Sunday, July 25, 2010

Rigting wyser

Hier kom gereeld “nuwe” mense die land binne wat maar redelik verward rond strompel. Ons verwysings raamwerk wat vir jare gegroei het oor hoe dinge werk in ons land van geboorte is skielik daarmee heen en ‘n nuwe verwysings raamwerk moet gevorm en gebou word oor jou nuwe land. Dit is maar redelik moeilik veral as jy absoluut niemand ken, en jy moet nog probeer uitpleis wat werk en hoe werk wat. Dit help as mens iemand het wat jou die pad kan wys.

Hier werk alles anders. Vat nou maar jou bank, hier glo die mense nog aan tjeks, internet betalings is maar baie “suspect” in die mense se oë. Jy kan nie net jou kinders in die skool inskryf nie, nee dit is eers afspraak wat jy maak en dan onderhoude wat gevoer word, jy word die skool gewys en dan besluit jy wil jy jou kind inskryf. Dis ‘n lang proses wat maklik ‘n week of langer kan neem. Jy kan ook nie net ‘n agent bel as jy ‘n huis soek nie, dis ook ‘n proses. Jy moet registreer om ‘n sms te kry oor wanneer die huis op skou is om te gaan kyk, dan kry jy ook net vyftien minute om deur die huis te gaan. Jy kan ook nie te veel vra hê nie want die kanse is baie goed dan die agent ook geen idée het. Selfs om net winkel toe te gaan en kos te gaan koop vat nogal dink werk. Dink nou vir jouself, vir jare word jy groot met Tastic, Koo, All Gold Tamatie sous. Jou vleis koop jy by die slagter en jy ken die snitte by die naam. Wel hier is nie Tastic en Koo nie so watse rys gaan jy nou koop en die kinders wil niks weet van enige tamatiesous behalwe All Gold nie. Nou moet jy maar elke keer iets anders koop om alles uit te probeer tot jy nou iets kry wat naastenby is soos wat jy gewoond aan was. Selfs die vleis snitte word anders gesny. Mens sukkel om maar ‘n plekkie te kry wat skaapnek sal sny, dit is beskikbaar, maar die ouens se snitte is meer hompe as snitte. Die slagter sal sommer opgewonde raak as jy sou vra om dit nog kleiner te sny. Hy is te bang hy sny sy vinger af. Partykeer wil mens sommer self agter die lem inklim en die goed sny.

Die week het ek ‘n nuwe gesin gewys waar alles is en bietjie raad gegee oor hoe dinge werk en waarvoor daar uitgekyk moet word. Ek het sommer begin deur vir hulle te gaan wys waar is die Suid Afrikaanse winkel waar ons chutney en rys koop, die rys wat ons in Coles hier koop kook pap. ‘n Belangrike winkel vir ons hier is Aldi’s want hier sal jy altyd iets te kope kry wat spotgoed koop is vir die week en die kruideniersware is nie te duur nie. Ons het op en af gery met die strate en hulle gewys dat alle paaie kruis met mekaar, so indien jy sou verdwaal hoef jy net dwars te draai en jy kruis weer een van die groot paaie. Ek het hulle ook gewys waar is die trein stasies, die “op shops” die verskillende winkelsentrums, asook waar al die “factory outlets” is om klere teen ‘n goedkoop prys te kry en natuurlik ook die natuurpad by Warrandyte koffie winkel.

Wanneer jy hier land werk jou kop nog in rande en jy betaal in dollars. Nou elke keer wat jy iets koop kan jy nie anders as om alles terug te verwerk na rande nie. Indien jy dit doen dan kos alles ‘n astronomiese prys. So hier leer jy vinnig om al die specials vir die week uit te snuffel en by watter winkels kan jy maar verby loop. Wanneer jy iemand het wat jou al die dinge kan uitwys en reghelp dan maak dit dat die aanpassing nie so moeilik is nie. Hopelik is hier een gesin wat minder “confused” is oor die onbekendheid.

No comments:

Post a Comment