Sunday, October 11, 2009

Week 2 se storie


So hier kan jy nie net na 'n skool van jou keuse gaan en jou kinders inskryf nie. Nee, hier is dit 'n proses. Jy bel die skool en laat weet hulle jy wil jou kinders inskryf. Die skool bel jou terug met 'n afspraak om die skool aan jou bekend te stel. Jy skryf nog nie die kinders in nie. Die skool word aan jou gewys en vertel hoe dinge daar werk. Dan is dit 'n kwessie van het julle plek vir jou kind. Jy loop daar weg en wag weereens dat die skool na jou terugkom oor of daar plek is. Indien daar is dan het jy weer 'n afspraak, hulle het dan 'n interview met die ouers en dan besluit hulle wil hulle jou daar akkomodeer, dan as hulle jou wil he kan jy jou kinders inskryf. Proses ja, maklik nee, net frustrasies. Wat dit nog erger maak is as jy jou kinders in 'n staats skool wil inskryf kan jy dit ook nie net sommer doen nie, jou adres moet in die zone val van die skool. Dan moet jy 'n permanente adres van ten minste 12 maande wys alvorens hulle 'n afspraak met jou sal maak. Hulle wil jou glad nie eers sien. Grappie, nee net groter frustrasies, die dat ons maar na 'n privaat skool is met die kinders.

Dit het ons presies 'n week gevat om die kinders in 'n skool in te skryf. Die skool waarna toe die kinders gaan is Donvale Christian College. Blykbaar baie goed en daar is baie Suid Afrikaners in die skool. Die kinders behoort tuis te voel. Hier kan die kinders ook nie buite speel sonder dat hulle hoede dra nie. Daar word elke dag gekyk of die kinders se hoedens in die sakke is, indien nie mag hulle nie buite speel nie. Hulle is veral streng met die junior kinders, maar nie soseer met die seniors nie.

Die skool is deur die ouers gestig in die 1960's en word deur die ouers gerun, besluite word deur die ouers geneem, maar die hoofde bestuur die skool andersins.

Die junoirs het 'n diere plaas waar hulle na verskillende diere kan omsien. Die seniors veral die Gr9's het 'n ekologiese benadering en hier word in verskillende fassette na die omgewing omgesien. Die Gr9's het hulle eie skoolgebou weg van die res van die skool. Christiaan is nogal beindruk hierdeur. Die kinders plant soos byvoorbeeld groente ens, sien om na diere (alpackas) en die entrepeneurskap van hulle word uitgebrei. Hier word 'n ander benadering gevolg vir die kinders om hulle nogsteeds in skool geintreseerd te hou.

Ons het ook na 'n paar huise gaan kyk, maar hier is nie sulke groot huise soos waaraan ons gewoond is nie. Jy sal 'n groot huis kry, maar jy is gelukkig as jy meer as 2 badkamers het. Ons het aansoek gedoen vir twee huise, ons eerste opsie het ons nie gekry, maar wel die volgende een. So einde van Oktober trek ons na 'n lee huis. Ons sal dan vir 'n paar weke moet kamp totdat die container kom. Hier leen die mense vir mekaar meubels en die nodige kombuis goed tot jou goed kom. Party van die huise is ook maar in 'n toestand. Omrede die huise maar van hout gebou is, is baie vervalle en die binnekant kort bietjie aandag. Baie huise kry jy die idee dit is maar oeserig (sleg), totdat jy binne is dan weerspieel die binne kant nie wat jy buite gesien het. Die afwerking binne is gewoonlik baie goed. Die badkamers is baie klein en gewoonlik twee, baie min dat jy meer as twee sal kry.

Ons het die kinders na Melbourne stad gevat. Ons het by Queen Victoria Park gestop en 'n bietjie daar rondgeloop. Kyk hierbo en sien hoe mooi groen lyk alles op die stadium. Die park is rustig en jy kan ontspan en piekniek hou of net rondloop. Ons het vir so 'n paar uur hier gespandeer, die kinders het op Federation Square gesit en gekyk na 'n comedian terwyl hy sy show hou. Dit was groot pret. Ons het later die middag na St Kilda gery by die see en middag ete daar gaan geniet. Bietjie koud nog, maar as dit eers somer is die see sommer naby vir 'n lekker swem.

Ons het kerk toe gegaan vanoggend, dit is nogal 'n aanpassing om alles in engels te moet doen. Die kinders het sondagskool gehad, maar Christiaan sal eers volgende week aangesien ons vandag nagmaal gehad het. Die predikant is 'n Afrikaner, maar preek in engels. Sy vrou Ina het ek in die week ontmoet tydens 'n bybelstudie byeenkoms. Hier is baie Afrikaanse en Suid Afrikaanse mense in die gemeente. Brendina en Marius Burger het ons in Februarie ook hier gehad toe ons kom kyk het hoe dit in Australia lyk en waar ons wou settle.

Ons het ook vir 'n piekniek gegaan by Lysterfield Park Reserve. Hier het 'n klomp ou Suid Afrikaners vir die Sondag bymekaar gekom en net lekker gekuier. Hier het ek darem 'n paar bekende gesigte raakgeloop wat ek vroeer in die week ontmoet het. Dit is nou mense wat 'n vriendin wat ek in Februarie ontmoet het my aan bekend gestel. Anli en Schalk Roelofse het in Desember 2008 hier geland. Sy het alles alleen aangepak terwyl Schalk nog kontrak werk in Afrika gedoen het. Dit was sommer lekker om by 'n vreemde plek te kom en dan boonop bekende gesigte te sien. Van die mense se kinders is ook in Donvale Christian College en toe maak die kinders sommer maats met kinders van hulle ouderdoms groep. Alex het ook lekker ontdooi en saam met 'n paar manne gestaan en kuier. Dit is altyd lekker as jy sien jou familie vind die samesyn met ander mense ook lekker, veral vreemde mense.

Ons het heerlike samoosas ge-eet en aan ander mense se kosse gepeusel alvorens ons kos reg was. Het Yvette en Alex haar man ontmoet, dis nou die mense wie se fiets ons saam ingepak het in die container. As ek so na die mense se kinders luister en die aksente dan tel die kinders die Ausie slang vinnig op.

Wel die komende week gaan die kinders tenminste begin met skool dan kan ek en Alex begin om aandag te gee aan ons lisensies. Dit gaan pret wees.

Groete tot volgende week.
















No comments:

Post a Comment