Sunday, February 27, 2011

'n Propvol program

Die naweek het vinnig nader gekom, en mense was dit ‘n vol program. Vrydag aand was dit AAMI park en die Rebels, Saterdag het die meisies netbal wedstryde gehad in die middag en Sondag was dit weer piekniek tyd. Piekniek by Hanging Rock.

Na verlede week se verskriklike nederlaag teen die Waratahs het ons nie gedink die Rebels sal enigesins mense trek nie. Groot was die verbasing eintlik toe 15 000 mense die stadion betrek en die atmosfeer weereens elektries was. Die Rebel Army het hulle ding gedoen en die mense lekker opgewarm. Ons het op ons gewone “cheap seat” plekkie gaan sit en die wedstryd met so ‘n halwe beklemming om die hart gekyk. Dinge het so in die begin nie te lekker gelyk nie, die verdediging was nie goed, die spel het maar net nie lekker op dreef gekom nie en so halfpad deur die eeste helfte het ek amper begin moed opgee. Is hierdie nog ‘n vernederende pakslae wat ons sal moet dra het ek so in my binneste gewonder, maar mense het die toeskouers die spelers gedra. Toe daardie eerste drie punte aangeteken word was daar nie keer, die Rebel Army het kom klop. Die gedreun van die kreet het jy oor en oor gehoor, WOW, hier gebeur iets, en jy kry sommer so ‘n lekker gevoel. Met die eerste drie deur die kaptein toe lig daardie dak, nie dat daar ‘n dak is nie, die skare gaan mal en jy sit daar en weet, hierdie gaan ‘n stadion raak waar opposisie spanne heeltemal ge-intimideer gaan word deur die ondersteuners. Met die laaste minute nog op die klok, die spanning wat hoog loop word die wen punte aangeteken, die vibrasie wat jy voel so deur die sement is die ondersteuners se vreugde wat geen perke ken nie. Mense as jy nog nie hoendervleis gekry het wanneer jy so sit en ‘n riller wedstryd kyk nie, dan is jy ‘n klip. Dit is absoluut amazing. Die mense staan bankvas, niemand beweeg, behalwe natuurlik die opposisie ondersteuners, almal wag op hulle span om die “honour lap” te doen. Dit was ‘n wedstryd wat ek nie maklik sal vergeet nie. Ons kaartjies vir 11 Maart teen die Sharks is geboek.

Die 2ling en Clarissa het hierdie naweek hulle eerste netbal wedstryde gehad, daar was hoogte punte en laagte punte. Die laagte punt was die nederlaag wat die 2ling gehad het, ‘n totale “thrashing”, dit was so erg mens kan nie die punte herhaal nie. Hopelik is volgende week se wedstryd beter. Clarissa se span het goed gevaar en hulle het heeltemal oor die ander span geloop en gewen. Die meisies was lekker moeg gewees na die hittige aksie volle dag.

Die Age het weer hulle Harvest Festival aangehad hierdie naweek by Hanging Rock met so om en by 80 stalletjies wat al hulle ware uitgestal het. Ons was vroeg uit die vere om die trein te kry in stad toe van waar ons toe ‘n “country” trein sou gekry het. Aangesien daar op die spesifieke treinlyn gewerk was is ons met busse vervoer. In ons hele reisplan het ons ‘n totaal van nege oorklim punte gehad. Ons is weg by die huis met die kar, trein gery tot in die stad, bus rit tot op Woodend stasie, bus tot by Hanging Rock waar die fees was, terug op die bus na Woodend stasie, trein rit tot op Sunburry stasie, bus tot in die stad, trein terug huis toe, in die kar veilig tot by die huis. Volgende jaar ry ons met die kar tot by Hanging Rock.
Die weer het gelyk of dit nie gaan saamspeel nie, dit het lekker katte en honde gereën hier by ons en dit het mens maar laat wonder wil jy in die reën en modder wees heeldag. As mens jou enigsins aan Melbourne se weer gaan steur dan gaan jy beslis nooit uit die huis kom nie, so ons is toe hier weg met positiewe denke en die hoop op baie wystalletjies. Hoe langer mens hier bly, hoe lekkerder raak die wyne, so die jaar was ons meer genoeë oor die verskillende wyne wat ons geproe het, dis nou al die rooi wyne. Ek dink van al die wyne het Brown Brothers top punte in ons boekies gekry. Die kinders het die dag net so baie geniet, nie dat mens hulle baie gesien het nie, natuurlik sien mens hulle mos net as hulle geld nodig het. Dit help ook as hulle tieners is en hulle nie saam met Ma en Pa gesien wil word nie.

So kom ons aan die einde van ‘n baie besige en vol naweek. Wie weet wat hou hierdie week vir ons in, maar hopelik net goeie dinge. Ons eerste wynklub kuier en die Lugskou by Avolon is iets om na uit te sien vir die komende week.

No comments:

Post a Comment