Monday, February 8, 2010

Ou Jaarsaand vuurwerke.

Op oujaars aand het ons almal op die trein geklim (dit was verniet die hele dag) en ingery stad toe. By die MCG (Melbourne Cricket Ground) het hulle 'n familie vuurwerk vertoning gehou. Dit het seker so 5uur die middag begin met allerhande karakters wat die kinders vermaak het. Die kinders het hulle saam met Bart Simpson en Homer laat afneem. Die kinders het dit so geniet en tekere gegaan terwyl die sangers en groepe opgetree het. Ek het lanklaas my kinders so sorgeloos gesien, ok kom ons wees eerlik, ek het my kinders nog nooit so vreesloos en sorgeloos tussen ander duisende vreemde mense gesien nie. Hulle het behoorlik gejol.

Die vuurwerk vertoning sou so kwart oor nege begin het, maar daar is gese dat as daar reen is en weerlig mag hulle dit dalk kanselleer. Wel die wolke het lekker dik begin aanpak so van agtuur die aand af. Dit het gelyk na 'n tipiese donderstorm wat oor altyd so Pretoria opbou, en wragtag so teen negeuur toe begin daardie bliksem strale mos so mooi dans in die lug. Die klomp woesies (Ozzies) het elke tekere gegaan as die weerlig so slaan. Jy kon duidelik sien wie is Suid Afrikaners, ons verwelkom toe die weerlig in al so glorie. Toe die reen begin uitsak moes julle sien hoe spartel die mense vir cover en hoe leeg raak die park. Daar was duisende mense met kinders, baie meer as wat by die Carols was. Die mense het van heinde en ver gekom om die vertoning te sien. Ons het so lekker natgereen en angstig gewag om te hoor wat is die uitslag oor die vertoning. Hulle het darem besluit om die nie te kanselleer maar moes wag vir die weerkantoor om die groen lig te gee vir die vertoning. Dit het so net na halftien begin. Wat 'n awesome gesig. Die hemelruim het skielik helder verlig geword met die mooiste kleure. Die vuurwerk vertoning is op twee plekke in die park gedoen, so mense het alles dubbel gesien. Dit het seker vir so vyftien minute aangehou, toe dit klaar was het die reen weereens lekker uitgesak. Dit was beslis nie 'n onwelkome reenbui nie want dit was vrek warm gewees deur die dag.

Die groot pret het begin toe ons terug stap stasie toe. Met al die reen probeer almal toe gelyk op die peron kom. Dit het gelyk soos 'n klomp skape wat gelei word na die slagpale. Die trein interval was so elke 10minute en soos die noodlot dit toe wil he is die trein so vol en ons moet wag. Ons het seker so 'n hele twintig minute gewag alvorens ons 'n trein kon kry. Toe ons eers op die trein is klim die kinders toe eers uit hulle kassies uit. Die mense het die kinders lekker aangegaap oor al hulle gesingery. Ons het die aand eers half twaalf by die huis aangekom, maar wat 'n heerlike experience om die nuwejaar in te gaan.

No comments:

Post a Comment