Monday, December 13, 2010

Persepsies.

Dit was toe nou ‘n lekker dolle week gewees met die dat die skool gesluit het vir die jaar. Nou is dit ‘n baie lang en uitgerekte vakansie wat voorlê en ek wonder hoe gaan ek dit deursien tot Februarie 2011.

Die jaar was goed, dit het maar sy op en af oomblikke gehad met die skoolwerk en die Engels daarby, maar as ek so kyk hoe die kinders presteer het dan kan daar nie gekla word nie. Die meisies het ook toekennings ontvang vir hulle vakke, Celesté het Excellence ontvang vir kook en PE en Nicolette het gekry vir kook. Met hierdie toekennings wonder ek en Alex wanneer sal ons die resultates kan proe aangesien ek maar nog steeds al die kook en bakwerk doen.

Ons het Alex se werksfunksie ook gehad en ek is bly om te sê dit is verby. Daar was 'n hele mengelsmoes van mense, rasse en verskillende kulture by die funksie, van die skoonmaker, die fabriekswerker, die kantoorwerkers en die bestuur. Ek het maar so in my stoel gesit en die dinge se deurgekyk, nou ek is nie snob nie of dink nie ek is beter as ander nie, (ek jok partykeer dink ek so, maar dit hang van die situasie af) maar al wat ek kon doen was om my kop te skud. Die kos was heerlik en ons het lekker ge-eet, die geselsskap was nou nie te waffers nie, maar ook omdat ek nog sukkel om die helfte van die gesprekke te volg. Die groep aan ons tafel kom almal van verskillende dele van die wereld, daar was ‘n skot, pommie, tassie (dit is soos ‘n ander deel van OZ) en NZ, elkeen van die mense praat Engels in ‘n ander dialek wat ek nie verstaan, dalk is my ore net nog nie lekker inge-oefen nie.

Die dansvloer het redelik bedrywig geraak en toe die eerste ouens begin rondval op die vloer toe maak ons, ons uit die voete. As die drank eers vrylik loop dan kan mens jouself indink hoe dit gaan eindig, hopelik met ‘n taxi huistoe.

Die son skyn vanoggend so ek moet op en die wasgoed begin was, totsiens tot ‘n volgende keer.

Friday, December 10, 2010

Trotse moederhart.

Hoe trots is hierdie boerehart oor die seun van my.

As deel van Christiaan se Gr10 IT moes hulle ‘n game ontwikkel wat toe ingeskryf is by Monash Universiteit se IT department. Die top 3 wenners van die verskillende afdelings gaan by volgende jaar se Monash Games Boot Camp die geleentheid kry om hulle games en programme bekend te stel aan al die honderde kinders wat van oor die wêreld kom om dit by te woon. Die Computer Games Boot Camp word deur die IT fakulteit gereël en dit is ‘n geleentheid wat nie gemis word deur enige kind wat lief is vir Xbox, Playstation, PSP of selfs die Nintendo DSi. Die kinders word in groepe ingedeel en elkeen kies dan ‘n naam vir hulleself, hulle speel die verskillende games teen mekaar en so elimineer die spanne mekaar tot daar net een groep oorbly. Dis nogal ‘n intense en fun week wat die kinders deurgaan. Daar is ook gaming ontwikkelaars van die industrieë wat die Boot Camp bywoon en die kinders dan ook inlig oor nuwe ontwikkelings wat plaasvind.

Christiaan het tweede plek verwerf vir sy game wat hy ontwikkel het. Saam met die trofee het hy ook ‘n Ipod Nano gewen wat eerdaags in die pos sal wees.

Tuesday, December 7, 2010

Kersfees in die vreemde

Die jaar staan einde se kant toe en dit voel soos gister wat ons hier aangeland het. Ek onthou nog die dooie gevoel waarmee ons die kers seisoen tegemoet gegaan het hier laasjaar. Ons het glad nie die “vibe” gekry dat dit nou eintlik kersfees is nie.

As die Afrika son eers so lekker warm op jou vel val en jy hoor die gejil van jou kinders se geplas in die swembad dan weet jy dit is somer en kersfees is om die draai. Die winkels raak besig en bly tot laataand oop, jy kry sommer net daardie gevoel van hier is iets aan die gebeur. Die kerssang speel deur die arkades en die winkles is so mooi opgemaak van alles wat blink. Die warmte wat jy kry is die kersgevoel wat so in jou gebeente kom sit.

Hierdie jaar is dit effens beter, daardie bekende gevoel is hier in jou agterkop maar dit wil net nie lekker uitkom nie. Daardie gevoel van verlorendheid is nog daar, maar nie meer so erg kloppend nie. Alles is nie meer vreemd nie, en ons sal maar weer sonder die ou gewoonte van ‘n lekker gamon op die weber. Dalk sit ons maar ‘n stukkie Betochi ham op die weber, maar dit is nie dieselfde nie. Dalk sal ons eendag die ekwivalent daarvan kry in iets anders.

Die kinders se skooljaar staan einde se kant toe, Chrstiaan het ‘n week terug al klaar gemaak met skool en twee meriete toekennings gekry. Een was vir Design and Technology, dis nou al sy houwerk en sketse wat hy gemaak het en die ander een was vir beste vordering in OAT. OAT is die buitelewe avontuur vak wat hy gehad het, daar het hulle geleer oor kayaking, fietsry en nog vele meer. My kinders is maar natuurkinders en die vak was maar ‘n natuurlike uitvloeisel van sy belangstellings.

Die meisies maak Vrydag klaar met skool. Die week het hulle ‘n “step up” program gevolg. Dit is waar die kinders voorgestel word aan die vakke wat hulle in die volgende jaar gaan neem, asook wie die onderwysers is wat dit gaan aanbied. Hulle is klaar in hulle klasse opgedeel so jy weet klaar saam wie jy is in watter klasse. Omrede die kinders nogal redelik belangstelling verloor in skool hier van Gr9 af verander die skole hier die kurrikulum vir die graad om hulle gemotiveerd te hou om aan te hou met skool. Die 2ling gaan ‘n baie interresant jaar hê wat voorlê vir hulle. Hulle het ‘n aparte skoolgebou van die res en hulle vakke is baie meer buitemuurs. Een van die vakke wat hulle kan kies is OAT, en as ek die boekie so bekyk gaan dit die ene prêt wees. Daar is riverrafting, abseiling, rotsklim en nog vele meer om te doen. Hulle gaan vir ‘n hele week by Wilsonsprom kamp waar hulle onder andere in die natuur reservaat ‘n staproete moet volg. Wilsonsprom is ‘n baie mooi natuur reservaat wat omtrent so twee ure se ry van ons af is in Gippsland. Nicolette gaan aan met haar Duits want sy wil graag as uitruil student vir ‘n paar weke na Duitsland gaan in Gr10. Celeste gaan kook klasse vat en die juffrouens (wat gekwalifiseerde chefs is) is so in hulle noppies met die kind se skills. As hulle maar net weet dat sy ‘n jaar lank onder die getroue hande van chef Toi Coetzer was. Wie weet dalk wen sy eendag Masterchef Australia, sal dit nou nie enige Afrikaner hart trots maak nie.

Friday, December 3, 2010

Tweedehands is IN

Ek is weereens verbaas oor hoe gemaklik die mense hier is om tweedehandse boeke of klere te koop sonder om te blik of te bloos. As die mense enigsins 'n dollar of wat kan spaar dan spring hulle om die geleentheid te benut.

Vandag het ek by die skool gewerk om die boeke te help verpak asook om die bestellings wat geplaas is te verwerk. Ons het behoorlik bont gestaan om almal se bestellings gevul te kry. Hier word elke handboek wat gebuik word deur die ouers aangekoop, en dit is nogal 'n redelike duur storie. As mens nuut is in die skool en jy sien die bedrywigheid dan lyk dit soos 'n absolute deurmekaar spul, maar met ons tweede ronde toe ondervind ons dit sommer baie beter. Vinnig is die handboeke uitgesorteer vir volgende jaar en nou konsentreer ons op die vakansie by Merimbula wat voorle.

Met die skool klere werk dit dieselfde, as die kinders die skool verlaat of as die klere te klein is dan gaan dit na die tweedehandse klere bank, basies maar soos in Suid Afrika, maar die verskil hier is die mense stroom na die klere bank om die klere te koop. Weereens omrede die klere so duur is koop die mense dit tweedehands. Elkeen maak 'n geldtjie hieruit, die ou wat die klere indien en die skool en natuurlik spaar jy as ouer 'n paar rand, oeps dollar ook.

Thursday, December 2, 2010

Dit broei donderstorms

My gemoed is soos die donderstorm wat daarbuite gebroei het vandag. Dit broei al ‘n paar dae hier binne . . . . . . .

Kyk ek is sommer kort om goed die moer in. Dalk is dit die tyd van die jaar wanneer jy alles in heroorweging neem en oor die jaar sit en tob. Maar hoe meer ek sit en dink hoe meer raak ek die moer in. Dalk verwag ek te veel, dalk is ek die probleem want soos ‘n mens maar is gaan haal jy gewoonlik dinge daar agter die berg uit wat maar eintlik daar kon gebly het. Ek dink aan my kinders en hulle verwagtinge wat hulle gehad het vir die jaar, hulle verjaarsdae wat verby is en nou kersfees wat nou voorlê. Is hulle nie meer belangrik nie, ek wonder. Minder moeite word nou vir hulle gedoen, ‘n briefie of kaartjie in die pos is te veel gevra.

Is ‘n doodeenvoudige dankie te veel gevra of moet mens aanneem noudat ons hier sit en julle daar dat dit nie nodig is nie, word alles vanself sprekend net aanvaar. Is ‘n doodeenvoudige vinnige e-possie ook nou te moeilik aangesien almal baie besig is en die werk skielik meer tyd vat want dit is die fees seisoen jy weet.

Ek probeer om die blog redelik gereeld op te dateer sodat almal darem so bietjie op hoogte kan bly van wat hier aangaan in ons lewens, maar dis ‘n eenrigting straat. ‘n Eenrigting straat waaruit ek niks kry, nee eintlik jok ek nou verskriklik. Ek kry iets daaruit, ek kry my gemoed skoon, ek sê my sê en kry dit uit. As ek dit nie doen nie dan vreet dit aan my soos kanker hier diep binne in my gemoed. Kom ek iemand dalk te na dan is dit OK.

En sodra ek dink alles is verlore kry ek onverwags daardie DANKIE e-mail, dalk het iemand geweet van die donderstorm wat broei.

Monday, November 22, 2010

Die gejaag na wind.

Hierdie afgelope week was nogal besig gewees. Partykeer het mens net te veel dinge en te min tyd om alles klaar gedoen te kry, maar soos gewoonlik werk dinge uit en alles word tog afgehandel.

Ons het ons jaarlikse Afrikaanse kerssang diens by Wonga Park Christian Reform Church gehad Sondagaand, en al die dames het wonderlik saam gewerk om van die geleentheid eintlik ‘n reuse sukses te gemaak het. Dinge het in die begin nie so lekker gevlot nie, maar soos mens die kinkels maar uitwerk kom die plan tog mooi bymekaar. Ons het eintlik ‘n klompie amazing vrouens in die gemeente, daar is Heidi Kruger wat die mooiste lap geverf het vir ons met die drie wyse manne, Erna Duvenage wat met die idée vorendag gekom het en die apliek werk op die lap gedoen. Dan is daar Anli Roelofse wat die beplanning van die aand gedoen het met al die versierings en die eetgoed, en dan al die helpers soos Tania Steyn, Susan de Lange, Cecilia Blignaut en Hendrika Jooste. Die vrouens rock!

Christiaan het ook begin met voorbereiding vir sy eksamen. Al sy vakke word in drie dae geskryf, dit is nogal ‘n bietjie hectic, maar dis hoe dinge hier gedoen word in die skool. Soos gewoonlik het die kind nie behoorlik time management toegepas nie en saam met die leerwerk was daar ‘n houtwerk projek wat ook moes klaar kom. Nodeloos om te sê het ons soos gewoonlik weer tot laataand gewerk om die projek klaar te kry, mens sou sweer die 5 weke wat hy kans gehad het om die ding te doen nie genoeg was nie. Wanneer sal hy tog ooit leer. Hy skuld natuurlik vir Alex en die gaan kollekteer. Die voorbereiding / “step up” program vir Gr11 word gedoen net na eksamen en dan is hy klaar met skool vir die jaar tot Februarie volgende jaar. Hy gaan natuurlik bietjie suffer volgende jaar want hier kan jy al in Gr10 al begin om Gr11/12 of soos dit hier genoem word VCE vakke te neem. Hy het besluit om in Gr11 alreeds te begin met een van sy Gr12 VCE vakke. Ons sal sien hoe baie word daar Xbox gespeel.

In die komende week gaan Celesté optree in die Union teater by Melbourne Universiteit. Die drama groep (Childrens Performing Company of Australia) waarby sy betrokke is het ‘n opvoering, dit behoort fun te wees. Dit laat my terug dink aan al Nicolette se ballet opvoerings in die staatsteater in Pretoria. Wat nogal opmerklik was hier is ons het duidelike riglyne gekry oor waar die kinders afgelaai moet word, wat die reels is oor foto’s en opnames binne in die teater is asook al die reels oor veiligheid en etiket. Die mense is fanaties oor al die “safety procedures” in plekke. Dit laat mens dink aan die lugwaardinne wat op die vliegtuie staan en mimiek elke keer as jy iewers heen vlieg.

Ons het weereens huis inspeksie gehad en darem 'n goeie verslag gekry. Hier word die huis wat jy huur elke ses maande besoek en alles word gecheck. Foto's word geneem van die huis en aan die eienaar voorsien om te verseker dat jy die huis netjies oppas en skoon hou. Ek weet nie hoe kry die average Ozzie dit reg om ooit sy deposito terug te kry nie, die huise wat ek al hier gesien het laat my hare regop staan hier. Ons was laasweek in 'n maatjie van Clarissa se huis gewees en mense dit was maar 'n grillerige ondervinding. Dit lyk net of die ouens nooit skoonmaak nie, niks word gebere of weggepak nie. Alles is oor die oppervlak van die huis se vloer gestrooi en almal klim maar bo-oor dit. Selfs die kat het 'n rojale tyd in die huis, sy speel bal was 'n appel wat so oor die vloer gly.

Thursday, November 18, 2010

Kinders van vandag.

Ek glo nie dit maak saak waar jy bly, of dit nou in Oz of Suid Afrika is nie. Maak nie saak hoeveel kinders jy het of hoeveel geld jy in die bank het nie. Ons almal het dieselfde issues met ons kinders. Dis as of die ore net nie lekker funksioneer nie. Iewers is ek seker het daar ‘n kortsluiting ingetree, as ek tog net kan uitvind waar dit is.

Jy praat mooi, lek gat, smeek, vloek en skreeu, maar wragtag dis asof niks help nie. Die doofgheid wil nie weg, of liewers hulle is sommer heel op ‘n ander planeet. Partykeer lyk dit of hulle boomrook want die kyk wat jy kry as jy durf iets vra laat my dink aan die blomme kinders van die sestigs. Daai kyk van “Hey bra wat’s fout. Chill man” Hoe is dit dat ons ouers ons groot gekry het. Ons het tog geluister as hulle gepraat het, of liewers daai kyk het sommer alles gesê en terug praat was taboe. As jy ooit durf terug praat het dan was jou ore sommer witwarm geklap gewees. Wat het soveel verander dat ons kinders nie kan verstaan as jy praat nie. Is dit vandat almal skielik regte bekom het dat ons kinders nie luister nie.

Van vroeg af het ek probeer om my vier kinders te leer dat as jy iets soek moet jy daarvoor werk. Niks is verniet in die lewe nie, maar ek glo nie ons kinders verstaan daardie konsep nie.

Vandag toe ons vrouens so sit en om die tafel werkskaf om die kers sangdiens se “bling” klaar te maak begin ons so gesels oor ons kinders en hulle dinge. Dit lyk altyd asof dinge so rustig in ander mense se huise is, maar as jy eers begin gesels dan besef jy dis net ‘n persepsie wat jy vorm. Die werklikheid is absoluut iets heel anders. Dalk moet ons ‘n realiteits program begin waar ons kinders swop van een huis na ‘n ander, maar die huisreëls van die eenhuis na die ander mag nie verander. Ek wonder hoeveel waardering sal die kinders dan vir hulle eie ouers dan hê.

Enige takers daar buite?