Wednesday, May 19, 2010

Ek le so lekker in my warm bed nou, dit raak vrek koud hier. Dit voel so of die winter op ons is, maar dis nog net die begin, dit raak blykbaar baie nat en baie koud. Sal maar sien hoe pas ons aan. Hopelik sal ons die sneeu geniet in die berge, dis darem net so twee ure se ry soontoe. Ons beplan om Mt Baw Baw toe te gan, sal julle op hoogte hou.

Wel kom ek vertel net gou vir julle, Roelf se drama met die hospitaal is nog nie verby nie, die arme ou het gaan staan en sy arm ook nog breek. Nou sit hy met 'n gebreekte been en 'n gebreekte arm, nou is hy in 'n rolstoel. Sy arm het hy gebreek by die tieners se "youth" groep.

Doe hokkie hou die meisies darem besig, en natuurlik vir ons op Vrydae aande. Dis nie pret om teen 9 grade langs 'n baan te staan, en as dit nog reen is dit minder pret. Hierso oefen en speel die kinders wedstryde of dit nou sonskyn weer is en of dit nou reen dit maak nie saak nie. Ek het darem vinnig geleer om in lae aan te trek na die sport toe. Ek lyk soos 'n eskimo, maar tenminste is ek gepantser teen die koue, moet nog net vir Alex mooi leer.

Ons bybelstudie groepie is besig met die boek Openbaring en mensig mense dis eintlik 'n interresante boek. Ons het laasweek begin en het net oorhoofs gesels. 'n Interresante website wat julle na kan gaan kyk is http://www.raptureready.com en hier is baie goeie artikels. Ek dink nie ons besef hoe naby die tyd is nie.

In die gemeente waar ons is naamlik Wonga Park Christian Reform Church is eintlik 'n tipiese immigrante gemeente. Hier is 'n wye spektrum van mense in die kerk, klompie Suid Afrikaners, Duiters en Hollanders. Ons het die week 'n klompie van die ouer lidmate bederf met eg Suid Afrikaanse gebak. Hulle het dit so geniet om bederf te word, en so het ons gepraat oor alles en nog wat. Partykeer raak mens so verstrengel in jou eie dinge dat jy nie besef die mense rondom jou verstaan jou nie eintlik nie. Ons is so geneig om onmiddelik Afrikaans te praat as ons iemand sien, jou brein se Afrikaans en jy begin dan sommer in jou moedertaal gesels, jy vergeet skoon dat die ander in die geselsskap dalk nie verstaan. My brein is nog nie so ingeskakel dat ek net Engels praat nie, so moet ek nou probeer om my mede lidmate te akkomodeer en hulle nie uitsluit uit die gesprekke nie. Dit gaan nogal baie dinkwerk verg.

Van die lidmate wat ons mee gekuier het is almal diep in hulle sewentigs, tagtigs en begin negentigs. Hierdie klomp ou mense is nog almal aktief, hulle stap en kuier en blykbaar is hulle dagboeke nogal besig. Die een omie Phillip Nel (ou Suid Afrikaner / Hollander) is noual dertig jaar hier in Australia en het so tweejaar terug vir die eerste keer terug gegaan na Suid Afrika. Hy was verstom oor die veranderinge, wat hom die meeste getref het is die feit dat die pad tussen Jhb en CPT 'n goeie 100km korter is as in hulle dae. Ook dat al die klein dorpies nou afgesny is van die groot pad. Hy is nou 81 al en sy kop werk nog goed.

Boeta het sestien geword en ek kan nie glo hoe die tyd gevlieg het nie. Die kind is yslik groot en is alreeds 'n kop langers as ek. Ek moet nou opkyk na hom, maar ek kan hom darem nog lekker laat bloos.

Die skole se ope dae is hier gedurende Mei, en mensig is dit bedrywig. Dit was vanaf tienuur tot drie uur die middag. Celeste het gaan uithelp by die skool, sy het in die kombuis gewerk. Hulle het sop gekook en pizza's gemaak, en vir al die harde werk het sy 'n fliek kaartjie gekry asook McDonalds in klastyd. Die manier hoe ope dae hier gehou word is net heeltemal anders as in SA, dis soos 'n roadshow, in elke klas is demonstrasies, of dit nou wetenskap is of houtwerk, en die publiek word deel van die hele demonstrasie, hulle is betrokke by alles wat gedoen word, dis nie net "show and tell" nie. Volgens Celeste het hulle oor die driehonderd mense voorsien van sop en pizza's, ek is nie seker hoeveel het dalk maagpyn gekry nie.

Wednesday, April 7, 2010

Dit reën nou so lekker buite, die lug is so mooi helder en skoon. Die blou wat so plek plek deurslaan is verrassend mooi. Ek is seker as jy nou buite sou gaan staan jy die heerlikste varste lug sal ruik. Dit is lekker om in die oggend buite te kom en die vars lug in te asem, geen besoedeling en rook wat swaar hang op die horizon nie. Die varsheid van die dag kan mens amper proe so op jou tong.

Die afelope week was nou nie sonder insidente gewees nie. Ons het die kinders gevat na die nuwe Icerink in die Docklands, wat natuurlik baie lekker was, en daar sal dit gebeur dat Roelf sy enkel breek. Tussen Nicolette, Roelf en Christiaan het hulle oor mekaar geval. Christiaan stoot vir die twee "love birds" van agter om hulle te help om vinniger gaan, die probleem hiermee is dat die ys al redelik groefies het van die vorige ysskaats sessies. Die skaatse haak vas in die groefies want ons skaats mos nie, ons gly net. So haak Roelf se skaatse vas en hy val neer, Nicolette val oor hom en Christiaan oor hulle altwee. 'n Resep vir moeilikheid, en dis hoe dit gebeur dat Roelf sy enkel breek.

Soos ons maar nou gewoond is vat jy dan nou jou kind na die ongevalle, en vandaar sort die dokters die kind uit. Jy is maar saam met die kind elke stappie, van die xstrale en dan die wag enige iets anders wat soos gewoonlik maar sal volg. Die dokter lig jou in soos die proses ontwikkel en jy verstaan presies wat met jou kind gebeur. Die ouens praat met jou. So sal jou kind of opgeneem word vir die aand indien dit ernstig lyk, of 'n cast kry vir 'n week tot die swelling gesak het en hulle dalk 'n beter prognoses kan maak. Jou kind sal darem 'n tablet kry vir die erge pyn en daar sal mooi verduidelik word hoe om die voet te versorg indien hy huis toe sou gaan. Jy is op "par" met die dokter, en indien jy nie is nie, dan kry jy nog 'n tweede opinie tot jy gelukkig is. Jy vat ook jou kind na die dokter waarmee jy gemaklik is en jy praat met ander ouers wat ook deur so 'n proses is om te hoor wat is hulle opinies oor die dokter en is die ou darem behoorlik gekwalifiseerd. Jy weet darem dat as die radiograaf die xstrale geneem het die ou die verslag geskryf het dat die dokter sal verstaan, die dokter kyk ook na die xstrale, dis nou om homself te vergewis dat xstrale wys dit wat die verslag sê. Die ou is mos nou darem die ER dokter en hulle weet mos. Die verwys jou na 'n ortopediese chirurg waarmee hy gelukkig is.

Wel hier werk dit anders. Nie slegter nie, net anders. Eerstens indien jy na noodgevalle gaan hier met jou kind word die kind deur die pediatriese dokters gesien omrede hulle tot met 16 jaar daaronder klasifiseer. Hier is jy as ouer net 'n beslommernis, jy mors die dokters se tyd deur hulle te vra oor die besering. Die body language is tipies van "Ek het nie nou tyd om jou 'n les in anatomie te gee nie" en al wat jy wou geweet is, is hoe ernstig die breek nou eintlik is. Jy sit in ongevalle, die feit dat jy privaat medies hier het beteken absoluut niks, zero, NIL. Jy is eintlik net ‘n nommertjie tot iemand anders met pyn erger as joune opdaag. Jy sit en wag jou beurt af soos in enige staats hospitaal in Suid Afrika, en indien enige iemand anders inkom wat meer dringende aandag nodig het sal jy maar net moet wag. So hier sit jy,die voet hang want daar is nie plek om die voet te lig nie, en jy wag. Die arme kind in pyn maar wat jy wag geduldig, dalk iewers is daar uitkoms.

Na drie en 'n halwe uur raak jy maar redelik gatvol gewag, wat is dit met die gewagery en jy gaan vra nou “wat nou”? hoe lank moet ons nog wag vir die dokter. Nie die slimste move gewees hierdie nie, moet ook nou nie jou stem verhef of net effens te hard vra hoe lank nog nie want dan roep hulle sommer Code Grey op jou. Jy's agresief en 'n gevaar vir die mense, FOK, teen daardie tyd sou hulle 'n flippen CODE RED moes uitroep vir my, my in 'n straight jacket sit en 'n kalmeer inspuiting gee. Hier mense moet julle regtig maar bid vir my, ek is nie die kalmste mens wanneer dit by my kinders kom en sport beserings nie, veral nie as hulle vir ure gaan sit met pyn en ek my beurt moet afwag nie.

Eventauly word die kind is vir xstrale gestuur, die arme dokters kan nie behoorlik sien hoe erg die besering is nie en stel voor dat hy vir 'n CT scan gaan, maar nou is dit na ses so jy moet wag tot more want hulle maak toe, die ER maak toe (HAHAHAHA ek dog dis dan 'n ER), en nee jy kan nie voorskrif pynpille kry nie jy kan maar panadol gee. Dis so goed jy gee jou kind ‘n disprin in, dit gaan nie help vir die gebreekte enkel se pyn nie. So jou kind se enkel is gebreek, hulle kan nie sien hoe erg nie, maar is darem bereid om 'n semi cast op sit tot die volgende dag toe. Die hospitaal sal jou dan bel vir 'n afspraak om vir die scan te gaan. As dit maar so eenvoudig was. Niks in die lewe is ook maklik of eenvoudig nie, daar is altyd ‘n kinkel in die kabel.
Eerstens die hospitaal bel jou nie, jy bel naderhand en probeer uitvind nou wat nou. Daar word vir jou vertel dat dit nie meer nodig is vir die CT scan nie, die ER dokter het die Xstrale vir die ortopediese chirurg gewys en ja die enkel is gebreek maar hy moet eers met die "been"spesialis praat. Die ortopediese chirurg praat met jou nadat jy hom moes bel, (hy moes jou gebel het maar wie worry nou oor sulke kleinighede) en hy wag nog vir die "been"spesialis om die xstrale te interpetreer. Wow, drie dokters later en hulle weet nog nie presies wat is eintlik die diagnose nie. So die radioloog kan nie mooi op die xstrale die breek sien nie, die ER dokter kan ook nie en besluit op 'n CT scan, die ER dokter wys die Ortopediese chirurg die xstrale en hy besluit om die "been"spesialis te konsulteer. Nou wat die verskil is tussen die ortopediese chirurg en die "been"spesialis weet ek nie, maar sal nog uitvind. Jy moet jou kind terug vat na die ER en daar is besluit om nou 'n behoorlike cast op te sit to onder die lies, dit vir 'n gebreekte enkel, hoekom dit nie in die eerste plek gedoen is nie verstaan ek nie, maar ek is nie die dokter nie.

Maar die storie eindig nie daar nie. Dit het nog 'n episode of tien, ek is seker mens kan ‘n dokumentere real live experience hieroor doen.

So na 'n week in die cast tot onder die knieg bel die ma weer die hospitaal, want nadat die cast opgesit is het die "been"spesialis haar ingelig sal die kind moet skroewe in die enkel kry. Nou hier is die total confusion hoog, hulle kan nie die breek mooi sien nie maar wil sommer opereer en skroewe in sit. Daar moet daar en dan toestemming gegee word vir opname en hospitalisasie. Indien jy weier dan behandel hulle ook nie jou kind verder nie.

Kyk hier sou my moer meter weer die rooi geslaan het, en die alarm sou glad nie gestop het nie. Eerstens laat hulle jou wag, die opvolg met die dokters gebeur nie indien jy nie self die opvolg doen nie, jy kan nie vra vir tweede opinies nie, jy kan nie jou kind na 'n ander hospitaal vat nader aan die huis nie. Ek wonder wat noem mens dit?

So nadat die hospitaal of die dokters weereens nie gebel het vir die opvolg besoeke en scans vir die week nie, volg die ma dit maar weereens op. So hoor sy dat die CT scans volgeboek is vir die week en sy nie gehelp sal kan word nie. Na mooi praat en verduidelik en weer opvolg en navrae laat weet hulle sy kan so drie uur die middag inkom en dan maar wag vir 'n gaatjie. Nou moet die arme kind vas van 7uur die oggend af, hy moet wag vir die scan wat dalk enige tyd van na drie geneem kan word en dan sal daar besluit word oor die operasie. Wel hier kom die snag, die ma word na 2ure gebel, sy moet agtuur die oggend by die hospitaal wees vir die scan, die operasie is geskeduleer vir drie uur die middag. Die uit einde van die episode is die kind is eers half een die volgende oggend geopereer. Die arme kind het gevas vanaf seweuur die oggend, geen druppel water oor die lippe, geen drip in die arm vir vloeistof inname en as die ma iets vra dan word die ogies gerol. Hulle kan bly wees dit was nie my kind nie.

Die been is in ‘n semi cast gesit vir twee weke, die semi cast is pleister aan die agterkant van die been en verband. So sal ons leer dat alles nie altyd beter of makliker aan die anderkant van die draad is nie. Baie dinge mag dalk dieselfde lyk maar is beslis nie.

Wees op die uitkyk vir die opvolg, dit mag dalk ‘n verassing of twee inhou

Tuesday, March 30, 2010

Ses maande later

Vandag is dit ses maande wat ons hier in Melbourne is. Dit was nogal 'n hectic tyd vandat ons gehoor het ons het PR gekry. Die besluit om sommer dadelik te pak en te gaan het nogal groot omwenteling in ons lewens veroorsaak. Ons as volwassenes dink altyd die kinders sal cope, maar dis nie altyd die geval nie. Ek het gesien hoe hierdie hele kontinent skuif die kinders geaffekteer het. Die aanpassing was moeilik, maar hulle het dit gedoen. Hulle het maats gemaak (boeta het natuurlik bietjie langer gevat),skool in die Engelse taal het makliker gekom was wat ons gedink het, die kinders kry nog ESL klasse, maar ek dink dit gaan nie lank meer nodig wees nie. Hulle dink en praat omtrent net Engels en die Afrikaans gaan by die agterdeur uit.

Ons deurkruis ons nuwe omgewing omtrent elke naweek as ons die tyd kry, en dit is amazing om van die plekke te sien waarop ons afkom. Die natuurskoon is mooi en ongerep, hier sal die mense baie vinnig hulle opinies lig en petisies doen as daar gekonkel word met ontwikkelings in natuurgebiede.

Boeta se baard kom aan, en hy het besluit hy skeer nie. Ons sal maar moet sien hoe lank vat dit hom alvorens hy die skeermes nader trek. Hy het al begin groei aan die baard die week voor die skool gesluit het, duidelik is die ouens hier nie so streng, en hy wil blykbaar nie skeer tot 'n onderwyser iets se nie. Nou dit gaan baie lank vat, want hier hoef hulle nie te skeer as hulle nie wil nie. Dalk moet ek Nivea room iewers gaan kry en se dit is n nuwe tipe gesig masker, dalk nie 'n slegte plan.

Ons mis natuurlik nou die paaseiers, Beacon marshmellow eiers om presies te wees. Hier is 'n oorvloed van paaseiers, maar nie die marshmellow eiers waarvoor ons so lief is nie. Ek sal wat wil gee om nou een in my kieste in te druk en die sjokolade stukkie vir stukkie af te eet, al rondom die marshmellow. Hoe water my mnd nou.

Natuurlik is dit weer skoolvakansie, en dit voel soos gister toe die skole begin het na amper 7.5 weke se skool vakansie, en om die kinders besig is nogal 'n storie. Elke dag maak ons bietjie huis skoon, waarvoor sal ek dit nou alles alleen wil doen, en die res van die dag kan hulle hulself besig hou met iets. Vandag het hulle maats genooi om boardgames te kom speel hier by ons. Dit was nogal pret, veral as hulle 30seconds speel en daar nie meer in Afrikaans gedink kan word nie, dan moet ma maar kom uithelp.

Ons het ons eerste sessie van "Hardwaste pickup" gehad hierdie week. Dis wanneer jy die munisipaliteit bel en se dat jy gemors het om weg te gooi. Dis nou nie jou gewone huisafval of "recycle" goed soos papier ek karton bokse nie. Dis nou al daardie goed wat Johannes altyd sou gevat het, die goed waaroor jy nie meer 'n nut het nie. Wel hier is nou nie 'n Johannes nie so jy moet dit maar op die sypaadtjie sit vir 'n "collection". Ek en Christiaan het dit uitgepak, al die gebreekte stoele, lampe en tafels wat Elliott se mense so mooi verpak het. Toe Alex by die huis kom Maandag aand wou hy sy kop in 'n blik druk so skaam het hy gekry oor die gemors wat nou so opdie sypaadtjie staan. Gelukkig vir hom het hulle Dinsdag oggend vroeg gekom om dit te verwyder, nou kan hy weer sy gesig buite wys. Hierdie ouens is gerat vir sulke goed, dit was 2 lorries wat hier aangekom het. Een is soos 'n aslorrie en die ander een 'n trokkie. In die aslorrie gooi hulle al die gemors, in die lorrie gaan die groot goed soos die beddens, tv's, yskaste ens. Die groot bulky goed wat jy nie sommer sal "crush" nie. Die twee manne was minder as vyf minute besig en toe weer oppad na die volgende punt. Elke blyplek kry twee sulke "pickups" 'n jaar, en dis nou die terrein waar die scavengers uit kom en hulle huise weer vol maak. Die gesegde is mos iets van 'n anderman se gemors is jou fonds of so iets.

Thursday, March 25, 2010

Partykeer "moan" mens oor die Ozzies, hulle frustreer die hel uit jou oor hulle slapgatgheid. Hulle reels en regulasies maak dat jy die dak wil uitklim en van daarbo wil skreeu.


Ander dae verras hulle jou. Hulle gaan uit hulle pad om jou kind te help met 'n taak. Sal jy halftien in die aand rondry om die inligting oor jou familie geskiedenis te gaan afgee vir vreemde mense wat jy nie regtig ken nie. Ek dink nie so nie.
Hier sit ons met Italiaanse bure, die ouma en oupa is in hulle tagtigs. Oupa is siekerig, maar Ouma is nog aan die gang. Sy skoffel nog in die tuin en Oupa hits haar hier van agter af aan.
Clarissa het met die ouma 'n onderhoud gehad en die kinders het 'n klompie inligting bymekaar gemaak vir haar. Vandag toe bring hulle die foto's en kaarte vir haar. Clarissa het maar bietjie slap gele en nie opgevolg dat sy die inligting betyds kry nie. Vandag toe loop sy die dogter in die Pines raak en vra toe of sy die foto's kan kry. Octavia, die dogter, se toe hulle sal dit vanaand bring. Nege uur toe klop sy aan die deur met mooi ou foto's van 1940's rond (en toe werk my scrapkop oortyd) en teen halftien is die broer hier met kaarte. Nou sit ek hier in my bed en dink, WOW, vreemdelinge en hulle doen dit vir my kind. Dit is beslis iets oor oor huis toe te skryf.

Ons as Suid Afrikaners het iets langs die pad verloor. Daardie omgee ding, daar die onselfsugtige diensbaarheid wat ons eens op 'n tyd gehad het is net verlore, en dit is ons kinders se loss.

Hier sien ek dit weer en dis 'n lekker gevoel.

Sunday, March 21, 2010

Hierdie was maar 'n stil week gewees in ons huis, nie veel het aangegaan nie. Dis nog 'n week voor die skole sluit dan is dit weer 'n gesukkel om die vervelende tieners besig te hou. Ek moet nou al sit en dink wat om te doen sodat ek nie later moet hoor "ons is bored" nie. Ek het gedink ons moet na die nuwe Docklands yskaats baan gaan. Dit het nou ge-open toe die winter olimpiese spele begin het. Dit is 'n indrukwekkende plek. Dan moet ons maar weer bowling gaan doen, dalk die dieretuin gaan besoek met die nuwe baba olifant. Movies is op die agende maar sal dan na die $8 cinema moet gaan, die ander is net te duur. Sal die weer ook bietjie dophou en dalk een dag na Black Rock toe ry, blykbaar is dit 'n mooi strand.

Boeta sou die week op 'n kyak kamp gegaan het, maar op die laaste minuut is dit geskuif omrede baie kinders ander buite sport verpligtinge gehad het en dan nie die skoolkamp sou kon bywoon nie. Die gesig het boekdele gespreek toe ons die oproep agtuur die aand gekry het dat dit skuif na die begin van die volgende kwartaal. Hy het nogal daarna uitgesien om sonder sy susters te wees vir 4 dae. Wel ons het ook daarna uitgesien, maar nou ja, nou sal ons dit dalk meer geniet voor die skole oopmaak as hy weg is.

Het darem die week lekker gescrap, het drie bladsye gedoen, een dubbel en twee enkel blaaie. Ek raak toe sommer nostalgies toe ek deur die albums blaai en boeta in sy rugby klere sien, ek wou toe amper begin tjank. Mens mis die kameradie wat jy met die ander ouers opbou so deur die jare, dis nie dieselfde hierdie kant nie, dis baie onpersoonlik.

Die kinders se sosiale lewe is partykeer besiger as ons eie. Die kinders het na Ruhan Kruger se 16de verjaarsdag gegaan, hulle het darem lekker geswem en te kere gegaan, later die aand is Clarissa na 'n 13de partytjie toe en Nicolette het saam met die kereltjie gaan fliek en ietsie gaan eet by Westfield Doncaster. Ons ou mense het maar by die huis gesit en TV gekyk, kaas en beskuitjies ge-eet en daarna net op die internet gesurf. Great social lewe wat ons het.

Nou is dit tyd om uit die bed op te staan, die kinder te gaan wakker maak en ontbyt te gaan eet. Dit is al tienuur op 'n Sondag ogggend hier, gaan nie kerk toe vanoggend maar vanaand want daar is 'n Afrikaanse paasdiens by die kerk.

Lekker week almal.

Sunday, March 14, 2010

Die week het die 2ling hulle eerste verjaarsdag in die vreemde gevier. Dit het nie te sleg gegaan aangesien hulle goed in sport gepresteer het die dag en hulle nie hoef skool te gegaan het nie. Ons het hulle uit gevat vir aandete by Melissa's, die kos is nie te duur nie en een porsies is groot genoeg vir twee mense, nie dat hulle deel nie.

Dit was ook maar 'n relatiewe stil en rustige naweek gewees, nie te veel opwinding vir die gesin gewees nie. Ons het wel die Kampeer skou bygewoon en mensig was dit nou 'n belewenis gewees. Die skou het so halftien oopgemaak en teen die tyd wat ons gearriveer het so net na tien was dit al 'n gerumoer van mense. Hier was nou 'n goeie mengsel van mense en almal het een of ander belangstelling gehad in die skou.

Hier is kampeer groot, en ek bedoel dit is groot. In Suid Afrika het jy Jurgens, Sprite en Gypsey en eintlik wapper die vlae onder een vaandel. Vir die drie brands kry jy miskien 3-5 verskillende tipe waens en verder is die waens almal presies dieselfde, hier is geen variasie op die verskillende reekse nie. Wat ek hierby bedoel as jy 'n Penta koop weet almal hoe die uitleg is, daar is nie opsies op die uitleg nie. Of dit nou funksioneel is of nie, dis wat jy kry en jy kies maar op die ou einde maar wat die reeks wat vir jou werk. Wel jy't gedink jy het 'n wye keuse in die drie, maar mense julle het nog nie die mense aan die kant van die water gesien nie.

Hier is waens op waens op waens, nog verder aan kry jy 'n reeks en in die reeks kry jy 3-4 verskillende variasies. Hier is seker 10+ verskillende karavaan vervaardigers en dan natuurlik ons getroue ou Jurgens. Laat ek julle maar vertel, die ouens kan gaan slaap, Jurgens kan nie kers vashou by die ouens nie. Die vervaardigers mag dalk nou nie so aerodinamies wees soos die Jurgense nie, maar hulle weet van wat die mense soek. Hulle is nie skaam om uit te haal en te wys nie. Ons monde het behoorlik gekwyl oor alles wat beskikbaar is en hoe heerlik ruim en funksioneel alles is. Ons het ons karavaan gesien wat ons wil koop. Dit sal eintlik eers kan gebeur wanneer ons huis gekoop het, so tot dan toe sal ons maar net kwyl.

Nou daar was nie net waens nie, daar was tente, trailers en dan natuurlik die eye candy wat elke ou hier in sy binneste maar oor gekwyl het. Die Campervans. Hier is ook so 'n groot variasie verskillende vans dat mens naderhand nie meer kon kyk nie. Dis die basiese funksionele bussie tot die uiters luukse amper designer huis op baie wiele. Dis luuks en mooi, met leer sitplekke, die nuutste plasma skerms, sitkamer, slaapkamer, badkamer en kombuis. Dis ultra modern en vrek mooi, en natuurlik die mooiste deel is die price tag. Die tag is so groot jy kan dit omtrent nie optel nie. Dan begin jy maar droom oor die dag as jou skip inkom en dan stap jy maar uit die lokaal want die droom gaan maar net 'n droom bly want die price tag het nie gehoor van die finansiele krisis waardeur die wereld is nie.

Daar was ook 'n groot gedeelte wat afgebaken was net vir toerisme. Hier het elke streek kom uitstal en ook kom wys wat aan die toeriste gebied word. Hier land is eintlik so groot dat mens in jou leeftyd nie by al die plekke sal kan uitkom nie. Jy moet omtrent 'n profesionele toeris word net om alles te sien en te beleef hier. Net hier in Melbourne / Victoria alleen is daar soveel streke met wynplase, strande, reservate, riviere en kampeerplekke dat ons dit verseker nooit alles sal sien nie, maar ons gaan vrek hard probeer. Ons het soveel boekies met inligting gevat dat ons nooit vervelig behoorte te wees tydens enige naweek nie, ons behoort elke naweek besig te wees met al die natuur atraksies wat ons streek ons bied. Dan praat ek nie eers van al die ander skoue en buitelug aktiwiteit wat op 'n gereelde grondslag hier aangebied word nie.

Teen die middag was ons nou redelik gatvol vir die geloop en ons het nog nie eens die helfte van die karavane besigtig of al die nuutste gadgets gesien nie. Die plek was net so groot met so baie dinge dat mens dit nie in eendag kan besigtig nie. Daar kom weer later in die jaar so 'n skou dan sal ons dit maar beter beplan en dit dalk oor twee dae doen.

My ma is ook beter, sy's uit die hospitaal en hopelik sal dit so bly.


Tuesday, March 9, 2010

Skool sport

Dit was 'n tipiese wintersdag vandag, die temperatuur het nie eens die 20's geraak nie. Met die onweer en die koue het ek nie lus gehad om by die sportgronde te gaan sit en na die kinders te kyk nie. Maar soos gewoonlik het my nuuskierigheid die stryd gewen en ek is af na die sportgronde net so om die draai van die huis. Die kinders het huissport vandag gehad en dit was 'n warboel van kinders met gekleurde gesigte en hare. Die een probeer die ander oordoen met hulle funny uitrustings.

Nicolette het hoogspring, 200m, 400m, aflos en gewigstoot gedoen. Sy het 2de plek in hoogspring, 200m en gewigstoot gekry, en 'n eerste plek in 400m. Nie te sleg vir iemand wat bitterlik lanklaas haar voete op die oefen veld gesit het.

Celeste het 100m, 200m, 400m, driesprong, verspring, gewigstoot en aflos. In die gewigstoot het die tweeling die rekord gebreek met meer as 'n meter. Die onderwysers was verras oor die twee.

Clarissa het 100m, 400m, 1500m, gewigstoot en aflos gedoen. Sy het tweede plek in 100m, 400, en gewigstoot gekry. Sy was die hele dag op en af, het gelyk soos een van hierdie duracell battery mannetjies.

Christiaan het gewigstoot gedoen en mensig was dit 'n gesig gewees om te aanskou. Tipies soos dit maar is praat die kinders onder mekaar om te bepaal hoe goed of hoe sleg gaan hulle vaar teen hulle maats. Niemand het boeta geglo dat hy gemiddeld 11m en verder stoot nie, maar die resultate het hulle almal woordeloos gelaat. Boeta het met sy tipiese step gooi sonder enige moeite 11.93 gestoot, en die kinders was stil. Met sy volgende gooi toe doen hy die 2step gooi en mense hy stoot daardie bal 12.93 en daar daal 'n totale stilte op die baan neer en die volgende oomblik hoor jy net hoe cheer die kinders hom. Dit was amazing en dit was goed vir sy ego. Hy het die rekord laat spat met meer as 50cm, en ons sal maar sien of dit iewers in die toekoms gebreek sal word.