Sunday, January 29, 2012

Dangar Eiland


Foto: Via Airview online

Vandag was weereens 'n heerlike dag buite gewees. Ons het vroegoggend sommer besluit om na Dangar Eiland te gaan vir die dag. Die hele eiland kan plat gestap word in omtrent twee ure. Die plek is so 'n myl in deursnee. Daar is baie vriendelik mense, dis nou die eiland bewoners, die res is maar brommerig. Om by die eiland te kom moet jy tot in Brooklyn ry (nie in Amerika nie) en die ferry kry by Hawkesbury rivier langs die Brooklyn Wharf na Dangar Eiland. Daar is geen pad verbinding na die eiland en al vervoer op die eiland is jou paar bene. Vir die eiland bewoners is daar 'n stadsraad ute (bakkie) om meubels en die vullis te karwei, 'n buggy om toeriste na verblyf plekke te vat en natuurlik kruiwaens om die daaglikse / weeklikse/ maandelikse proviand van die jetty na hulle huise te vervoer.

Daar aangekom het ons by die local kafeetjie 'n laatoggend middag ete gehad, confused, ek ook. Die kos was baie smaaklik en die koffie heerlik. Daarna het ons in die pad geval en na die strand gegaan om 'n bietjie voete nat te maak, die water was heerlik en die son ongenadiglik. Celeste was natuurlik haar ou self, bemoerd en dan vriendelik dan weer lekker bemoerd, ek wonder wat is dit met tieners, ek kan nie dink dat ek ooit so was nie. Nicolette het die water aangedurf en lekker geswem, Clara het net probeer om haar sonbrand lyf bruiner te kry.

Na dit het ons besluit om die grotte te gaan soek waar daar aboriginal sketse teen die mure is, het nog nie die ingang gekry na die plek nie en ons het letterlik reg rondom die eiland gestap. Daar is nie duidelik aanwysings nie, so as jy dit kry is dit per ongelyk, of wie weet dalk is dit geluk.

Na 'n heerlike dag buite het ons dit afgerond met 'n lekker braaivleisie by die huis.

Die week wat voorle gaan besig wees, boeta begin Maandag met skool en die meisies begin Dinsdag.

Thursday, January 26, 2012

Nuwe jaar nuwe dinge

Die eerste maand van die nuwe jaar is al amper verby en ek kan nie glo dat ek niks gehad het om te vertel nie. Daar het baie dinge gebeur en ons het al baie dinge gesien wat mens weereens dankbaar maak dat jy is waar jy is.

Oujaars aand het ons besluit om na die vuurwerke te gaan kyk, dit wat absoluut iets amazing gewees. Die vuurwerke was groot en hard en dit het gebulder tot in jou binneste toe. Die reuk van die buskruit het nog lank daarna in jou neusvleuels gebly. Ons het saam met Pauline, Ian en die kinders die trein gevat in stad toe en op die oewer gekuier tot dit tyd was vir die vuurwerke. Die hoeveelheid mense wat ingestroom het was soos 'n stroom lava, dit het net aanhou en aanhou groei. Bokant ons was 'n klompie jonges wat hulle self op die gras tuis gemaak het, en boeta het hulle vir mens darem skaam gemaak. Op 'n stadium nog voor die son gesak het, het die polisie 'n klompie kom verwyder wat dronk was (en dit was veronderstel om drankvrye gebied te wees) daar is drie bottels vodka by die een gevind, wonder hoeveel was opgedrink. Die son was warm en met die drank kan jy jouself indink wat die gevolge was. Nie mooi nie. Na die negeuur vertoning het die kinders besluit om iets te gaan soek om te drink, met groot oe en afsku het hulle kom vertel wat het hulle gesien. Dis walglik en mens wonder wat is die kick wat jongmense daaruit kry om hulleself so laag te laat daal. Die polisie het weer ingekom en weereens 'n klompie kom verwyder, die ouens vat nie nonsens van kabouters nie.

Die kinders het daarna na 'n Youth Convention vir 'n week gegaan in Uki wat deur CRCA ge-organiseer was. Natuurlik was daar baie SAFFA kinders en die woorde waarmee die kinders terug gekom het "Dit was Life Changing" het alles verduidelik. Baie nuwe maats is gemaak en natuurlik is FB redelik vinnig ge-update om aldie nuwe maats te add. Wonder oor hierdie ding, maar ja!

Ek, Alex en Clara het in Kingscliff gekuier vir die week, Clara mag eers na die Youth Convention gaan as sy ouer as 15 is. Dit was sommer net lui lekker kuier op die strand en natuurlik baie rond gery. Ons was mal oor Surfers Paradise en het besluit ons sal die Desembervakansie weer terug gaan daardie kant toe sodat die ander drie ook kan sien hoe 'n lekker plek dit was. Kingscliff is 'n klein dorpie nie te ver van Twin Heads (die plek wat nou tans so verspoel is) en ook nie te ver van Surfers paradise. Nou dat boeta mos sy lisensie gekry het kan hyself ry. Daar is ook 'n paar waterparke daar naby en ons gaan defnitief daar 'n draai maak. Die strande is baie mooi, ek het selfs my tone in die water gesteek en baie geswem. Die water is heerlik, sal net moet onthou om die snorkel gear te vat volgende keer.

Boeta het natuurlik sy bestuurs lisensie gekry, nou is hy op P1. Hoe dit hier werk in Ozland is jy doen jou leerlinglisensie, as jy slaag moet jy minimum van 120 ure in 'n logboek opskryf waarvan party in die nag moet wees, grondpaaie ens. Na die 120 ure en as jy ouer as sewentien is mag jy vir jou P1 (rooi)lisensie gaan. Met 'n leerling lisensie hier in NSW mag jy ook nooit vinniger as 80km/p/h ry ,maak nie saak of die pad aandui dit is 'n 110km/p/h zone. Met sy P1 mag hy darem 90km/p/h ry maar hy mag geen alkohol in sy bloed he. Met die lisensie ry hy nou vir 18maande waarna hy weer 'n toets doen (hazard persepsie) en indien hy slaag kry hy sy P2's. Dit is ook 'n rooi P maar hy mag dan 100km/p/h ry. Kan julle die frustrasie op daardie kind se gesig sien as ons iewers heen ry en die spoedgrens is 110km. Ek hoor hy het al 'n paar keet die limits uitgetoets. Ek wag vir die dag as daardie sirenes skielik agter hom begin loei. Maar ons as ouers weet mos niks, slim gaan nog sy baasvang sien ek.


Volgende week begin die skole, en boeta begin met Yr12. Dit gaan 'n harde jaar wees en mens kan net hoop en jou vertrou in die Here se hande sit dat boeta sal hard werk. Hy het baie planne, hy en Louis vir 'n roadtrip gaan doen, hy wil myne toe om te gaan werk vir 'n jaar en sodoende geld bymekaar maak vir sy toekoms. Mag al sy planne uitwerk soos wat dit moet.

Ek het natuurlik ook 'n liefde vir ebay gekry. Mensig is daar darem goeie goed daarop te koop, partykeer is ek net jammer dat van die die goed nie in my area is nie. Van die mooise houtmeubels kan mens daar optel. Met die dat ek so baie houtgoed koop het ek besluit om in te skryf vir 'n klas oor restorasie van meubels. Dalk kan ek hier iets leer. Ek dink dit gaan baie interresant wees.

Wednesday, December 21, 2011

Geboorte pyne van vooraf

Ons het nou al baie beleef in ons korte bestaan. As kind was verandering nou iets wat jy aanvaar het en alles wat kwyt geraak is, is dood eenvoudig aanvaar sonder enige teenstribbeling. Soos mens groter en natuurlike wyser word besef jy, jy kan maar dinge bevraagteken, alles hoef nie net blindelings aanvaar te word nie as wet nie. Om positiewe resultate te bereik het mens maar partykeer die ekstra tree gegee om mense te akkomodeer met 'n probleem. Soos toe ek nog by SARS gewerk het in my prille jeuglike and baie naiewe jongmens dae. Mense het ingekom met hulle aanslae waarop daar natuurlik bedrae betaalbaar was aan die belastingaarder. Baie mense het nie die geld gehad om dadelik alles te betaal nie en my werk was om uitstel te verleen of selfs 'n afbetalings ooreenkoms uit te werk wat tot voordeel vir albei sou wees. Partykeer was mens maar hardekwas gewees en ander dae kon jy sien dalk moet jy maar 'n ekstra maand of ses byvoeg om die situasie net makliker te maak. Daar was altyd 'n uitweg as jy een gesoek het, as die klient nie te vrede was kon hy altyd na iemand hoër op in die voedsel ketting mee gaan praat.

Hier in Ozland werk dit nie so lekker nie, die mense in die voorste linies se woord is wet. Jy kan nou maar rondspring soos 'n mal springhaas en niemand gaan jou te hulp snel en probeer om jou saak op te los nie, nee fok die ouens sal liewers die polisie bel en jou laat verwyder want hulle voel dalk bedreigd deur jou optrede. Goed so, ek sal ook bedreigd voel as ek sulke patetiese en power kliente diens lewer.

So gaan ek toe gister na die RTA (Road and Transport Authority) dis wat hulle genoem word in NSW, in Victoria of Melbourne was dit sommer net Vicroads. Vroeg die oggend besluit ek vandag is die dag vir die lisensie verandering, en later wil ek sommer ook nog Costco toe gaan vir 'n bietjie kers inkope en daarna sommer die klompie meubels wat ek op ebay gekoop het gaan oplaai. Het ek maar liewerste 'n pilletjie gedrink en weer gaan le dan sou dit soveel beter gewees het.

Ek daag toe by die RTA se kantore op, gewapen met al my dokumente en kry my nommertjie uit die computer. Die ry is lank en die mense is baie. Ek gaan sit maar en wag dat my nommer opgeroep word. Na so 'n kwartier is dit my beurt en dadelik kan ek sien hier kom 'n ding. Ek het die verkeerde flippen kode gekies oor wat ek nou wou doen en woeps sit sy my sommer terug in die sisteem. Kyk toe wil ek sommer nog my moer pluk, maar daar word my nommer sommer toe weer geroep. Ek beweeg een ry aan en handig my papierwerk in. Die dame vat nie die papiere nie en vra wat wil ek doen. Ek verduidelik toe maar en sy begin die papiere nader hark en binne vyf sekondes is ek afgeskiet oor my aansoek. Ek het die verkeerde papier wat my adres bevestig en sy is nou maar jammer maar ek moet 'n ander papier bring of iemand kry wat my langer as fokken 12maande ken wat hier in Sydney bly. Regtig popsie wat dink jy, gedink ek gaan sommer nou my towerstokkie swaai en iemand kry. Dit maak nie saak hoe ek verduidelik of desperaat ek klink dit is die verkeerde papertjie en daar gaan haal sy sommer nog 'n inligtingspapiertjie om my te wys. Ek word daar weg gestuur met ongedane sake. Wel so maklik kry jy my nie onder, ek loop daar weg brommend en sommer omgekrap.

Terug huis toe gaan ek, kry die regte damn papier na 'n gesoek en is toe terug na die ouens toe. Ek staan weereens in die ry om my nommertjie van die rekenaar te kry, ek maak toe sommer dubbel seker ek druk die regte knoppies vir die regte prosedure. Wag weer so 'n kwartier alvorens ek vorentoe geroep word. Ek handig die papiere in en die proses begin van vooraf. Dit lyk of dit dalk makliker sal gaan maar net toe ek dink die geveg is gewen toe word ek hier met 'n linker hou geslaan. Die ouens dink dit toe goed om my met 'n "P" lisensiekaart te verras. Wat die joos is dit die, ek verduidelik dit is onmoontlik. Nou kyk dit is hier waar ek alle rasionele denke oorboord gooi en mooi verduidelik dat ek volgens alle standaarde en norme uit 'n derde wereld land kom, waar rekenaar stelsesl eintlik nie veronderstel is om met mekaar te kan praat nie maar dat dit inderwaarheid eintlik gebeur, en hier in Ozland volgens alle standaarde en norme dit as 'n eerste wereld land gesien word die verskillende state se stelsels nie met mekaar kan koppel nie gaan my verstand te bowe. Elke flippen staat is 'n land op sy eie, die dat dit eintlik 'n mini immigrasie is. In Victoria het ek 'n vol lisensie gehad, geen beperkings en defnitief geen "P's" nie. Nou moet ek weereens bewys lewer van my Suid Afrikaanse lisensie. My moer meter slaan toe heeltemal die rooi en die klokkies lui hard. Geen mate verduideliking kan die mense oortuig dat ek eintlik al in 1996, hoog swanger met die 2ling (seker die beampte het my jammer gekry) my lisensie gekry het nie. Ek moet dit kan bewys en al hoe ek dit kan bewys is as ek my lisensies inbring. Ek is daar uit, gelukkig sonder enige begeleiding, maar jy kon my hoor. Teen daardie tyd kook ek al, maar ek is weereens in my kar en terug huis toe om nog bewyse te gaan kry.

Oppad toe laai ek sommer vir boeta op na sy skof, ek kry my lisensie kaarte, sommer die vorige wat ook al verval het en my ID waarin my oorspronklik lisiensie was. Besluit toe dat boeta moet ook sy leerling lisensie oorskakel en sommer 'n afspraak maak vir sy bestuurslisensie. Terug na die kantore nou is ek gewapen, ek het alles sommer ook die immigrasie brief wat die visa goedkeuring gee.

Terug by die kantore, herhaal die proses om my nommer te kry en wag weereens. My nommer word geroep en ek is gereed vir die geveg wat dalk mag volg. Ek kan sommer sien die gemoed sak op die gesigte, dis nou my vierde persoon en almal is in 'n ry. Ek praat toe baie stadig, mooi hard en duidelik om enige misverstand uit die weg te ruim. Dit vat die dame 'n tydtjie om alles deur te werk, vrae word gevra en nog inligting moet ek neerskryf op die vorm, daar is nie plek nie maar ek vul in. Dit lyk skoon of ek besig is om my pedigree daar uit te le net om my lisensie te kry. Uit eindelik na vyf ure van in en uit die kantore het ek my lisensie.

Geboorte gee was beslis 'n makliker ervaring.

Alex se omskakeling was 'n natuurlik pynloos want ek het al die pyne ervaar, maar die voertuig se reigistrasie le nog voor en hier kom vir jou 'n ding. Hieroor later.

Sunday, December 18, 2011

Sydney het nuwe intrekkers

Wel ons is darem nou almal uit eindlik hier in Kersiefontein - Sydney, die heen en weer gevliegery tussen die twee stede kan nogal uitputted op 'n mens se gestel raak.

Die trekkery het darem afgeloop sonder enige voorval en die aflaai aan diekant het goed verloop met boeta wat maar moes bont staan om dinge georganiseer te kry. Dis net jammer dat ons internet verskaffer nie werk gedoen het en die installasie behoorlik gedoen het nie. Nou sal ons moet wag tot die nuwe jaar as ek dinge so uit kyk. Ek kan mos nie my poppe uit die pram gooi nie, hulle verstaan nie my bliksem en donner, so aan die einde van die dag is ek nog steeds daarsonder.

Uit eindlik het elke kind weer sy eie kamer en boeta sy eie badkamer. Dit het nogal woes geraak met drie tieners meisies en 'n tiener seun wat almal moet tandeborsel en wie weet wat nog in een badkamer.

Die eksamens is verby en nou wag ons maar vir die uitslae. Boeta sin lyk nie te sleg nie, maar hy het geleer dat die pad nie maklik is nie. Hy het maar op die moeilike manier geleer dat elke besluit wat geneem word sekere gevolge het. Hy het twee vakke opgeskop en dit opsig self was dalk nie so erg, maar nou moet hy in jaar 12 harder werk en 'n ekstra vak optel om genoeg krediete te kry. Slim van toe sy baas.

Die kinders sal almal na Cherrybrook Technology Highschool toe gaan en dit is loop afstand van ons huis af. Dit is omtrent dieselfde afstand as wat die kinders elke dag gestap of fietsgery het in Centurion.

Die vakansie gaan ons maar besig wees met dekorasie dinge, die meisies wil hulle kamers bietjie opdolly, so ons gaan maar die opshops bietjie deursoek vir goedkoop artikels wat kan afgeskuur word en dan verf. Ons het 'n paar goeie idees gekry met verskillende vorms rame en wie weet dalk klim daar 'n aspirant binneshuis versierder uit hierdie hele proses.

Boeta het gelukkig maklik 'n oorplasing na Cherrybrook se Woolworths gekry so ek hoop maar in my stilligheid dat hy genoeg skofte in die week kan kry sodat ons 'n bietjie rus en vrede kan kry. Ons moet gereeld hoor ons is oud, dit omdat ons nie altyd lus het om laat aand te gaan kapperjol nie. Die mannetjie slaap tot na tien in die oggend en drentel dan so stadig boontoe opsoek na kos, ons is dan al lankal klaar met dinge wat ons wou gedoen het. So ons stille gebed is maar dat die skofte gereeld dalk hier van middag tot laat aand kan wees, hopelik ook 'n paar middernag skofte, dalk sal ons minder hoor hoe boring ons is.

Die week moet ek plan maak en kerspersente gaan kry, dit voel vir my of dit al hoe moeiliker raak soos die kinders ouer word. Mens weet werklik nie meer wat om te kry vir hulle nie. Die sagte hints wat so hier en daar gegooi word om te probeer bepaal wat is die "must have" ding vir die jaar loop uit elke keer om niks. Dit gaan beslis 'n moeilike jaar wees.

Tuesday, November 29, 2011

Ons pak.

Die hele trek ding het ek nie gedink gaan ek maak nie. As jy nog nie baie alleen getrek het in jou lewe nie, dan is trek maar eintlik 'n groot ding. In die vele kere wat ek en Alex nog ooit getrek het was sy ouers daar gewees om te help met die pakkery en die getrekkery. Ons eerste trek was na ons woonstel 'n maand voor die troue, toe 'n jaar later na 'n meenthuis in Sunninghill, vandaar na Alberton in 'n huurhuis toe boeta gebore is en toe weer in 'n "penthouse" toe die 2ling gebore is. Elke keer groter en meer spasie, die trekkery het alles in 'n kwessie van so ses jaar gebeur. Met ons eerste huiskoop het ons gesettle as mens dit nou so kan noem, alles is gebreuk en gebou soos ons dit wou he en het lekker daar gebly vir nege jaar, dis tot ons besluit het om sommer landuit te trek. Die trekkery het gemaak dat mens huis skoonmaak met al die gemors wat mens so opgaar deur al die jare, en ons het nogal uitgegooi. As ek nou na al die goed in die huis kyk dan dink ek nie ek het genoeg uitgegooi op daardie stadium nie.

Die gepakkery is hier aangepak met gemengde gevoelens, dis nou van my kant af. Ek het eerlik waar nie gedink ek sal dit alles alleen kan behartig nie, ek het nog altyd baie hulp gehad. Ek het dit maar stadig begin doen, en doelgerig elke kas uitgesorteer en weggegooi waar ek gedink het dit is nodig. Die hoeveelheid papiere wat in die tyd ge-genereer was is astronomies, ek is seker ons kon 'n paar bome gespaar het as die ouens hier net meer elektronies wil gaan. Die papier vreter het heeltemal oortyd gewerk en gereeld in "overheat" gegaan.

Ek het boeke uitgedeel, speelgoed aangestuur en baie oorskiet in die dump gaan gooi. Of ons enigsins ligter gaan trek lyk nie vir my so nie, maar hopelik kom daar minder wit olifante aan die anderkant uit.

Twee manne is gestuur om die res van die pakwerk te behartig, Steve en Warren. Tussen die twee het hulle alles in die huis binne 'n japtrap opgepak gehad wat ek net nie kans voor gesien het nie. Ek is seker van al die kamers se bokse is my scrapbook kamer sin beslis die meeste, ek kan dit nie verstaan nie (tong in die kies). Dit sal interresant wees om te sien hoe die container more gelaai word en hoeveel manne gestuur word om dit te doen. As alles goed afloop dan is alles volgende week in Sydney, dalk kan Alex homself besig hou met die uitpakkery in die aand. Mens kan seker maar droom.

In die drie weke wat dit my gevat het om alles wat ek wou uitsorteer en pak gedoen te kry het dit nie te sleg gegaan. Ek het nog steeds dit reggekry om die huis aan die kant te kry, kos op die tafel en die wasgoed gewas en gestryk te kry. En ek het gedink sonder hulp gaan dit onmoontlik wees. Wys jou, mens kan met energie en deursettings vermoee enige iets vermag.

Sunday, November 13, 2011

Winde van Verandering.

Die gemiddelde mens hou nie baie van veranderinge nie. Solank dinge net goed verloop, nie altyd wonderlik nie, maar goed dan is ons relatief gelukkig. Die bootjie moet net nie te veel geskud word nie anders wil ons sommer 'n vuis geveg begin. As ons as volwassenes so sukkel met veranderinge en aanpassing hoeveel te meer moet dit nie vir ons kinders wees nie.

Meer kere as nie sal die mense op die verskillende forums kommentaar lewer oor hoe maklik die kinders hier aanpas en mens nie regtig oor hulle hoef bekommerd te wees nie. Dit is so ver verwyderd van die waarheid, die kinders sukkel. Hulle hele verwysingsraamwerk verander, die manier oor hoe hulle skoolgaan en dan nog in 'n ander taal is baie om te verwerk. Kinders het verskillende maniere van hoe hulle die veranderinge waarmee hulle gekonfronteer word sal verwerk. My seun byvoorbeeld slaan toe, die 2ling het mekaar maar Celeste het die geneigdheid om die grense te toets en die jongste is 'n floater. Nie een van hulle verwerk veranderinge dieselfde nie, en voor ons deur le weer groot veranderinge.

Die naweek in Sydney het weereens vir my bewys dat maak nie saak hoe oud of jonk mens is nie, elke situasie moet aangepak word met groot deursettings vermoee sodat die eiend resultaat goed sal wees. Ek as veertig plusser het op 'n stadium lam van benoudheid gaan stil sit en die vreesaanjaende situasie getackle. Hier sit ek af na Sydney van Melbourne op my eie, die kinders is alleen vir die naweek by die huis. Van die vliegtuig af is ek op 'n trein in stad toe. Die paniek slaan my so erg dat ek so erg perspireer dat my voete sopnat is en ek eintlik gly in my mooi netjiese skoene. Ek was dood seker daar was dalk 'n natkol op die sitplek ook, maar ek wou liewers nie kyk nie. Gelukkig het 'n foonoproepie na manlief die paniek stasies se klokkies laat bedaar, ek is op die regte trein. Later die middag toe moes ek 'n agent gaan sien vir huise in die Cherrybrook omgewing, die verkeer is so erg en die strate so smal ek begin skoon van vooraf om 'n paniek aanval te kry. Ek is eintlik naar van die paniek ek sweet en dit voel of ek in 'n sauna sit. Wat nog erger is ek kan nie eens die kar in rat kry om te bestuur nie. Het julle al ooit by verkeerslig gestaan, die lig slaan oor na groen en jy trap daardie verdompde petrol pedaal maar helaas boggerol wil gebeur. Die enjin kla maar jy verstaan nie nou so lekker wat gaan aan nie. Wel dis ek, daardie blond wat nie verstaan mens moet die kar in rat sit om vorentoe te beweeg nie. Jy sit die kar se aircon op full blast wanneer jy besef jy's die simpel een, en jy probeer afkoel sodat jy jou composure kan terug kry.

As sulke klein dingetjies my hele wese om dompel hoeveel te meer moet dit nie vir die kinders wees nie. Nuwe skool, nuwe omgewing, nuwe maats. Al wat ek vra is dat die Liewe Heer tog asseblief die regte mense op my kinders se pad plaas om hulle te help om die verandering te verwerk.

Thursday, October 13, 2011

Ouerskap

Ouerskap is nie vir sussies het ek uitgevind en beslis nie as jy vier tieners het nie.

Daar kom dae wat jy jou kop laat sak en die moedeloosheid jou sommer so oortrek. Jy voel of jy sommer net kan gaan le. Elke greintjie energie van jou word getap en dan nog 'n bietjie. Jy wonder waar het alles verkeerd gegaan. Wat het jy gedoen om met hierdie lewe opgesaal te sit, wat het jy aan jou ouers gedoen dan hierdie ding so oor jou moet kom.

Dis hoe dit voel aan etenstafel omtrent elke aand. Ons eet elke ete almal saam om die tafel. Daar is geen selfone by ons en die tv is af. Eenstyd is gesinstyd. Hier praat ons oor alles wat deur die dag gaan gebeur en oor wat het gebeur. Dit is waar geen onderwerp taboe is en waar ons openlik en eerlik sonder enige pretensies praat.

Dit is tydens hierdie gesprekke wat die moedeloosheid jou so oortrek.

Toe ons nog kind was, was baie onderwerpe nie bespreek nie, nie stil in die kamer of wat nog te se aan die etenstafel nie. Jy is gesien en nie gehoor en ek is seker dit het in baie ander huise ook so gegaan. Dit is presies oor hierdie saggies praat en agter die deur praat wat ons besluit het dat dit gaan nie in ons huis so wees. Min het ons geweet watse lat het ons vir onsself gepluk.

Dit het eintlik al begin toe ons vanmiddag almal gaan koffie drink het by die mall. Dit het begin met 'n grappie en vandaar het dit 'n snowball effek gehad. Dit bly nooit net by een grappie nie, dit bly ook nooit by mooi skoon grappies nie. Met die 2ling weet mens nooit of liewers met nommer 2 weet mens nooit. As sy eers lostrek dan is dit soos 'n rivier wat skielik in vloed is.

Grappie nommer 1

Once upon a time there was a crossed eye teacher, she got fired.
She couldn't control her pupils.

Grappie 2

I dumped my cross eyed boyfriend, he was seeing somebody else.

toe beweeg dit na meer sinister grappies

I had a biology test today. I failed miserably
One of the questions was "What is commonly found in cells?
Apparently black people weren't the answer.

Ek het die gevoel gekry hier gaan dit nie eindig nie, nodeloos om te se dit het nie.

So om die tafel praat ons toe oor die 2ling se kampe wat voorle en watse voorbereiding gedoen moet word. Nicolette praat oor die tente waarin hulle gaan slaap wat toe nie tente is nie maar seile waaronder hulle gaan slaap. Celeste begin toe natuurlik idees kry oor watse nonsens kan sy aanjaag tydens die kanovaarte. Baie vinnig ruk ons haar in die bek en vertel haar mooi dat mens doen nie onverantwoordelike dinge op die rivier nie.

Die gesprek gaan toe oor na die slaap reelings en dis hier waar dinge sommer heeltemal uitrafel. Alex besluit toe ons moet in 'n "chastity belt" bele. Eers moes ons verduidelik wat dit is en mensig toe trek Celeste weg. As ek alles moet vertel wat sy kwytgeraak het dan gaan hier geen einde wees aan my skrywe vanaand, ek weet net dat die prentjie wat sy in my geestes oog geskep het gaan ek moeilik van ontslae raak.