Sunday, January 23, 2011

Verval van roetines



Wat 'n heerlike warm sonskyn naweek was dit nou nie. Mens raak weer so vasgevang in jou daaglikse roetines dat jy vergeet om te leef. Dis elke dag dieselfde dinge oor en oor, dit raak vervelig. Hierdie naweek het ons bietjie uitgegaan en gaan kyk wat bied Melbourne mens.

In en om ons is daar 81 verskillende parke en reserves waarna toe ons kan gaan, dis nou om te stap, fietsry of net lui lekker op die gras kuier en piekniek hou. Dan praat ek nog nie eens van al die plekke in die weste of die ooste nie. Hier is 'n magdom plekke om te gaan besigtig.

Saterdag was ons na die Science Museum toe en daarna het ons weereens die middestad van Melbourne getrotseer, dis altyd so lekker om daar te gaan stap. Ons het nie minder as 5 verskillende bruide gesien in die een straat wat ons afgestap het. Almal van hulle wou foto's neem by die grafitti mure, nou nie my cup of tea nie, maar hey ons almal hou nie van dieselfde goed nie. Iedere en elkeen van die ouens het in lang slap limousines gery. Daar was ook 'n paar wat in ou Chevies gery het en natuurlik die "Mafia" karre. Op Federation Square was daar 'n hele blok gereserveer vir die ouens wat die tennis op die grootskerms wou kyk. En mensig sit die ouens nou gepak daar op die grond en tennis kyk. Die son het natuurlik 'n hele paar manne lekker bygekom, dit was redelik hittig so in die ooptes.

Sondag het ons sommer strand toe gegaan. Ons het die pad gevat Frankston toe en sommer die afdraai gevat na Carrum strand toe. Wat 'n lieflike strand, dis 'n lang oop strand wat vir kilometers strek. Ons het gesit so by die mond van Paterson Lake en kyk na al die bote wat in en uit vaar, en mense het ons 'n klomp stunning bote gesien. Die see is rustig genoeg sodat jy ook jou kyak kan vat en bietjie inroei na die golwe toe, maar nou nie dat daar eintlik golwe is so in die baai nie.

In die rukkie wat ons daar gesit het, het die Rangers opgedaag en so deur die strand gery met hulle quad bikes. Dit was nogal amusant gewees om te sien hoe die jonges skielik hulle bottels wegsteek, party het sommer dit in die asblik agter ons gaan leeg maak. Die strand waarby ons was word honde nie toegelaat nie, nie eens met 'n leiband nie. Daar was natuurlik die paar wat die reel nie nagekom het nie, en die rangers het die ouens beboet daar en dan op die spot, die honde is op leiband gesit en verwyder van die strand. Party manne was nie baie happy nie, veral oor die een ou wat weggekom het sonder 'n boete. Die ou se honde het mooi stil gesit so tussen hom en die baba se pram, so die rangers het dit nie gesien nie. Toe die rangers weer pad vat het hulle maar suutjies hulle goed opgepak en die strand verlaat. Goed om te sien dat wet en orde toegepas word sonder enige argumente.

No comments:

Post a Comment