Sunday, August 1, 2010

Besige naweek

Partykeer gaan mens ‘n naweek in en jy wonder waarmee jy jouself sal besig hou, en ander kere is dit so besig dat jy nie kans kry vir ‘n bietjie rus nie. As jy jou oë uitvee dan is die naweek verby en jy is eintlik pootuit en dit voel of jy niks rus in het nie.

Ons het hierdie naweek so ‘n besige een beleef. Vrydag aand is ons na’n 40ste verjaarsdag partytjie, nogal dressup, het eers na een in die bed gekom, Saterdag het die kinders weer Lake Mountain toe gegaan vir ‘n lekker tydjie in die sneeu, ons het huise gaan soek, en Sondag was dit kerk toe en daarna ‘n lekker gesellige braai by die kerk, later die middag is ons na ‘n restaurant toe vir lekker koffie en koek saam nog ‘n verjaarsdag maatjie.

Ek het begin om op Vrydae pottery klasse te doen, en mensig is dit nou lekker. Die gespeel met die klei het ook ‘n kalmerende invloed op ‘n mens. Ek weet net nie hoe die goed gaan lyk wat uitkom aan die einde van die dag nie, maar hopelik bars alles darem nie wanneer dit uit die oond gaan kom nie. Ons sal maar sien.

Die week het ek bietjie in die “op shops” gaan inkopies doen. Die “op shops” hier is maar tipies soos die tweede handse winkels daar in SA, maar die verskil is hier gee jy al jou ou goed af by die winkels wat dit dan weer verkoop om geld in te samel. Al die “op shops” is maar ge-affilieer aan een of ander gemeenskaps / welsyns organsies. Hier is baie SALVOS en hulle die Salvation Army se geldtrommel winkel, dan kry jy natuurlik die Rooikruis ook. Jy laai al jou werkende aparate, heel en netjies klere, skoene en handsakke, fietse en speelgoed, breekware en ander nonsense af, die ouens sorteer dit uit, tag dit en sit dit op die rakke om verkoop te word. Hier kan jy enige iets van die grootste stuk gemors tot die mees ladiedaste ontwerpers pakkies kry. Wel so het ek nou gesoek vir iets vir ons “dressup” 70’s verjaarsdag partyjie waarna toe ons uitgenooi is. Ek het van die een winkel na die ander winkel gery opsoek na die mees uitspattigste en physicadelic klere. Ek het dit gekry en mensig mense was dit nou prêt. Dit voel partykeer soos Pandora se kis as jy in so ‘n winkel instap, want jy weet nooit met was jy daar gaan uitstap nie. En die kyke wat jy kry as jy met die klere daar uitstap is lagwekkend. Die mense dink seker jy het geen dress sense nie. Dis nou jou dressup klere.

Niemand kyk jou skeef aan as jy klere daar koop nie, baie mense koop hulle klere so. Hier leer jy maar vinnig waar om te gaan inkopies doen. Die wen situasie van so ‘n winkel is dat indien jy op ‘n plek is en dalk te min warm goed ingepak het kan jy vinnig in die opshop in glip en vir jou iets warms kry teen ‘n dollar of twee. Daar is letterlik op elke dorpie ‘n opshop. Hier het ouens al ontwerpers handsakke gekry, skoene wat nog nooit gedra is nie en die mooiste leer belte. Dit is mos so, ‘n ander ou se gemors is baie keer vir jou goudwerd.

Saterdag was dit vroeg opstaan, skaars vyf ure se slaap weg gehad na die vorige aand se lekker party, die kinders is saam met die kerk se jeug Lake Mountain toe vir die dag. Die kinders het weer lekker in die sneeu gaan speel en natuurlik pootuit by die huis aangekom Saterdagaand.

Sondag het ons kerk toe gegaan en na kerk het ons lekker gebraai saam met die ander mense in wyk. Meestal van die mense is maar Suid Afrikaners en hier en daar ‘n Ozzie. Dit was nou lekker kuier so by die kerk waarna ons huistoe is seker so halfdrie die middag. Vieruur het ons gaan koffie drink in ‘n restarant om nog ‘n vriendin se verjaarsdag te vier. Daar het ons seker gekuier tot so sesuur die aand. Wat nogal lekker aangenaam was is dat die die waitress ‘n Suid Afrikaanse meisie was. So bestel jy sommer vinnig deur en sy verstaan jou moedertaal so mooi.

Vanaand besef ek weereens hoe vinnig verloor die kinders hulle Afrikaans. Clarissa sit hier by my op die bed en ons lees uit die vertalende en tweetalige woordeboek, dat sy nie eens die afrikaanse woorde mee reg kan uitspreek nie, sy is opsoek na die betekenis van ‘n “cult”. Selfs wanneer sy engels praat draai en rol sy die woorde soos die Ozzies dit doen. Haar maats sal nie glo hoe verengels sy nie.

Saterdag het ons weer bietjie na huise gaan kyk. Ons is opsoek na ‘n groter huis sodat die tweeling elkeen hulle eie kamer kan kry en hopelik ‘n ekstra badkamer. Nou dis makliker gese as gedaan. Meestal van die huise wat geadverteer word op die internet is eintlik maar vierslaapkamers en ‘n studeerkamer, en nie vyfslapers soos hulle dit adverteer nie. So sien ek toe op die internet na ‘n huis wat noem dat dit beslis vyfslaapkamers is en die eiendom is “resort style”. Die prentjies op die internet is so mooi en ek wil amper opgewonde raak. Ek kontak die agent en ek kan Vrydag gou na die huis gaan kyk, ek is skoon opgewonde. Nou kom ek vra julle die vraag, het julle al ooit na huise gaan kyk, te huur of te koop, en daar uit gestap met die gevoel van kots wat in jou keel vassit. Wel dis hoe ek gevoel het nadat ek uit die “resort style” huis uit gestap het. Mensig mense julle het nog nie vuil gesien nie, vuil stink en absoluut grillende van kop tot tone. Hoe die mense in die eerste plek hulle huis kan oopgooi vir ander mense om daardeur te stap gaan my verstand te bowe, nie eens op my slegste week en luiste dag sal ek dit waag om my huis oop te gooi vir ander ouens as my plek so lyk nie. Ek is seker die goed wat in die toilet se bak groei is lewendig en sal jou in die boud hap. Die huis is ‘n health hazard vir enige iemand wat daardeur stap. Ek voel skoon ‘n stuk wortel in my keel in opstoot net deur daaraan te dink weer.

Wel hopelik sal ons ‘n ander huis vind, en as ons dan ook nie is dit ook goed so, maar ek skuif nie sommer gou as dit die tipe huise is wat beskikbaar is nie. Dalk moet ek vir julle foto’s wys van hoe lyk ‘n huis wat deur die agent op die web geplaas word teenoor hoe die huis eitnlik lyk, dalk sal julle die penarie verstaan waarin mens is. Nee wat sluk sluk, ontspan en dink aan die see, dis beter daar sak die wortel.

Groete aan almal hier uit ‘n koue en nat Melbourne