Sunday, October 25, 2009

Die afgelope week was uitputtend. Nie omdat ons baie gehad het om te doen nie. Nee, omdat ons niks gehad het om te doen nie. Nou kyk na weke se gerondskarrel om dinge georganiseerd te kry vir die hele trek, die fisiese pakkery en toe die vlug het sy tol geeis, maar dit is verby en ander dinge het hulle plek gevat. Met dit alles die rug is dit nou 2 weke wat ons letterlik rondsit en niks doen, en dit begin nou behoorlik op ons senuwees werk. 'n Mens kan net solank rondsit, boeklees, huis skoonmaak, stryk en dan nog 'n bietjie rondry.

Al die nodige dinge wat gedoen moes word is gedoen. Die kinders het 'n skool, ons ry goed is uitgesort, ons bankrekening is oop en werk, ons Medicare is gedoen, ons leerlinglisensie is gedoen en Desember doen ons die lisensie. Die belangrikste van alles, ons het 'n huis gekry en ons trek komende Vrydag in. Werk soek is iets waaraan elke dag gewerk word, maar mens kan net soveel doen dan is dit 'n gewaggery. Nou dit is die knaende gewaggery wat mens so frustreer.

Ek het begin met 'n kursus by die gemeenskap sentrum om die ouens se rekeningkundige pakket te leer. In November begin ek met 'n geakrediteerde boekhou kursus van so 17 weke sodat ek in die besigheids mark kan inbeweeg sonder probleme. Of liewers laat ons se dalk net met minder probleme. Hier sal die ouens, soos seker maar in enige land in die wereld, eerste kyk na hulle eie mense alvorens daar gekyk word na immigrante.

Vir Alex is al die frustrasies wat ek het net tien maal erger. Kyk as hy eers so begin hardop asem haal, agresief en ongeduldig raak agter die stuurwiel moet jy weet die man kan net nie meer nie. Hy moet besig wees, sy brein moet aktief besig wees. Boeklees hou ook nie meer sy bekoring in soos wat dit altyd gehad het nie. Hy sou weke gevat het om enige boek te lees, maak nou nie saak hoe interesant die storielyn verloop nie, nou is dit letterlik binne dae vandat hy begin lees totdat dit klaar is. Die feit dat dit nou so vinnig gebeur moet boekdele spreek van sy frustrasies.

Christiaan het Duits gekies as 'n vak en was nogal baie positief oor die nuwe taal, maar na die eerste week moes hy iets anders vat want die eksamen wat voorle gaan oor die hele jaar se werk wees, en hy het nie genoeg agtergrond om sodoende eksamen te skryf nie. Hy besluit toe op kook. Die week het hy toe kook gehad en hulle het to sushi gemaak. Hy kon nie genoeg uitgepraat raak oor die lekker kook klas nie. Vir iemand wat sy neus opgetrek het vir sushi en hy dit terdee geniet. Ek moet se toe ons in Sydney was het ek en hy eintlik ook baie lekker aan sushi gesmul. Ek dink dit was omrede dit vars gemaak was en nie Woolies se sushi nie.

Nicolette het ook kookklasse en sy het al twee keer gekook. Nou vir iemand wat sukkel om eiers te maak het sy haar self goed van haar taak gekwyt. Sy het die eerste keer 'n omelet gemaak en die week het hulle sop gekook. Dalk, en net dalk sal sy eendag vir haarself kan kos maak wanneer ons hulle op 18 uit die huis skop om vir hulle self te sorg. Die komende week maak hulle macoroni. Sal maar moet sien wat kom by die huis aan.

Hier kan die kinders al op 15 begin werk as casuals. Vandat Christiaan dit by sy skoolvriend (Francois Burger) se pa gehoor het (Marius Burger) wil hy net met alle erns begin werk. Al waarop hierdie kind sy geld spandeer is games vir sy Xbox . Dit frustreer ons geweldig want hy kla gereeld dat hy nooit geld het om nice goed te koop nie. Maar dit is eintlik sy eie skuld. Die week na baie gesmeek het hy en sy pa vir hom 'n CV opgestel. Nou kyk waar sou 'n mens nou werksondervinding kon opgedoen het op so 'n jong ouderdom wat op jou CV kan kom. Dit het nie lank gevat voordat ons maar kreatief begin dink het nie. Hy het mos nou gras gesny vir sakgeld by die huis, asook vir die mense langs ons. So toe noem ons maar hy het ondervinding in tuinwerk, ons jok mos nie. Hy vertel toe hoe baie het hy sy oupa gehelp bou op Deneysville. Sien daar het hy mos nou in bouwerk ondervindig en allerlei DIY. Sien hoe vinnig het ons iets vir die CV. Die het ons nou ingegee en hy sit letterlik op hete kole want werk wil hy gaan werk om nog games te koop maar ook die nice goed wat sy sussie beplan om met hulle spaargeld te gaan koop. By al die plekke moet jy aanlyn aansoek doen vir werk en dan kan jy jou CV gaan indien by die spesifieke winkel waar jy wil werk. Ek hoop hy kry iets want die frustrasie met die kind en Celeste is besig om ons teen die dak uit te dryf.

Soos reeds genoem trek ons die komende Vrydag in ons huurhuis in. Ons trek in met niks meer as ons klere wat ons saamgebring het. Laat ek julle nou vertel hoekom pla dit my nie eitnlik dat ek niks het om mee in te trek nie.
Hier in Australia werk die mense so. As jy iets nie meer wil he wat in jou huis is sit jy dit buite op die straat. Nou dit maak nie saak wat dit is nie. Dit kan enige iets wees van 'n TV, sitkamerstel, stoele, tafels ens. Letterlik enige gemors of tweedehandse goed wat jy nie meer wil het sit jy net op die sypaadtjie en die munisipaliteit kom laai dit op. Maar die beste van alles is, jy as medemense het die reg om dit wat buite op die sypaadtjie geplaas is te vat. Hier kan jy jou hele huis meubileer met die ander mense se weggooi goed. Cool of hoe. Jy hoef nie eens jou container te pak met al jou goed in en al die onkoste aan te gaan om dit hier te kry nie. Nee man jy ry straat op en straat af totdat jy jou hele huis kan meubileer. Ek het juis toe hierdie week 'n weber buite sien staan, ek vat toe vir Alex en Christiaan sodat ons dit kan oplaai. Die twee het amper uit hulle velle geklim toe ek wou stop om dit te vat, nog nooit het ek hulle so sien skarrel vir cover. Hulle belowe my toe hulle sal dit in die aand kom oplaai wanneer dit donker genoeg is sodat hulle nie gesien word nie. Nodeloos om te se dit is nie gedoen en die volgende oggend is die weber weg. So die les is. - vat dit dadelik want iemand anders soek dit dalk ook. Ek ken so 'n persoon in ons familie wat absoluut uit sy vel sal wees om in so 'n omgewing te bly. 'n Ander ou se gemors is brood en botter vir iemand anders.

Ek het toe nie die weber op die straathoek opgetel, en ook nie die res van my meubels wat ek in die huis sal he vir die volgende paar weke totdat die container kom nie. Nee, hier is die Suid Afrikaanse gemeenskap baie behulpsaam en almal leen vir jou goed sodat jy darem oor die weg kan kom. Ons het darem almal beddens en beddegoed asook kombuis goed. Dit kom van alles van mense wat jy glad nie eens behoorlik ken. Jy't hulle dalk een of twee keer gesien, en party nog glad nie.

Ek sal tog vir julle foto's neem sodat julle kan sien waarvan ek praat.

Tot volgende keer.


Kuier gaste



Vanaf dag een wat ons in die tydelike huis ingetrek het, het ons kuiergaste gehad. Ongenooid het hulle hulself tuisgemaak in die swembad. Elke dag kom hulle en baljaar in die groen swembad. Dit is seker om hulle self weer skoon te maak, want sodra hulle uit die water is word is dit 'n gefaffery tussen die vere in om alles weer mooi te kry.

Dit is aanskoulik om te sien hoe baljaar hulle in die water. Ek wonder net oor die groenwater, maar hulle put groot plesier daaruit.

Saturday, October 24, 2009

Mornington Peninsula





Ons het besluit om 'n bietjie rond te ry terwyl die kinders in die skool is. Ons het na Hasting gery vandaar is ons al langs die kus af na Portsea en het 'n heerlike middag ete by Sorento ge-eet.

Soos mens langs die kus langs ry sien jy net plase. Selfs die beeste is so lui dat hulle wei terwyl hulle le.

Die eerste drie foto's is waar ons by Cape Schank is. Die uitsig is stunning. Daar is 'n loopplank tot onder by die see, maar ons was nie baie lus vir die baie trappe terug. Daar is ook 'n Lugtoring wat jy kan besoek. Ons sal die kinders bring dan explore ons dit saam.

Die laaste foto's is by Hastings en aan die agter kant kan jy French Island sien.

Die pelikane met die bote aan die agterkant vas gedok is mooi. Hier het ons lekker koffie gedrink. 'n Aangename dag was dit verseker.

Piekniek in die natuur.


Ons het vanoggend besluit om weereens 'n bietjie rond te ry en om die omgewing te gaan verken.

Alex het besluit om na die Yarra Range Natuur reservaat te gaan en dan piekniek daar te gaan hou. Die son was uit, die kar gepak en ons almal gereed vir die uitstappie.

Die van julle wat dalk nie weet, in die begin van die jaar so Februarie was hier groot brande in die Melbourne "rural" areas. Nou rural is nou nie soos wat ons Suid Afrikaners gewoond is nie, rural kan binne 10 minute van ons wees en dit is plaasomgewing. Die area waarheen ons gery het was erg gebrand gedurende die tyd, so as jy mooi kyk rondom jou sal jy nog die effek sien. Nou in die reservaat sien jy die ongelooflike mooi groen omgewing, maar die brand effek kan jy nog by die bome sien die het erg gebrand.

Melbourne het die afgelope vier weke baie reen gehad, nou soos ons deur die reservaat ry sien jy baie stroompies wat van die berg af loop. Dit is prentjie mooi. Die reuke binne in die reservaat is heerlik vars, en Christiaan het soos 'n bobbejaan sy kop by die venster uit gesteek en die vars lug probeer proe. Ons het bo op die "summit" gestop en hier piekniek gehou. Daar is 'n uitkyk pos en daar is besluit Alex en die kinders kan maar opklim ek bly op vaste grond. Dit is seker so 4 verdiepings hoog. Die gesig van bo is ongelooflik mooi.

Hier het Alex en Christiaan terwyl hulle by die braai besig was, 'n paar Chinese tee gekom wat probeer vuur maak het met stokkies. Dit was blykbaar 'n gesig gewees om te aanskou. Later toe kom hulle daar aan met 'n hele boks vol stokkies. Wat hulle presies probeer doen het kan ons maar net imagine.




Sunday, October 18, 2009

Borskanker byeenkoms

















Saterdag was ek genooi om saam te gaan na 'n borskanker tee / middagete. Nou dit was ook interresant gewees. Ons is 11uur weg en eers 4uur die middag terug. Ons klomp het beslis nie gedink dit gaan so lank vat nie, maar om julle net 'n idee te gee hier is 5 minute die ekwivalent van 'n halfuur of selfs langer.

Hier het ek die eerste prys vir die dag gewen, 'n groot pakkie met allerhande "dinge" in. Met vorige ondervinding waar dit kom by borskanker funksies het jy maar altyd iemand wat praat oor die moet's en moenies, waarna gekyk moet word ens. Hier was geen sprake daarvan gewees nie. Ons het 'n heerlike middagete gehad en daarna 'n "clown" van vrou. Sy spesialiseer daarin om mense te help lag. Nou kyk die eerste 5 minute mag dalk snaaks gewees het, maar na dit was dit geensins meer snaaks nie. Anli, 'n vriendin wat ek in Februarie ontmoet het, het haar pamflet gevat en gesien sy doen korporatiewe funksies. Ek dink nie sy sal eers 5 minute hou in 'n korporatiewe omgewing wat ons gewoond is nie. Dit was op die ou einde 'n hele spektakel gewees. Ons het ook een van Chanel 9 se nuuslesers gehad wat ons toegespreek het. Wat 'n down to earth mens. Die ou het ons kos bedien en daarna in die kombuis gehelp opruim. Nou waar in Suid Afrika sal jy sien dat iemand soos Rian Cruywagen dit ooit sal doen. Nie maklik nie.

Die Suid Afrikaanse gemeenskap is vinnig om mense by te staan en is baie behulpsaam, die klompie dames is almal tussen 5 jaar en korter in die land. Van die vrouens se kinders is ook in Donvale Christian College.

Week 3 in Australia

Hierdie week het die kinders begin skool gaan en die gesigte was nie altyd vreeslik opgewonde wanneer dit by opstaan tyd gekom het nie. Die son gaan laat onder en ons het ook omgeskakel na daylight saving. Nou vir die wat nie weet daylight savings is wanneer die dag 'n uur of wat aanskyf hier in Melbourne. Ons horlosies is Sondag met 'n uur aangeskuif. So in effek begin ons vroeer met skool en kom dan vroeer uit. Die son gaan eers na nege hier onder. So met daylight savings kry die mense meer daglig tyd om te ontspan. Nie dat ons regtig kan ontspan nie want dit was hierdie hele week maar in die lae 10's, en dit het elke dag gereen. Dit was maar 'n gesukkel om die wasgoed droog te kry.

Die kinders se roetines het so 'n bietjie verander. Elkeen kry nou beurt vir kombuis, wasgoed, badkamer & toilet skoonmaak en dan die skottelgoedwasser wat uitgepak moet word en die asblikke. Christiaan moes hierdie week die sorg dat die kinders se wasgoed gewas is, en al moet ek self so se het hy hom goed van sy taak gekwyt.

Die land is fanaties wanneer dit kom by recycling. Hier het ons 3 asblikke, 1 vir die tuinafval, 1 vir die gewone kombuis afval en dan 1 vir die recycling goed. Hier word bottels, glas, blik en bokse gerecycle. Jy het twee asblikke in die kombuis vir die doeleindes. Ek moet se dat ons asblikke nie naastenby so erg lyk in die week wanneer dit tyd is vir kolleksie nie. Die recycle blikke word elke tweede week gehaal, so een week is dit die gewone gemors en recycle goed, die volgende week is dit gewone gemors en die tuin afval. Jy moet ook nie asblikke te hoog opstapel nie want dan los hulle dit ook. Dit is net een ou wat die lorrie bestuur en ook al die asblikke leeg maak, so moenie hom te veel oorlaai met gemors nie.

Die kinders se skool week het vinnig verby gegaan. Daar is vinnig vriende gemaak wat sekerlik die aanpassing makliker vir hulle gemaak het. Die 3 grotes het hulle rekenaars gekry Woensdag en alles word daarop gedoen. Omrede dit 'n Christelike skool is het hulle elke dag eers lofprysing vir so 'n kwartier na 'n halfuur in die oggende en daar word spesifiek op dinge gefokus vir die maand. Op hulle rekenaars is die bybel ook gelaai want baie van die skool vakke het 'n Christelike onderslag en dan word daar uit die bybel aangehaal. Ek dink vir die kinders se eie groei in hulle Christenskap is dit 'n goeie ding. Mag hulle tog ook net mekaar meer verdraagsaam wees.

Ek en Alex het afsprake vir ons leerling lisensie en persepsie toets die komende week, en eers in Desember kan ons dan ons omskakeling doen van die bestuurslisensie. Soos al voorheen genoemn werk meestal van die prosesse hier met 'n kaartjie stelsel. Jy kry 'n kaartjie by die info en dan wag jy tot jou nommer geroep word. Dit is partykeer regtig kostelik om te sien hoe mense reageer as hulle sien wat die volgende nommers is wat geroep word en wat hulle nommer is. Ons het ook gedink sjoe dit gaan lank vat want daar was dertig nommer voor ons, maar ons is gehelp binne 15 - 20 minute. Die hele proses vloei mooi.

Alex het ook die week gegaan na 'n byeenkoms van profesionele, besigheids en beroeps mense. Die ouens kom so een maal 'n maand bymekaar en dan network hulle. Dit help die nuwe ouens wat moet inskakel en dit help ouens om hulle self te bemark. Daar is altyd iemand met raad of wat weet watter manier moet jy jouself bemark, want die Ausies is maar 'n geslote nasie wanneer dit kom by werk. Hulle sal eerder 'n Ausie aanstel alvorens hulle iemand anders aanstel. Die Ausies dink regtig ons is 'n klomp arrogante en baasspelerig mense. Dit is maar net omdat ons gedrewe is en 'n sukses van ons lewens wil maak.

Ek het hierdie week begin met 'n kursus om MYOB te leer. Dit was maar 'n bietjie boring, maar dan aan die anderkant help dit om te verstaan hoe die mense dink. Die kursus is 'n hele agt weke lank. So dis maar tande kners vir agt weke lank.




Monday, October 12, 2009

Eerste dag by die skool
















Die kinders se eerste dag by Donvale Christian School. Die administratiewe personeel was heel beindruk dat ons dit reggekry het om die kinders binne 'n week in te skryf asook behoorlik uit te rus met klere vir die eerste dag. Vir ons is dit natuurlik, maar vir hulle is dit uitsonderlik. Geen wonder dinge vat so lank.

Die Gr9's dra ander klere as die res van die skool. Kinders het die eerste dag geniet en moes oor en oor woorde se omrede hulle aksent die kinders gefasineer het.

Ons hoop dit hou so aan.