Saturday, April 23, 2011

Dis langnaweek

Dis Paasnaweek en die winterkoue kom sit sommer so lag lag om jou beendere en omhels die vetlaag om jou heupe. Ek dink nie mens sal genoeg vet hier kan opbou om jou teen die koue te beskerm nie, dit het ‘n manier om hulle weg te vind tot teen jou gebeendere. Dalk moet ek iemand kry om vir my ‘n botteltjie van Boplaas se port diekant toe te stuur, dit mag dalk net help teen die koue.

Ek dink nie ons sal ooit moeg raak vir die middestad nie, jy kan soveel keer die strate binnevaar en elke keer anderkant uitkom en iets nuuts ontdek. Vroegoggend is ons op en het ontbyt op Federation Square gaan eet, moet sê ek mis die Wimpy ontbyte op sulke dae, en later toe vaar ons die stad in na Chinatown toe. Huidiglik is die Comedy Festival hier aan die gang en die strate rondom die stad het orals “makeshift” verhoë en die mense stroom na die laaste paar opvoerings toe. Hier word na almal se smake omgesien, van groot tot klein.

In Chinatown is daar ‘n paar interresante winkels en die kos word sommer ook so in die vensters uitgestal, ek dink nie ek sal sommer daar in stap vir iets te ete nie. Wie stal nou sy kos so uit vir almal om te sien, dis genoeg om vir my die rillings te geen. Dink net hoe sal Spur se vertoon venster lyk met al die verskillende disse so uitgestal vir almal om na kyk, ek kan beslis die prentjie in my kop skilder.

Ons het weer deur een van die grafitti lane gestap terwyl van die kunstenaars besig was om van hulle nuwe kunswerke te skep. Dit is baie interresant om te sien hoe die ouens werk en hoe vinnig met die gespuit van die verf deur die geoefende hande iets baie kleurvol en uniek gemaak word. Die ouens kom met ‘n klomp spuitblikke verf daar aan en het geen idée wat hulle vandag gaan doen nie. Die hele kunswerk word sommer so rofwerk gedoen en dan later aan word dit met meer diepte en kleur gevorm en die uiteinde is beslis iets om te aanskou. Die mense stroom na die lane toe, selfs bruidspare staan tou om hulle troufoto’s daar te neem.

Ons gaan ‘n bietjie Seymour toe ry vir die dag en kyk wat daar alles te siene is. Dis so 105km van Melbourne af en binneland se kant toe. Moet tog net nie vir my vra of dit Suid of Wes is nie, ek het nie ‘n idée nie. Mens raak nog maar rigting bedinges hier. Piekniek kossies is klaar gemaak en al wat kort is ‘n paar vars rolletjies en koeldrank. Van die dorpies waardeur ons sal ry is Wandong, Broadford en Tallarook, ons sal maar moet stop en foto’s neem. Die area het nogal ‘n ryk en kleurvolle geskiedenis. Meer hieroor later.

No comments:

Post a Comment