moet tog vir julle vertel van die storie oor Celeste en assasins. Celeste kom een middag by die huis en vra wat is assasins. Nou probeer Alex en ek bepaal in watter konteks bedoel sy assasins. Het sy die woord gehoor en verstaan sy dit nie, weet sy nie wat dit beteken of wat. Sy wil toe weet watter mense is assasins. Nou probeer ons verduidelik dit kan enige tipe mens wees. Nee antwoord sy daar is dan assasins in haar skool. Duidelik is ek en Alex toe heeltemal deurmekaar. Wat bedoel sy daar is assasins in haar skool? Dis 'n skool vol kinders, waar kom die Assisins vandaan? Was daar 'n infiltrasie van karakters of onderwysers waarvan ons nie bewus is nie. Sy verduidelik toe vir ons wat sy bedoel . . . . . . duidelik is vertaling nog 'n probleem.

Die einde van die storie is sy wou eintlik weet wat of wie is Asiers!

Tot volgende keer.

No comments:

Post a Comment