Thursday, March 24, 2011

Wilsons Prom rescue update.

Wel wat 'n nagmerrie week, gelukkig het alles goed ge-eindig. Ek sal verseker nooit weer jubel as ek 'n kind of twee minder in die huis het nie, al sien ek so daarna uit om net 'n bietjie asem te skep en vrede vir so dag of twee te he. Dalk was dit my blinde sambok oomblik gewees, maar jubel gaan ek beslis nie weer nie.

As ek so na Celeste luister dan was die kamp nie al te maklik nie alhoewel sy dit afmaak as groot avontuur. Van Maandag oggend af het dit gereen, onophoudelik, alles van hulle was sopnat. Haar voete spog sy lyk soos oumens voete alles is verrimpeld van die natheid. In totaal het hulle 44km gestap in die drie dae, die derde dag het julle so iets soos 22km gestap nadat hulle geblokeer was deur 'n modderstorting en moes terug draai. Hulle het nie kos gehad die derde dag, alles het sommer net verkeerde geloop, die aand is daar vir hulle versnapperinge afgegooi, maar koekies is nie kos. Die Rooikruis het behoorlik onder die klomp kinders deurgeloop die volgende dag nadat hulle gered is. Hulle het alles verslind wat hulle kon kry om te eet. Dis moes nogal iets gewees het om te aanskou.

Dit was nogal aanskoulik toe ons by die skool stop so net na vyf vanmiddag en die bus is reeds daar. Nicolette kon nie vinnig genoeg die kar se deur oop kry om na Celeste te gehardloop en te omhels, sefs Celeste het van haar groep weggebreuk en haar na Nicolette gehaas toe sy ons kar sien. Ek wonder of die twee mekaar gemis het, wonder eintlik wie het vir wie die meeste gemis.

Sy persoonlik het Maandagoggend laas seep en water gesien, so kan julle julself indink die lieflike aroma wat deur die huis gesweef het soos wat sy van kamer tot kamer gedrentel het.

Ek wil vir ieder en elke mens wat vir die kinders se veiligheid gebid het se baie dankie. Aan al die reddingspanne en die polisie, die ouens het onophoudelik gewerk om alles te laat uitwerk. Ek haal my hoed af vir al die volunteers wat ure gespandeer het om die nooddienste by te staan. Ek is dankbaar om in die land te wees waar mense lewens nog saak maak.

Wednesday, March 23, 2011

Wilsons Prom rescue

Hierdie week was veronderstel om ‘n rustige week te wees. Die 2ling is op ‘n kamp na Wilsoms Prom en dit sou ‘n adrenalien geboude avontuur vir hulle gewees het. Maandagoggend net so na vyf het daar so ‘n lekker rustige stilte oor die huis neergesak. Ek het nogal so ‘n lekker jubel hier in my moederhart gehad want om net twee kinders vir ‘n week by die huis te he moet absolute bliss wees, of so het ek gedink.

My bliss het net tot Dinsdag gehou, die weer het soos gewoonlik hier in Melbourne nie lekker saam gespeel nie. Daar is drie groepe kinders laat Dinsdag middag ontruim uit die kamp gebied. Die weer het drasties verander en gelukkig het die ouens die weer mooi dopgehou die hele tyd. Van die ander ses groepe was twee nog te ver op hulle staproetes uit om terug na die basis kamp te keer. Die reën het nogal met verwoesting neer gesak en die Tidal Rivier was in vloed. Daar het meer as 300mm reën neergesak gedurende die aand en sodoende twee groepe afgesny vanaf die ander kampeerders.

Nicolette was in die eerste groep kinders wat ontruim is, haar enkel was te seer na die vorige week wat sy die verstuit het tydens ‘n netbal wedstryd. Sy is toe uit haar oorspronklike groep adrenalien junkie kinders terug na die basiskamp en sou dit verder rustig gevat het by die kamp. Alles was sopnat wat terug gekom het. Volgens haar het dit letterlik gereën vandat hulle Maandag oggend begin stap het. Ek kan nie dink dat dit enigsins lekker kon gewees het nie, maar kinders sien nie ‘n ding so nie, vir hulle is dit avontuur.

Die dorp Wilsons Promontory is ook in vloed en was ook vir ‘n groot gedeelte van die dag afgesny van die wereld, die skade was so erg dat twee brue ook verspoel asook die pad uit Wilsons prom reservaat. Dit het ons nie veel gehelp om al die beeld materiaal te sien en te weet dat ons kinders is deel van die 300 gestrande mense. Gelukkig is die mense hier behoorlik gegear vir enige tipe noodgevalle en die mense het hulle goed van hul taak gekwyt. Laat middag is daar besluit om van die mense met helikopters uit die vloed gebiede te haal en op veilige grond te sit. Dit as sulks moet ‘n ondervinding op sy eie wees, en soos ek my kind ken moet die heng exciting wees. As ouer is mens maar heeltyd bekommerd want die natuur kan enige tyd teen jou draai maak nie saak hoe goed die reddingsplanne is nie.

Van die kinders is so deur die helikopters toe na veiligheid gebring, maar my kind het nie die cut gemaak. Sy en Simone, nog ‘n Suid Afrikaner, is nog binne die natuur reservaat en sal eers Donderdagoggend na veiligheid gebring kan word. Daar was twee opsies om die mense uit die reservaat te kry, dit was of met ‘n boot via die see of met die helicopter. Alles het net afgehang van die weersomstandighede en ons almal weet hoe onvoorspelbaar is Melbourne se weer, gee dit net vyftien minute.

Aangesien die gety begin inkom het was dit ‘n risiko vir die ouens om weer op die strand te land en sodoende is die reddings poging tot ‘n halt geroep. Dit sal nou hervat word moreoggend sodra die gety terug getrek het. As alles goed verloop behoort Celesté moreaand in haar eie warm bed te slaap. Ek glo Nicolette sal baie verlig wees, sy is reeds so in ‘n toestand omdat sy tuis is en haar tweeling suster nog nie.

Ons sal maar sien hoe eindig hierdie episode, maar soos ek dinge sien werk hier, behoort alles goed te eindig.

Sunday, February 27, 2011

'n Propvol program

Die naweek het vinnig nader gekom, en mense was dit ‘n vol program. Vrydag aand was dit AAMI park en die Rebels, Saterdag het die meisies netbal wedstryde gehad in die middag en Sondag was dit weer piekniek tyd. Piekniek by Hanging Rock.

Na verlede week se verskriklike nederlaag teen die Waratahs het ons nie gedink die Rebels sal enigesins mense trek nie. Groot was die verbasing eintlik toe 15 000 mense die stadion betrek en die atmosfeer weereens elektries was. Die Rebel Army het hulle ding gedoen en die mense lekker opgewarm. Ons het op ons gewone “cheap seat” plekkie gaan sit en die wedstryd met so ‘n halwe beklemming om die hart gekyk. Dinge het so in die begin nie te lekker gelyk nie, die verdediging was nie goed, die spel het maar net nie lekker op dreef gekom nie en so halfpad deur die eeste helfte het ek amper begin moed opgee. Is hierdie nog ‘n vernederende pakslae wat ons sal moet dra het ek so in my binneste gewonder, maar mense het die toeskouers die spelers gedra. Toe daardie eerste drie punte aangeteken word was daar nie keer, die Rebel Army het kom klop. Die gedreun van die kreet het jy oor en oor gehoor, WOW, hier gebeur iets, en jy kry sommer so ‘n lekker gevoel. Met die eerste drie deur die kaptein toe lig daardie dak, nie dat daar ‘n dak is nie, die skare gaan mal en jy sit daar en weet, hierdie gaan ‘n stadion raak waar opposisie spanne heeltemal ge-intimideer gaan word deur die ondersteuners. Met die laaste minute nog op die klok, die spanning wat hoog loop word die wen punte aangeteken, die vibrasie wat jy voel so deur die sement is die ondersteuners se vreugde wat geen perke ken nie. Mense as jy nog nie hoendervleis gekry het wanneer jy so sit en ‘n riller wedstryd kyk nie, dan is jy ‘n klip. Dit is absoluut amazing. Die mense staan bankvas, niemand beweeg, behalwe natuurlik die opposisie ondersteuners, almal wag op hulle span om die “honour lap” te doen. Dit was ‘n wedstryd wat ek nie maklik sal vergeet nie. Ons kaartjies vir 11 Maart teen die Sharks is geboek.

Die 2ling en Clarissa het hierdie naweek hulle eerste netbal wedstryde gehad, daar was hoogte punte en laagte punte. Die laagte punt was die nederlaag wat die 2ling gehad het, ‘n totale “thrashing”, dit was so erg mens kan nie die punte herhaal nie. Hopelik is volgende week se wedstryd beter. Clarissa se span het goed gevaar en hulle het heeltemal oor die ander span geloop en gewen. Die meisies was lekker moeg gewees na die hittige aksie volle dag.

Die Age het weer hulle Harvest Festival aangehad hierdie naweek by Hanging Rock met so om en by 80 stalletjies wat al hulle ware uitgestal het. Ons was vroeg uit die vere om die trein te kry in stad toe van waar ons toe ‘n “country” trein sou gekry het. Aangesien daar op die spesifieke treinlyn gewerk was is ons met busse vervoer. In ons hele reisplan het ons ‘n totaal van nege oorklim punte gehad. Ons is weg by die huis met die kar, trein gery tot in die stad, bus rit tot op Woodend stasie, bus tot by Hanging Rock waar die fees was, terug op die bus na Woodend stasie, trein rit tot op Sunburry stasie, bus tot in die stad, trein terug huis toe, in die kar veilig tot by die huis. Volgende jaar ry ons met die kar tot by Hanging Rock.
Die weer het gelyk of dit nie gaan saamspeel nie, dit het lekker katte en honde gereën hier by ons en dit het mens maar laat wonder wil jy in die reën en modder wees heeldag. As mens jou enigsins aan Melbourne se weer gaan steur dan gaan jy beslis nooit uit die huis kom nie, so ons is toe hier weg met positiewe denke en die hoop op baie wystalletjies. Hoe langer mens hier bly, hoe lekkerder raak die wyne, so die jaar was ons meer genoeë oor die verskillende wyne wat ons geproe het, dis nou al die rooi wyne. Ek dink van al die wyne het Brown Brothers top punte in ons boekies gekry. Die kinders het die dag net so baie geniet, nie dat mens hulle baie gesien het nie, natuurlik sien mens hulle mos net as hulle geld nodig het. Dit help ook as hulle tieners is en hulle nie saam met Ma en Pa gesien wil word nie.

So kom ons aan die einde van ‘n baie besige en vol naweek. Wie weet wat hou hierdie week vir ons in, maar hopelik net goeie dinge. Ons eerste wynklub kuier en die Lugskou by Avolon is iets om na uit te sien vir die komende week.

Wednesday, February 23, 2011

SAFFA Familie

Dit gebeur so vinnig dat mens siek word en dan in die hospitaal beland met geen "support system" waaraan mens gewoond was nie. Jou familie of vriende is nie naby om te help met die kinders en kosmaak nie. Dan as jou man nog oorsee sit is dit net erger. So gebeur dit dat my vriendin Anli skielik siek word en opgeneem word in die hospitaal, en dit wat sy afmaak as sommer net 'n lastigheid word 'n realiteit. Daar sit sy pens en pootjies binne in ER met 'n ontsteek blinde derm, of liewers dis wat hulle dink.

Nou die van julle wat al vorige posts gelees het van my sal weet, al het jy privaat medies, maak nie saak of dit nou privaat hospitaal is of staats hospitaal, daardie kaartjie beteken blou sweet bogerol. Indien jou pynvlak nie bo 10 uit 10 is, jy nie hartpyne het, of dat die bloed spuit nie dan is dit maar 'n kwessie van wag. En wag sal jy wag. Jy poep teen lig as jy dink tantrums gaan help, hulle escort hulle jou uit die hospitaal met sekuriteit in tou. Die mense het baie tyd, en die "triage" wat jou op die lysie plaas dink ek weet minder van 'n noodgeval af as 'n blinde mol. Die ouens sal nie 'n week in 'n Suid Afrikaanse hospitaal se ER cope, selfs al hang hulle eie lewens daarvan af nie. Die medies mag goed wees hier, maar hulle het bleddie baie om nog te leer as dit kom by 'n noodgeval.

Skielik het ek ses kinders om na om te sien en rond te karwei skool toe en terug, elkeen met sy eie nukke en grille. Wel as nood druk dan doen jy wat jy maar moet doen, jy haal jou hande uit die sakke en jy versorg.

En soos die Saffa gemeenskappie maar is, steek meer hulle hande op en hulle help uit, nie lee beloftes nie, hulle help. Dis nou nie bloed familie nie, maar ons is een groot SAFFA familie wat regtig kan rock.

Aan my groot SAFFA familie hier in Melbourne julle is ankers wat mens vashou en die rigting wysers as ons die pad vorentoe moeilik raak.

Monday, February 21, 2011

Rebel Army flater



Photo: Vince Caligiuri

Groot was die opwinding Vrydagaand, dis ons eerste Super 15 rugby wedstryd en die skare mense het bygedra tot die euforia wat almal gevoel het. Selfs in die trein oppad na Richmond toe kon jy die opwinding voel. Dit was toe maar 'n baie kort euforia gewees. Die eerste 20 minute van die game het dit gelyk na 'n belowende wedstryd, maar toe duik die Rebels letterlik in die hek vas. Die Waratahs het sommer gate in hulle verdediging gehardloop, en die agterlyn was net heeltemal missing gewees. Met die tweede en derde fase spel het die ouens nie die mas opgekom nie, elke keer het hulle die bal verloor. Die Rebels het dalk nou nie behoorlik geperform nie, maar mensig was die skare nou iets om te beleef. Die toeskouers het die spelers aangepor, en die kreet is oor en oor geskreeu, maar die drif was net nie daar vir die spelers gewees nie. Wie weet, dalk lyk die komende week se spel beter teen die Brumbies.

Wat mens telkens in "awe" laat staan hier in Melbourne is die gevoel van gemak waarmee jy in die laat ure van die aand na die stasie toe kan stap met 'n massa mense wat druk en stoot en alles verloop in 'n gesellig atmosfeer. Die gewag op die perron vir die trein het my laat dink aan 'n klomp skape wat wag om na die slagpale gelei te word. Toe die trein arriveer is dit net 'n geskarrel om op te kom, en dis hier waar ons toe besluit om maar liewer vir nog vyf minute te wag tot die volgende trein kom. Hoe gelukkig was ons toe nie, 'n lee trein vir so 20 van ons wat nog wag, en kan jy glo almal Suid Afrikaners. My kinders vertel juis hulle het lanklaas soveel Afrikaans gehoor en nuwe gesigte gesien.

Thursday, February 17, 2011

Seermaak woorde

Ek was hierdie afgelope ruk nogal baie depresief. Die verlange na iets was heeltyd daar maar ek kan net nie my vinger daarop plaas nie. Ek scrap glad nie meer nie, dit voel of ek heeltemal die lus verloor het. Daar is niks wat my trek om al my papiere en boeke uit te haal en bietjie met die mooi goed te speel nie. Ek lees die blogs van al die mense, lees die tydskrifte wat my goeie vriendin in Suid Afrika vir my gestuur het, maar daar is net niks. Hoe kry mens jou mojo terug.

Ek stuur so af en toe vir almal mails oor wat in die omgewing aan is, dis nou verskillede festivals of marke wat aan die gang is. So stuur ek toe nou 'n mail aan almal oor die super 15 rugby en ons nuwe span. Daar is darem so 'n ou ligpuntjie in die donkerte vir my, maar dit het nie gehou. Mense wat terug skryf en nie dink alvorens hulle skryf laat my sommer rooi sien, daar slaan my depro my sommer vir 'n ses. Ek sal twee keer dink alvorens ek weer ope uitnodigings stuur, of liewers ek sensor dit, sensor my email lys dan weet ek daar sal nie sulke lelike angels terug kom nie.

Met al my geblog lesery het ek op hierdie mooi inskrywing afgekom hierdie week. Lees gerus bietjie daar op haar blog ook. Sy kan gevind word op www.netjane.wordpress.com


“For this is what we do. Put one foot forward and then the other. Lift our eyes to the snarl and smile of the world once more. Think. Act. Feel. Add our little consequence to the tides of good and evil that flood and drain the world. Drag our shadowed crosses into the hope of another night. Push our brave hearts into the promise of a new day. With love: the passionate search for a truth other than our own. With longing: the pure, ineffable yearning to be saved. For so long as fate keeps waiting, we live on. God help us. God forgive us. We live on”.

Groete aan almal.

Saturday, February 5, 2011

Rebels ons Super 15 Span




Foto: http://www.austadiums.com/stadiums/stadiums.php?id=279


Die AAMI stadium het sitplek vir so 30 050 mense, en die atmosfeer binne is absoluut amazing. Ons het vanaand na die wedstryd tussen die Rebels en Crusaders gaan kyk. Hierdie is beslis 'n span wat ek dink 'n paar spanne goed les gaan op sê. Alhoewel die Rebels verloor het, het die spel gewys hierdie is 'n span wat beslis met 'n paar ander spanne sal kan meeding. En as ek so luister na al die gespot van my huismense oor my geliefde Cats wat so aan die onderkant van die punte leer altyd rondtos dan hoop ek net die Rebels kan 'n beter doen.

Ons sien uit daarna om die eeste Super 15 game te gaan kyk op 18 Februarie tussen die Rebels en die Waratahs. Kyk maar uit vir ons.