Sunday, May 8, 2011

Winter sport

Die skool het die afgelope week begin en dit was lekker om die huis eintlik weer vir myself toe te eien. As die kinders op vakansie is dan is mens se ritme heeltemal uit en dit voel asof jy nie rigting kan kry in jou daaglikse take nie. Hulle tref reelings met maats vir allerhande uitstappies regoor Melbourne en die mataxi moet regstaan om hulle te vat. Dankie tog partykeer vir die goeie publieke vervoerstelsel wat ons het. 'n Paar keer moes hulle maar bus vat om by hulle bestemmings te kom, en hier kan jou kaartjie jou vat op die trein, tram en bus.

Die eerste week terug by die skool en die kinders het atletiek gehad op Olympic Park. Wat 'n koue dag was dit nou in die stadion. Ek het maar voorsiening gemaak en ekstra komberse saamgevat. Vir mense met kinders wat redelik sportief is, is die manier hoe sport in skole hier plaasvind genoeg om enige iemand behoorlik die josie in te jaag. Skoolsport in SA is goed, hier is dit absoluut 'n bysaak. Die kinders hier sien dit as 'n beslommernis en tydens byeenkomste dan sal hulle sommer nie opdaag of selfs probeer uitruil met ander kinders net omdat hulle te flippen lui is. Hier is dit nie 'n eer om jou skool te teenwoordig nie, nee dis te "gay" volgense die klomp woesies. So as jou kinders sport mal is soos myne dan moet jy maar seker maak dat jy sportklubs ook navors. Die kinders het goedgevaar in hulle items, Celeste het 4 eerste plekke, Nicolette het 2 derde plekke en 1 eeste, Clarissa het 2 derde plekke en 1 tweede plek en Christiaan het 'n tweede plek gekry. Ek is nogal 'n trotse ma op my sport kinders.

Die meisies het weer aangesluit vir die hokkie se winter seisoen by Doncaster hokkie klub en dit gaan uitstekend tot dusver. Hulle speel vir die onder sewentien meisies span en het tot nou toe al hulle wedstryde gewen. Die girls geniet dit en dit is nie so erg kompeterend soos wanneer hulle gemeng speel nie. Met die gemengde spanne moet die meisies met die seuns in hulle span veg en met die ander span. Die meisies speel lekker as 'n span en hulle werk goed saam met mekaar. Elke Vrydagaand tot middel September is ons langs die hokkieveld in die koue, genadiglik het die reen nog nie uitgesak nie, maar ek glo dis nog op ons pad.

Die meisies speel ook netbal vir die winterseisoen en tot dusver gaan dit goed met Clarissa se span, hulle het al reeds een liga opgeskuif aangesien hulle die ander spanne behoorlik pakslae gee. Die 2ling se span vaar ook nie te swak nie en die twee maak amok binne in die sirkel. As altwee verdedigers speel dan kan die bal nie by die doele uitkom nie, dit is 'n frustrasie vir die ander spanne en dan kom die "bogans" in die ander kinders te vore. Die girls lag dit maar af en geniet dit as hulle spel die ander forseer om foute te maak.