Tuesday, December 7, 2010

Kersfees in die vreemde

Die jaar staan einde se kant toe en dit voel soos gister wat ons hier aangeland het. Ek onthou nog die dooie gevoel waarmee ons die kers seisoen tegemoet gegaan het hier laasjaar. Ons het glad nie die “vibe” gekry dat dit nou eintlik kersfees is nie.

As die Afrika son eers so lekker warm op jou vel val en jy hoor die gejil van jou kinders se geplas in die swembad dan weet jy dit is somer en kersfees is om die draai. Die winkels raak besig en bly tot laataand oop, jy kry sommer net daardie gevoel van hier is iets aan die gebeur. Die kerssang speel deur die arkades en die winkles is so mooi opgemaak van alles wat blink. Die warmte wat jy kry is die kersgevoel wat so in jou gebeente kom sit.

Hierdie jaar is dit effens beter, daardie bekende gevoel is hier in jou agterkop maar dit wil net nie lekker uitkom nie. Daardie gevoel van verlorendheid is nog daar, maar nie meer so erg kloppend nie. Alles is nie meer vreemd nie, en ons sal maar weer sonder die ou gewoonte van ‘n lekker gamon op die weber. Dalk sit ons maar ‘n stukkie Betochi ham op die weber, maar dit is nie dieselfde nie. Dalk sal ons eendag die ekwivalent daarvan kry in iets anders.

Die kinders se skooljaar staan einde se kant toe, Chrstiaan het ‘n week terug al klaar gemaak met skool en twee meriete toekennings gekry. Een was vir Design and Technology, dis nou al sy houwerk en sketse wat hy gemaak het en die ander een was vir beste vordering in OAT. OAT is die buitelewe avontuur vak wat hy gehad het, daar het hulle geleer oor kayaking, fietsry en nog vele meer. My kinders is maar natuurkinders en die vak was maar ‘n natuurlike uitvloeisel van sy belangstellings.

Die meisies maak Vrydag klaar met skool. Die week het hulle ‘n “step up” program gevolg. Dit is waar die kinders voorgestel word aan die vakke wat hulle in die volgende jaar gaan neem, asook wie die onderwysers is wat dit gaan aanbied. Hulle is klaar in hulle klasse opgedeel so jy weet klaar saam wie jy is in watter klasse. Omrede die kinders nogal redelik belangstelling verloor in skool hier van Gr9 af verander die skole hier die kurrikulum vir die graad om hulle gemotiveerd te hou om aan te hou met skool. Die 2ling gaan ‘n baie interresant jaar hê wat voorlê vir hulle. Hulle het ‘n aparte skoolgebou van die res en hulle vakke is baie meer buitemuurs. Een van die vakke wat hulle kan kies is OAT, en as ek die boekie so bekyk gaan dit die ene prêt wees. Daar is riverrafting, abseiling, rotsklim en nog vele meer om te doen. Hulle gaan vir ‘n hele week by Wilsonsprom kamp waar hulle onder andere in die natuur reservaat ‘n staproete moet volg. Wilsonsprom is ‘n baie mooi natuur reservaat wat omtrent so twee ure se ry van ons af is in Gippsland. Nicolette gaan aan met haar Duits want sy wil graag as uitruil student vir ‘n paar weke na Duitsland gaan in Gr10. Celeste gaan kook klasse vat en die juffrouens (wat gekwalifiseerde chefs is) is so in hulle noppies met die kind se skills. As hulle maar net weet dat sy ‘n jaar lank onder die getroue hande van chef Toi Coetzer was. Wie weet dalk wen sy eendag Masterchef Australia, sal dit nou nie enige Afrikaner hart trots maak nie.

No comments:

Post a Comment