Friday, February 26, 2010

Hartseer en vreugdes

Hier le ek in by bed op hierdie warm Vrydag aand en bejammer myself omdat hierdie hoofpyn nie wil weg nie. Ek voel jammer vir myself omdat ek nie net dokter toe kan gaan en iets daaromtrent kan doen nie. Dit voel partykeer of die dokters hier probeer om die wiel weer van vooraf uit te vind. Wat is dit met die mense dat hulle so sku is om 'n mens te behandel. Waarvoor is die ouens so bang, en vir wat dink hulle 'n mens is 'n moroon net omdat jy self weet wat is fout met jou.
Het hulle nog nooit mense gekry wat dit mooi vir hulle kan uitspel wat is fout met hulle of wat is hulle simptome nie.

My hart is seer want my scrapvriendin se hart pyn. Haar ma is oorlede en ek kan niks doen om haar pyn te verlig nie. Haar gesig het altyd gestraal as sy van haar ma praat, hoe ouma haar kind breiwerk leer, hoe haar kind vakansie by ouma gekuier het. Ek kan nie nou na haar gaan en net haar vasdruk nie, mens voel so magteloos as jy so ver weg is. Mag jy vrede in hou hart kry, ek dink aan jou.

My kind se hart pyn. Daar is iewers fout met 'n vriendin en hier sit sy veertien duisend kilo's ver en huil. Huil vir 'n vriendin se hartseer wat sy niks kan aandoen nie. Die verwerping van 'n vriendin omdat sy probeer help, maar dis nie goed genoeg nie. Hoe verduidelik jy aan haar sy moet dit laat gaan, dis 'n vriendskap van 7jaar wat deur hoogte en laagte punte gegaan het, sy moet leer dat sekere dinge kan jy iets aan doen en partykeer is daar absoluut niks wat jy kan doen wat enigsins 'n verskil gaan maak nie.

Ons het ook vreugdes, vreugde om hier te sit en 'n land te sien wat mooi is. Vandag het ek 5km gestap in 'n park sonder om oor my skouer te loer vir 'n skurk wat my dalk wil oorval nie. Ek het Maandag 'n nat stad binne gery en my self weereens verkyk aan die mooiheid daarvan. Hoe skoon en helder die lug is, hoe die parke mens uitnooi om te kom sit en ontspan. Die koffie winkels wat hulle deure oopmaak en mens wil binne nooi vir 'n heerlike "cuppa" Die reuke en geure van die bome, die bloekomboom se olie wat uitstyg en jou oorweldig. Die busse se skoon uitlaat gasse wat jou laat besef mensig maar die ouens gee eintlik om vir die omgewing.

Celeste het die skool se swemspan gehaal en sy is in ekstase hieroor, ek is nie want die "bather" kos 'n plaas se prys, maar ons sal net moet rondshop. Christiaan het begin rygby oefen en dit was hel hoor ek. Hy kon nie lekker byhou nie (lekker onfiks), maar hy is positief om elke dag iets te doen om fikser te word. Hy is partykeer so gedetermineerd om dinge gedoen te kry, waaroor ek en Alex natuurlik baie opgewonde raak oor, maar dan weer die volgende week heeltemal die pad byster raak. Daar is hoop vir die kind.

Ons gaan die naweek met die trein binneland toe ry vir 'n "Food Festival", ek sien nogal uit daarna. Daar is seker so 10 Suid Afrikaanse gesinne wat kaartjies bespreek het vir die dag, hopelik speel die weer saam en kan ons 'n heerlike buitelug piekniek hou. Ek is net bevrees as my kinders eers uit hulle kassies is kan die trein episode weer heeltemal oorgeneem word deur tiener eskapades. Die trein rit van oujaars aand kom weer by my op en ek sien hoe hulle ons die keer afgooi van die trein.

Mag elkeen van julle al julle vreugdes en hartseer in julle lewe met HOM deel. Hier in die vreemde het ek meer geestelike groei al beleef as wat ek ooit in my geboorteland beleef het en daarvoor is ek dankbaar.


Monday, February 8, 2010

Oujaars aand foto's

Ou Jaarsaand vuurwerke.

Op oujaars aand het ons almal op die trein geklim (dit was verniet die hele dag) en ingery stad toe. By die MCG (Melbourne Cricket Ground) het hulle 'n familie vuurwerk vertoning gehou. Dit het seker so 5uur die middag begin met allerhande karakters wat die kinders vermaak het. Die kinders het hulle saam met Bart Simpson en Homer laat afneem. Die kinders het dit so geniet en tekere gegaan terwyl die sangers en groepe opgetree het. Ek het lanklaas my kinders so sorgeloos gesien, ok kom ons wees eerlik, ek het my kinders nog nooit so vreesloos en sorgeloos tussen ander duisende vreemde mense gesien nie. Hulle het behoorlik gejol.

Die vuurwerk vertoning sou so kwart oor nege begin het, maar daar is gese dat as daar reen is en weerlig mag hulle dit dalk kanselleer. Wel die wolke het lekker dik begin aanpak so van agtuur die aand af. Dit het gelyk na 'n tipiese donderstorm wat oor altyd so Pretoria opbou, en wragtag so teen negeuur toe begin daardie bliksem strale mos so mooi dans in die lug. Die klomp woesies (Ozzies) het elke tekere gegaan as die weerlig so slaan. Jy kon duidelik sien wie is Suid Afrikaners, ons verwelkom toe die weerlig in al so glorie. Toe die reen begin uitsak moes julle sien hoe spartel die mense vir cover en hoe leeg raak die park. Daar was duisende mense met kinders, baie meer as wat by die Carols was. Die mense het van heinde en ver gekom om die vertoning te sien. Ons het so lekker natgereen en angstig gewag om te hoor wat is die uitslag oor die vertoning. Hulle het darem besluit om die nie te kanselleer maar moes wag vir die weerkantoor om die groen lig te gee vir die vertoning. Dit het so net na halftien begin. Wat 'n awesome gesig. Die hemelruim het skielik helder verlig geword met die mooiste kleure. Die vuurwerk vertoning is op twee plekke in die park gedoen, so mense het alles dubbel gesien. Dit het seker vir so vyftien minute aangehou, toe dit klaar was het die reen weereens lekker uitgesak. Dit was beslis nie 'n onwelkome reenbui nie want dit was vrek warm gewees deur die dag.

Die groot pret het begin toe ons terug stap stasie toe. Met al die reen probeer almal toe gelyk op die peron kom. Dit het gelyk soos 'n klomp skape wat gelei word na die slagpale. Die trein interval was so elke 10minute en soos die noodlot dit toe wil he is die trein so vol en ons moet wag. Ons het seker so 'n hele twintig minute gewag alvorens ons 'n trein kon kry. Toe ons eers op die trein is klim die kinders toe eers uit hulle kassies uit. Die mense het die kinders lekker aangegaap oor al hulle gesingery. Ons het die aand eers half twaalf by die huis aangekom, maar wat 'n heerlike experience om die nuwejaar in te gaan.

Saturday, January 30, 2010

Ons het die afgelope naweek heerlik uitgespan by Apollo Bay. Dinsdag die 26ste was Australian Day, so Alex het toe Maandag af gevat en ons het 'n langnaweek hiervan gemaak. Die pad na Apollo bay is seker so 200-300 km van ons huis af so jy sal dink dit is nie ter ver tot jy die pad ry en by die spoedgrense moet hou. Julle mense moet onthou die spoedgrense is enige iets van 70km p/h tot 100km p/h hier, so jy kan nie vinnig ry nie. Indien jy vinnig ry kry jy boetes en dit veroorsaak debiet punte wat dan weer beteken dat indien jy meer as 12 debiet punte in 36 maande kry jy jou lisensie kwyt is vir 3 maande.

So ry ons toe so halfvier die Vrydag middag uit Melbourne oppad na Apollo Bay toe, almal gerelax en sien uit na die naweek by die see. Oppad soontoe stop ons maar langs die pad en besigtig die natuurskoon. Dit is baie, baie, baie mooi. Die lug ruik heerlik skoon en vars, onthou hier is nie vrot karre met vieslike uitlaat gasse nie, so as jy stop en uitklim slaan die reuke en geure van die natuur jou en dit is lekker. Die is regtig spectacular, die pad herinner my op tye aan Chapmans Peak, dan is ons weer effens binneland in en dit laat jou dink aan Tsitsikama. So hier het ons altyd iets wat jou sal laat terug dink aan jou moederland en herinneringe wat jy daar opgedoen het.

Ons het na die Otway Treetop Walkway gegaan, die stelasie is 600m lank en is so 25m bo die grond gebou, op party plekke voel dit vir my of ons tenminste 100m bo die grond loop, die uitkyk af ondertoe maak jou eintlik duiselig, maar jy is veilig moet ek by se. In die middel van die roete is nog 'n stelasie wat nog opgaan na 45m bo die grond, hier het ek maar verby gehou, hoogtes is nie my ding. Plek plek voel jy hoe beweeg die stelasie en ek moet se ek was bly toe ons aan die einde van die roete kom en ek my voete vierkantig en solied op moederaarde weer kon neersit.

So tussen die bosse is daar ook 'n dinosaur uitstalling en dit is baie realisties gedoen van die mooiste en kleinste dinosaurs tot groot grillerige goed en slange wat teen die bome uit seil.

Ons het ook na 12 Apostels gegaan en dit is absoluut amazing om te sien, dis soos om Tafelberg vir die eerste keer te sien. Jy staan en staar in verwondering na wat die mens gegee is om met die oog te geniet. Gaan google tog die plekke en kyk na dit wat die ouens op die web alles wys oor die stukkie natuurskoon.

Ons het na so 'n klein strand gegaan, Johanna Bay, wat 'n stukkie beeldskone natuurskoon is dit nie. Almal wat daar stop en af stap strand toe draai links en stap dan strand af, ons het regs gegaan en mensig dit was 'n goeie besluit. As jy so stap en jy kom om 'n draai met rotse en land wat in die see in gaan en jy klim oor die rotse kom jy op nog sulke klein strande af, en so het ons nog aan gestap. Op 'n stadium het ek vir Alex gese ons moet liewers terug want as dit hooggety is sit jy vas tussen strande en daar is geen manier om terug te gaan. Op is nie 'n opsie nie want dit is net styl kranse boontoe. Die kinders het kans gevat en die see van naby getrotseer op die rotse, dit is heerlik as die seesproei jou so in die gesig raak.

Die eerste aand het ons na die pretpark gegaan en die kinders het julle self gate uit geniet. Selfs Alex het saam met Christiaan bumber car gery, die meisies het op een of ander tipe swaai gegaan wat my sommer net seesiek sou maak, ek het liewers op die kantlyn gesit en hulle so bekyk. Dis lekker om so sorgeloos te wees, te weet dat jy kan dalk bietjie meer kanse vat en die lewe geniet sonder enige vrese.

Lang naweek na Apollo Bay