Monday, September 27, 2010

Ouma en Oupa

Groot was die opgewondenheid hierdie week want ons gaan kuier gaste kry. Ouma en Oupa gaan vir ons kom kuier hier op ons een jaar anniversary in Melbourne. Daar is 'n gewerkskaf in die huis van vroeg oggend af om seker te maak alles is in orde. Boeta se kamer word van hoek tot kant skoon gemaak want hulle gaan daar slaap en hy moet sy trek inneem by sy suster.

Die tyd word dopgehou en die kinders is in die kar sonder dat hulle twee keer genooi word (gewoonlik is dit 'n gesmekery), en daar sit die klompie af na die lughawe. Die kinders is so opgewonde dat hulle beswaarlik hulself in toom kan hou. Toe die twee oumense so deur die arriveer saal kom gaan die tweeling tekere en die mense kan maar net hulle kop skud vir die twee se blydskap. Hulle troon 'n hele kop bo hulle Ouma en Oupa uit en dis 'n omhelsing van 'n ander gesig. Die trane vloei vrylik want jou dam se mense is hier vir 'n hele maand.

Christiaan het al wyd en suid gesoek na iemand om 'n visstok te leen vir sy Oupa want hulle gaan visvang terwyl hy hier is. Die kind se gesig het gesparkle toe hy hulle sien, dit is sy hart se punt die oumense. Sy Oupa is sy lewe en daar is soveel wat hy met hom wil deel. Dit gaan moeilik wees om hom in sy kassie te hou.

Dit was ons eerste dag van heeldag sonskyn hier in Melbourne, die dag het goed begin en nog beter ge-eindig met die oumense wat hier kuier.

No comments:

Post a Comment