Sunday, March 14, 2010

Die week het die 2ling hulle eerste verjaarsdag in die vreemde gevier. Dit het nie te sleg gegaan aangesien hulle goed in sport gepresteer het die dag en hulle nie hoef skool te gegaan het nie. Ons het hulle uit gevat vir aandete by Melissa's, die kos is nie te duur nie en een porsies is groot genoeg vir twee mense, nie dat hulle deel nie.

Dit was ook maar 'n relatiewe stil en rustige naweek gewees, nie te veel opwinding vir die gesin gewees nie. Ons het wel die Kampeer skou bygewoon en mensig was dit nou 'n belewenis gewees. Die skou het so halftien oopgemaak en teen die tyd wat ons gearriveer het so net na tien was dit al 'n gerumoer van mense. Hier was nou 'n goeie mengsel van mense en almal het een of ander belangstelling gehad in die skou.

Hier is kampeer groot, en ek bedoel dit is groot. In Suid Afrika het jy Jurgens, Sprite en Gypsey en eintlik wapper die vlae onder een vaandel. Vir die drie brands kry jy miskien 3-5 verskillende tipe waens en verder is die waens almal presies dieselfde, hier is geen variasie op die verskillende reekse nie. Wat ek hierby bedoel as jy 'n Penta koop weet almal hoe die uitleg is, daar is nie opsies op die uitleg nie. Of dit nou funksioneel is of nie, dis wat jy kry en jy kies maar op die ou einde maar wat die reeks wat vir jou werk. Wel jy't gedink jy het 'n wye keuse in die drie, maar mense julle het nog nie die mense aan die kant van die water gesien nie.

Hier is waens op waens op waens, nog verder aan kry jy 'n reeks en in die reeks kry jy 3-4 verskillende variasies. Hier is seker 10+ verskillende karavaan vervaardigers en dan natuurlik ons getroue ou Jurgens. Laat ek julle maar vertel, die ouens kan gaan slaap, Jurgens kan nie kers vashou by die ouens nie. Die vervaardigers mag dalk nou nie so aerodinamies wees soos die Jurgense nie, maar hulle weet van wat die mense soek. Hulle is nie skaam om uit te haal en te wys nie. Ons monde het behoorlik gekwyl oor alles wat beskikbaar is en hoe heerlik ruim en funksioneel alles is. Ons het ons karavaan gesien wat ons wil koop. Dit sal eintlik eers kan gebeur wanneer ons huis gekoop het, so tot dan toe sal ons maar net kwyl.

Nou daar was nie net waens nie, daar was tente, trailers en dan natuurlik die eye candy wat elke ou hier in sy binneste maar oor gekwyl het. Die Campervans. Hier is ook so 'n groot variasie verskillende vans dat mens naderhand nie meer kon kyk nie. Dis die basiese funksionele bussie tot die uiters luukse amper designer huis op baie wiele. Dis luuks en mooi, met leer sitplekke, die nuutste plasma skerms, sitkamer, slaapkamer, badkamer en kombuis. Dis ultra modern en vrek mooi, en natuurlik die mooiste deel is die price tag. Die tag is so groot jy kan dit omtrent nie optel nie. Dan begin jy maar droom oor die dag as jou skip inkom en dan stap jy maar uit die lokaal want die droom gaan maar net 'n droom bly want die price tag het nie gehoor van die finansiele krisis waardeur die wereld is nie.

Daar was ook 'n groot gedeelte wat afgebaken was net vir toerisme. Hier het elke streek kom uitstal en ook kom wys wat aan die toeriste gebied word. Hier land is eintlik so groot dat mens in jou leeftyd nie by al die plekke sal kan uitkom nie. Jy moet omtrent 'n profesionele toeris word net om alles te sien en te beleef hier. Net hier in Melbourne / Victoria alleen is daar soveel streke met wynplase, strande, reservate, riviere en kampeerplekke dat ons dit verseker nooit alles sal sien nie, maar ons gaan vrek hard probeer. Ons het soveel boekies met inligting gevat dat ons nooit vervelig behoorte te wees tydens enige naweek nie, ons behoort elke naweek besig te wees met al die natuur atraksies wat ons streek ons bied. Dan praat ek nie eers van al die ander skoue en buitelug aktiwiteit wat op 'n gereelde grondslag hier aangebied word nie.

Teen die middag was ons nou redelik gatvol vir die geloop en ons het nog nie eens die helfte van die karavane besigtig of al die nuutste gadgets gesien nie. Die plek was net so groot met so baie dinge dat mens dit nie in eendag kan besigtig nie. Daar kom weer later in die jaar so 'n skou dan sal ons dit maar beter beplan en dit dalk oor twee dae doen.

My ma is ook beter, sy's uit die hospitaal en hopelik sal dit so bly.


No comments:

Post a Comment