Wednesday, January 20, 2010

Ou Kersaand en Kersdag in Melbourne 2009













As mens so ontwortel en jy probeer al jou bearings weer terug kry vat dit aan 'n mens. Indien enige mens dink dit is maklik om net te pak en te skuif, al is dit net na 'n ander dorp of provinsie, en weer jou lewe aan die anderkant uit te pak gaan maklik wees het ek nuus. Dit is moeilik, dit is partykeer emosioneel moeilik, jy raak partykeer depresief en jy crave die dinge van by die "huis", die probleem is jy kan nie in die kar klim en gou ry. Dit is eintlik groot stres en die gevoel van verwerping is hoog.

Wel dis hoe die kersfees vir my gevoel het. Ek was hartseer, ek het dinge gemis (wat dit was weet ek nie) ek het die bekende dinge van Suid Afrika gemis. Die reuke en geluide, die gevoel van kersfees het ek nie gekry nie. Gewoonlik wanneer die skole in Desember sluit dan begin daardie gevoel hier in jou hart posvat, dis Kersfees. Jy sien kleure, jy ruik reuk, daar is iets in die lug wat jou laat besef dat iets spesiaal is aan die gebeur, ek het dit nie hier gevind nie. Dit was moeilik . . .

Aangesien ons 'n klompie Suid Afrikaanse gesinne was wat nie met die Kerstyd weg sou gaan nie (Alex het toe net begin werk) het die Dominee se vrou Ina besluit dat ons ou kersaand by die kerksaal bymekaar kom en hier die aand spandeer met 'n lekker braai, 'n kersboom vir die kinders en dan ook so bietjie kersliedere sing. Ons was toe so 13 gesinne wat so die aand saam gespandeer het en sommer net lekker gekuier het onder mekaar.

Natuurlik is die kersboom nie dieselfde as daar nie 'n kersvader is nie en een van die manne het besluit hy sien kans daarvoor. Soos my kinders maar is vat hulle gewoonlik die voortou, toe dit by hulle name kom vir hulle persente wat onder die kersboom is besluit hulle om op kersvader se skoot te sit en dat ons 'n foto moet neem. Nodeloos om te se het al die ander kinders hulle voorbeeld gevat en die foto sessie met kersvader het begin. So indien julle ooit wil he iemand moet iets begin, nooi net my kinders en plant die saadtjie in hulle koppe, hulle sal seker maak dat dit gebeur net soos wat jy wil he dit moet wees.

Ons het lekker gekuier die aand met heerlike kosse, poedings (wat 'n mooi trifle was dit nie) , kersies (wow nooit geweet die goed kan so lekker proe nie) en die gesingery en so by elfuur ry gekry huis toe. Ons het eers by Anli hulle gaan koffie drink (die twee groot seuns het besluit Xbox is die inding) en Christiaan gaan oplaai en na twaalf by die huis aangekom. Hier het ons eers persente oopgemaak wat onder kersboom was (ek het my eie regte egte kersboom gehad) en het so half twee in die bed gekom. Wat interresant was, die week voor kersfees het die winkels 24uur oopgebly, en 'n dag of twee voor kersfees was die winkels besiger as ooit so laat. So wie sou dink om laataand winkel toe te gaan sal 'n plesier wees, nie weer nie.

Met kersdag was ons so 4 gesinne wat bymekaar gekom het by Cecilia en Johan Blignaut se huis. So het ons nou gekuier van twaalfuur die middat tot so agtuur die aand. Die kinders het hulle self besig gehou met Xbox, playstation en die WII, ons grootmense het gesit en gekuier en gekuier en gekuier.

No comments:

Post a Comment