Thursday, November 18, 2010

Kinders van vandag.

Ek glo nie dit maak saak waar jy bly, of dit nou in Oz of Suid Afrika is nie. Maak nie saak hoeveel kinders jy het of hoeveel geld jy in die bank het nie. Ons almal het dieselfde issues met ons kinders. Dis as of die ore net nie lekker funksioneer nie. Iewers is ek seker het daar ‘n kortsluiting ingetree, as ek tog net kan uitvind waar dit is.

Jy praat mooi, lek gat, smeek, vloek en skreeu, maar wragtag dis asof niks help nie. Die doofgheid wil nie weg, of liewers hulle is sommer heel op ‘n ander planeet. Partykeer lyk dit of hulle boomrook want die kyk wat jy kry as jy durf iets vra laat my dink aan die blomme kinders van die sestigs. Daai kyk van “Hey bra wat’s fout. Chill man” Hoe is dit dat ons ouers ons groot gekry het. Ons het tog geluister as hulle gepraat het, of liewers daai kyk het sommer alles gesê en terug praat was taboe. As jy ooit durf terug praat het dan was jou ore sommer witwarm geklap gewees. Wat het soveel verander dat ons kinders nie kan verstaan as jy praat nie. Is dit vandat almal skielik regte bekom het dat ons kinders nie luister nie.

Van vroeg af het ek probeer om my vier kinders te leer dat as jy iets soek moet jy daarvoor werk. Niks is verniet in die lewe nie, maar ek glo nie ons kinders verstaan daardie konsep nie.

Vandag toe ons vrouens so sit en om die tafel werkskaf om die kers sangdiens se “bling” klaar te maak begin ons so gesels oor ons kinders en hulle dinge. Dit lyk altyd asof dinge so rustig in ander mense se huise is, maar as jy eers begin gesels dan besef jy dis net ‘n persepsie wat jy vorm. Die werklikheid is absoluut iets heel anders. Dalk moet ons ‘n realiteits program begin waar ons kinders swop van een huis na ‘n ander, maar die huisreëls van die eenhuis na die ander mag nie verander. Ek wonder hoeveel waardering sal die kinders dan vir hulle eie ouers dan hê.

Enige takers daar buite?

No comments:

Post a Comment