Sunday, September 12, 2010

Geen pille vir domgheid

Hierdie week het begin met sy gewone roetine en natuurlik die ewig al om teenwoordige reën. Is hier geen genade en rus van hierdie neerdrukkende koue en nattigheid nie. Mens sal regtig begin om lelik depresief te raak en nou-nou iets heel onbesonne aanvang. Onbesonne is om dalk te besluit ons trek Perth of Brisbane toe.

Ek verstaan die hitte het darem nou al begin om sy kop in Pretoria uit te steek, maar wil julle tog nie maar net ‘n bietjie diekant toe aanstuur nie. Dit sal nogal help, ek sal julle eintlik ewig dankbaar wees.

So staan ons vanoggend (dis nou Sondag) op en siedaar die bome is klaar gebot die bloeisels is uit en die groen blare begin die hele boom bedek. Dit was absoluut amazing om die hele transformasie te sien hierdie afgelope twee weke. Lente is beslis in die lug al voel dit nog soos winter. Ons is weereens daarop gewys dat die winters hier baie langer duur, en dat wanneer lente hier begin jy behoorlik die seisoen lente beleef, nie soos in al die jare waar ons gewoond was van winter en skielik is dit somer in Pretoria.


Hier is ‘n staaltjie vir die van julle wat lekker wil giggel, en vir die van julle wat julle self wil benat, geniet maar ons domgheid aan die kant.

Soos ek al soveel vir julle vertel het, hier reën dit net onophoudelik, of altans so voel dit vir my. Geen son vir ‘n mens se siel nie. Hier in Victoria was daar droogte vir 12 lange jare, die grond was letterlik so hard en het op plekke begin kraak. Met die herfs en winter seisoen wat ingetree het, het dit baie begin reën. Dit was beslis een van Victoria se natste en koudste seisoene in jare. Met al die nattigheid het ons die tuin maar gelos en besluit julle bossies kan maar groei, vir julle sien ek nie kans in die nat grou weer nie.
So kan ons ook nooit verstaan met tyd dat die huis aan die onderkant heeltyd nat bly nie. Die water wil nie eers meer weg seipel nie, en die bietjie tuinwerk wat ons doen is nog meer ‘n beslommernis want dit is net modder. Die modder begin al vrot, en ek bedoel dit VROT. So het ons toe weereens ‘n heerlike by reën gehad, storm sterkte winde en die grond is net nog meer ‘n moeras. Christiaan het ‘n week “work experience” gehad by die skool en omdat hy by La Trobe Universiteit syne in die skool vakansie gaan doen het hy ‘n week by die huis gespandeer. Ons het begin om die tuin reg ter ruk alvorens die oumense kom kuier. Die tuin moet tog nie te bad lyk nie, dit moet lyk asof ons darem iets doen. So werk ons vir twee dae dat die biesies bewe, of liewers boeta werk dat die biesies bewe (hy wil mos bestuur, so alles het ‘n bargaining tool geraak hier). Alex bekyk toe ons handewerk so en sien die hele onderste gedeelte van die huis is “geflood” Dit is nou die “gat” onder die huis. Daar waar al die afrondings werk maar gelos is en die dumping grond geword het vir alles en nog wat. Heel paniekerig skakel ons die plumbers en verklaar ‘n noodtoestand, maar ons paniek is nie vir hulle paniek nie. Die ouens kom twee dae later uit en pomp water uit vir ‘n vale en die moeras word anper ‘n rivier, hulle kan nie die probleem opspoor nie en begin ‘n gat aan die onderkant van die tuin grawe. Hulle verklaar heel triomfanklik dat die probleem nie hulle sin is nie maar die munisiapliteit sin aangesien die hoof pype beblokeer is en dit is as gevolg van boom wortels. Die volgende dag daag Manningham Munisipaliteit op met hulle trokke en pype en vier manne. Ek raak skoon opgewonde want waar gehasie het jy al sulke dienste gesien. Die ouens begin en rol hulle masjienerie af ondertoe om te begin werk. Dit was nie eens ‘n uur en en hulle verklaar ook triomfanklik dat die probeem opgelos is aan hulle kant, maar dat dit nie die regte probleem was wat die blokasie veroorsaak het nie. Wel tenminste is die water weg en ons kan aangaan. Nou wonder ek so by myselwers, wat was dan nou die probleem. Ek kan nie langer wag of myself bekommer oor wat nou die eintlike probleem was nie want die wasgoed hoop op en ek besluit toe maar bogger dit ek gaan nou was.
Wragtag ouens, die volgende dag is die hele plek weer onder water. Mens is sommer skoon moedeloos nou. Die plumbers weet nie en die munisipaliteit se mense weet ook nie waar die probleem lê nie. Alex skakel die plumbers toe maar weer en sê dat die enigste ding wat ons gedoen het in die huis was die wasgoed. Die man is stomgeslaan hy weet nie en sê toe dat hy die komende week weer sal uitkom om te kyk. ‘n Bietjie later skakel die plumber terug en vra as ons net wasgoed gedoen het, waar sit ons die uitlaat pyp vir die wasmasjien. O dit is maklik antwoord Alex, “In die gat in die grond.” Daar is eers so ‘n effense van ‘n stilte en die man vra toe, die gat in die grond. Ja man, die een wat ondertoe uitloop so by die wasmasjien. Ek is seker mens sou op daardie stadium die ou verseker met ‘n veer kon omgetik het. Die gat in die grond is nie die uitlaat pyp vir die wasmasjien nie, dit is eintlik die uitlaap pyp vir die tuimel droeër se wind. En ons het altyd gewonder waar sit mens die uitlaat pyp vir die tuimeldroeër. Nou weet ons!
Volgens die plumber is daar nie ‘n uitlaat pyp vir die wasmasjiene in die laundry’s nie, jy hang jou wasmasjien se pyp oor die wasbak. Nou hoe die bleddie hel moes ons dit geweet het, niemand het dit vir ons verduidelik nie. Wel tenminste is al die wolle uit die uitlaat pyp gewas, of hoe dink julle?
Ek is seker die ou het Vrydagaand by die bar gaan sit en met smaak vir sy pelle vertel van die dom Suid Afrikaners wat nie weet waar sit mens die uitlaatpype vir die wasmasjien of tuimeldroeër nie en dan nog sy huis flood ook.
Ek moet dan ook byvoeg, dit het ‘n jaar gevat om die huis so te flood dat die water nie meer wegseipel, so met al die reen en met ons domgheid het ons die grond behoorlik deurdrenk. Die droogte moes beslis erg gewees het.
So nou hoop ons op ‘n lekker warm somer sodat die huis aan die onderkant behoorlik kan droogbak.


Ek wonder wat volgende voorlê op ons pad.

No comments:

Post a Comment