My gemoed is soos die donderstorm wat daarbuite gebroei het vandag. Dit broei al ‘n paar dae hier binne . . . . . . .
Kyk ek is sommer kort om goed die moer in. Dalk is dit die tyd van die jaar wanneer jy alles in heroorweging neem en oor die jaar sit en tob. Maar hoe meer ek sit en dink hoe meer raak ek die moer in. Dalk verwag ek te veel, dalk is ek die probleem want soos ‘n mens maar is gaan haal jy gewoonlik dinge daar agter die berg uit wat maar eintlik daar kon gebly het. Ek dink aan my kinders en hulle verwagtinge wat hulle gehad het vir die jaar, hulle verjaarsdae wat verby is en nou kersfees wat nou voorlê. Is hulle nie meer belangrik nie, ek wonder. Minder moeite word nou vir hulle gedoen, ‘n briefie of kaartjie in die pos is te veel gevra.
Is ‘n doodeenvoudige dankie te veel gevra of moet mens aanneem noudat ons hier sit en julle daar dat dit nie nodig is nie, word alles vanself sprekend net aanvaar. Is ‘n doodeenvoudige vinnige e-possie ook nou te moeilik aangesien almal baie besig is en die werk skielik meer tyd vat want dit is die fees seisoen jy weet.
Ek probeer om die blog redelik gereeld op te dateer sodat almal darem so bietjie op hoogte kan bly van wat hier aangaan in ons lewens, maar dis ‘n eenrigting straat. ‘n Eenrigting straat waaruit ek niks kry, nee eintlik jok ek nou verskriklik. Ek kry iets daaruit, ek kry my gemoed skoon, ek sê my sê en kry dit uit. As ek dit nie doen nie dan vreet dit aan my soos kanker hier diep binne in my gemoed. Kom ek iemand dalk te na dan is dit OK.
En sodra ek dink alles is verlore kry ek onverwags daardie DANKIE e-mail, dalk het iemand geweet van die donderstorm wat broei.
No comments:
Post a Comment