Sunday, June 12, 2011

Eie tyd

Wanneer jy met vier tieners in die huis sit dan kry mens nie te veel eie tyd nie. Daar was nogal baie spottery gewees met my oor ek graag verwys het na my bestuur tyd as my "eie tyd". Dis as ek nou die snelweg aangepak het vanaf Centurion na Johannesburg middestad. Dan het ek tyd gehad om sommer net aan niks en alles te dink, partykeer kan ek nie eens onthou hoe het ek van punt A to by punt B gekom nie.

My "eie tyd" was baie heilig gewees, mense moes nie inbreek maak op dit nie want dan was ek sommer goed beduiweld gewees. Donderdae het ek Alberton toe gery na my klient daar en my gunsteling stop plek was natuurlike by Wimpy. Ek het gewoonlik 'n koffie en 'n geroosterde broodjie bestel, bacon en eier. Hier het ek nog nie 'n plek raakgeloop wat behoorlike roosterbroodjies maak nie, twyfel of dit ooit hier in Melbourne bestaan.

Die naweek het ek en Alex bietjie "eie tyd" gehad en skielik was ons lewens baie ongekompliseerd. Die stryd wat ons gewoonlik het om die vier tieners in die kar te kry om iewers heen te gaan is 'n taak wat mens nie sonder handskoene kan aanpak nie. As dit nie die hormone is wat elke vraag in 'n situasie sit wat die Palestina kwessie na babaspeletjies laat lyk nie dan is dit kwessie van wie bestuur. As dit te lank vat om die antwoord te gee of as dit te vinnig ge-antwoord word dan het ons 'n tipiese situasie wat vergelyk kan word met die spaanse buffel geveg.

Nodeloos om te se, ons het alles gedoen sonder om twee keer te dink, ons het die hele Saterdag in die stad gespandeer en eers na donker tuis gekom. Ons het weer soos tipiese toeriste die toeriste bus gevat en na al die besienerswaardighede gekyk, ons het ook die Melbourne Gallery besoek en vir ure daar rond gedwaal. Later het ons middag ete gaan geniet by die Meat and Wine restaurant en wat 'n breeze was dit nie om 'n bestelling te kon plaas in 'n japtrap. Die res van die middag het ons rondgedrentel tussen al die stegies en ons het selfs die nuwe Myer winkel betree. Dis 'n warboel van mense wat in en uit die plek. Wat 'n ongelooflike groot plek is dit nie. Dit het my laat terug dink aan die laat tagtiger jare toe daar nog 'n groot Edgars met 'n paar vloere in Johannesburge se middestad was. Ek dink dit was in Commissioner of Market, te lank terug om mooi te kan onthou. Die beste was toe ons natuurlik die Lindt winkel in Collins straat besoek het, hulle het beslis die lekkerste warm sjokalade drankie.

Vandaar het ons die City Circle tram gevat terug Docklands toe om ons kar te kry. Die goedkoopste parkering is maar in Docklands, en vir $5 kan jou kar daar staan vir die hele dag.

Sondag het ons lekker laat geslaap. Toe ek die gordyne ooptrek en die mis le dik toe lyk dit sommer na 'n koue dag, maar ons is op en het na die Craft mark gegaan by die Mornington Peninsula racecourse. Wat 'n lekker uitstappie. Die son het helder geskyn en op 'n stadium het ek so warm gekry ek moes begin uittrek. Gelukkig leer mens vinnig hier om in lae aan te trek wat jy dan weer van kan ontslae raak indien die weer dit toelaat. Die kreatiwiteit wat die mense aan die dag le is ongelooflik. Dit het my baie laat dink aan die Irene Mark in Ceturion, alles by die mark is handgemaak of varsgebak. Geen "made in China" goetertjies sal jy hier raakloop nie.

Middag ete het ons sommer heerlike wegneem vis en skyfies gehad en op die gras gaan sit en eet waar ons oor die see kon uitgekyk. Dis mos nou die lewe.

No comments:

Post a Comment