Dit is nou amper ‘n jaar terug wat ons die groot tog aangepak het uit Suid Afrikan na Australia. Vir baie mag dit dalk die land van melk en heuning wees, maar dit is nie eintlik veel verskillend van ons geboorteland nie.
Elkeen het sy goeie en sy slegte en dit vat baie van ‘n mens om dit te sien vir wat dit is. Ons mag dalk nie eendag terug gaan na ons geboorteland nie, maar hier kan ons ‘n lewe maak. Ek self moet nog baie keer myself inhou oor wat ek sien, veral in die skole stelsel hier, en wat ek hier sien is die voorland vir julle in Suid Afrika. Dit is glad nie ‘n mooi prentjie nie en indien die ouens dit regkry om Christenskap uit die skole stelsel te verwyder kan dit net ‘n rampspoedige gevolg hê.
Ek sien die mooi hier in die landskap, nie dat dit sekerlik ooit naby Afrika sal kom nie, maar die wynlandgoed wat net om die draai van ons is iets om te beleef. Die Kangaroo Ground net hier agter ons verby Warrandyte in die vroeë oggend ure is iets om te beleef veral as die mis so oor die wingerde kom lê. Die lowergroen gras oor die lande en die Yarra rivier wat stadig oor die klippe konkel na die vloede van vroeer in die maand. Die plek het sy eie bekoring en dit is nou my plek die.
Ons voel vry hier, die gemak waarmee jy kan rond beweeg gee ‘n rustigheid af en jy kan jouself nie indink oor hoe jy ‘n jaar terug geleef het nie. Ons het vir twee aande na mekaar heerlik tot laatnag gekuier en glad nie twee keer gedink oor die pad huistoe nie. Daar was geen wye draai wat jy gooi met die kar se ligte alvorens jy die garage se deure oopmaak nie, nie die angstige rondkyk vir wat dalk iewers agter ‘n boom mag uitspring nie. Die gevoel van “lockdown” elke keer as dit slaaptyd is, is iets van die verlede. Dis nie dat hier nie ook roof is in die omgewing nie, hier is, maar die bliksems word gevang. Hier is moord, die jeug ruk hande uit en steek mekaar met messe, ouens word laatnag op die treine aangeval of selfs in die stad, hier is dieselfde probleme met kriminele as in Suid Afrika, die verskil hier is dat die polisie hulle werk doen. Dalk is die ouens trots op wat hulle doen, dit is nie net ‘n doel tot ‘n middele nie, dit is ‘n passie.
Die lewenskoste hier is baie duur, baie duurder as wat mens sou gedink het. Brood kos my $6, in julle terme R36, dan het ek ‘n bargain gekry want dit sal 2 vir die prys van 1 wees. Skaap tjoppies kos my so $16 per kilo en ‘n blok kaas sal omtrent $11 wees, biltong kan mens omtrent nie bekostig nie, so jy maak maar jou eie. Om ‘n huis te koop is onbekostigbaar in die begin. Jy moet 20% neersit as deposito en dan nog jou oordragskoste, en steenhuise is iets wat jy nie sommer hier sal sien nie. Die gemiddele huispryse hier in ons omgewing is enige iets van $700 000 tot $1 200 000, en dit vir ‘n houthuis.
Ek persoonlik dink ons dokters is beters as die ouens hier, dit voel partykeer vir my of die ouens te bang is om ‘n diagnose te maak. My term van privaat medies en die ouens se term is nie dieselfde nie, ek moet dit nog uitpluis. Hier betaal jy nie om dokter toe te gaan nie, maar jy betaal vir jou medisyne. Hier sukkel ek om behoorlike medisyne oor die toonbank te koop, die mense is baie “versigtig” , of dalk was ons net te gemaklik oor wat beskikbaar was oor die toonbank.
Ek het geleer om meer gewaagd te wees oor wat ek eet. Gewoonlik sou ek vinnig my neus vir iets opgetrek het, ek sou nooit my mond aan Chinese of Thai kos gesit het nie. Ek het beslis op baie uitgemis. Nou trek ek my neus op vir KFC en McDonalds, dit is nie meer ‘n alternatief op ‘n Vrydagaand nie.
Om jou kar te diens vat ‘n uur, dit word ‘n “express” diens genoem. Jy betaal hier vir jou kar dienste, dalk kan die ouens die konsep van ‘n motorplan nie hier insien nie. Die man wat jou vullis kom verwyder doen dit alles self, hier is nie ‘n klompie handlangers wat tydens die kersseisoen kom bakhand staan en vra vir ‘n “krismisbox” nie. Die padwerkers wat langs die padstaan is baie kere vrouens en die supermark het jongmense wat die rakke volhou met die voorraad. Jy moet jou eie petrol ingooi en dan in gaan om te betaal. As die tou te lank is by die till maak hulle vinnig ‘n ander een oop, hulle lewer die ou mense se groceries by de huis af, en nou praat ek nie van online shopping nie.
Ons het goeie mense agter gelaat, familie met wie ons heerlik kon kuier oor ‘n braaivleis vuurtjie. Vriende en vriendinne wat ons jare geken het, met wie ons ‘n pad gestap het en jou diepste gevoelens ken. Hier het ons goeie mense leer ken, wat weet deur watter diep waters mens gaan as jy hier land. Hier bou ons ‘n nuwe familie deur vriendskappe wat gevorm word waarvoor ons diep dankbaar is.
Ek is innig dankbaar vir ons Heilige Vader wat ons deur hierdie proses lei.
No comments:
Post a Comment