Sunday, October 25, 2009

Die afgelope week was uitputtend. Nie omdat ons baie gehad het om te doen nie. Nee, omdat ons niks gehad het om te doen nie. Nou kyk na weke se gerondskarrel om dinge georganiseerd te kry vir die hele trek, die fisiese pakkery en toe die vlug het sy tol geeis, maar dit is verby en ander dinge het hulle plek gevat. Met dit alles die rug is dit nou 2 weke wat ons letterlik rondsit en niks doen, en dit begin nou behoorlik op ons senuwees werk. 'n Mens kan net solank rondsit, boeklees, huis skoonmaak, stryk en dan nog 'n bietjie rondry.

Al die nodige dinge wat gedoen moes word is gedoen. Die kinders het 'n skool, ons ry goed is uitgesort, ons bankrekening is oop en werk, ons Medicare is gedoen, ons leerlinglisensie is gedoen en Desember doen ons die lisensie. Die belangrikste van alles, ons het 'n huis gekry en ons trek komende Vrydag in. Werk soek is iets waaraan elke dag gewerk word, maar mens kan net soveel doen dan is dit 'n gewaggery. Nou dit is die knaende gewaggery wat mens so frustreer.

Ek het begin met 'n kursus by die gemeenskap sentrum om die ouens se rekeningkundige pakket te leer. In November begin ek met 'n geakrediteerde boekhou kursus van so 17 weke sodat ek in die besigheids mark kan inbeweeg sonder probleme. Of liewers laat ons se dalk net met minder probleme. Hier sal die ouens, soos seker maar in enige land in die wereld, eerste kyk na hulle eie mense alvorens daar gekyk word na immigrante.

Vir Alex is al die frustrasies wat ek het net tien maal erger. Kyk as hy eers so begin hardop asem haal, agresief en ongeduldig raak agter die stuurwiel moet jy weet die man kan net nie meer nie. Hy moet besig wees, sy brein moet aktief besig wees. Boeklees hou ook nie meer sy bekoring in soos wat dit altyd gehad het nie. Hy sou weke gevat het om enige boek te lees, maak nou nie saak hoe interesant die storielyn verloop nie, nou is dit letterlik binne dae vandat hy begin lees totdat dit klaar is. Die feit dat dit nou so vinnig gebeur moet boekdele spreek van sy frustrasies.

Christiaan het Duits gekies as 'n vak en was nogal baie positief oor die nuwe taal, maar na die eerste week moes hy iets anders vat want die eksamen wat voorle gaan oor die hele jaar se werk wees, en hy het nie genoeg agtergrond om sodoende eksamen te skryf nie. Hy besluit toe op kook. Die week het hy toe kook gehad en hulle het to sushi gemaak. Hy kon nie genoeg uitgepraat raak oor die lekker kook klas nie. Vir iemand wat sy neus opgetrek het vir sushi en hy dit terdee geniet. Ek moet se toe ons in Sydney was het ek en hy eintlik ook baie lekker aan sushi gesmul. Ek dink dit was omrede dit vars gemaak was en nie Woolies se sushi nie.

Nicolette het ook kookklasse en sy het al twee keer gekook. Nou vir iemand wat sukkel om eiers te maak het sy haar self goed van haar taak gekwyt. Sy het die eerste keer 'n omelet gemaak en die week het hulle sop gekook. Dalk, en net dalk sal sy eendag vir haarself kan kos maak wanneer ons hulle op 18 uit die huis skop om vir hulle self te sorg. Die komende week maak hulle macoroni. Sal maar moet sien wat kom by die huis aan.

Hier kan die kinders al op 15 begin werk as casuals. Vandat Christiaan dit by sy skoolvriend (Francois Burger) se pa gehoor het (Marius Burger) wil hy net met alle erns begin werk. Al waarop hierdie kind sy geld spandeer is games vir sy Xbox . Dit frustreer ons geweldig want hy kla gereeld dat hy nooit geld het om nice goed te koop nie. Maar dit is eintlik sy eie skuld. Die week na baie gesmeek het hy en sy pa vir hom 'n CV opgestel. Nou kyk waar sou 'n mens nou werksondervinding kon opgedoen het op so 'n jong ouderdom wat op jou CV kan kom. Dit het nie lank gevat voordat ons maar kreatief begin dink het nie. Hy het mos nou gras gesny vir sakgeld by die huis, asook vir die mense langs ons. So toe noem ons maar hy het ondervinding in tuinwerk, ons jok mos nie. Hy vertel toe hoe baie het hy sy oupa gehelp bou op Deneysville. Sien daar het hy mos nou in bouwerk ondervindig en allerlei DIY. Sien hoe vinnig het ons iets vir die CV. Die het ons nou ingegee en hy sit letterlik op hete kole want werk wil hy gaan werk om nog games te koop maar ook die nice goed wat sy sussie beplan om met hulle spaargeld te gaan koop. By al die plekke moet jy aanlyn aansoek doen vir werk en dan kan jy jou CV gaan indien by die spesifieke winkel waar jy wil werk. Ek hoop hy kry iets want die frustrasie met die kind en Celeste is besig om ons teen die dak uit te dryf.

Soos reeds genoem trek ons die komende Vrydag in ons huurhuis in. Ons trek in met niks meer as ons klere wat ons saamgebring het. Laat ek julle nou vertel hoekom pla dit my nie eitnlik dat ek niks het om mee in te trek nie.
Hier in Australia werk die mense so. As jy iets nie meer wil he wat in jou huis is sit jy dit buite op die straat. Nou dit maak nie saak wat dit is nie. Dit kan enige iets wees van 'n TV, sitkamerstel, stoele, tafels ens. Letterlik enige gemors of tweedehandse goed wat jy nie meer wil het sit jy net op die sypaadtjie en die munisipaliteit kom laai dit op. Maar die beste van alles is, jy as medemense het die reg om dit wat buite op die sypaadtjie geplaas is te vat. Hier kan jy jou hele huis meubileer met die ander mense se weggooi goed. Cool of hoe. Jy hoef nie eens jou container te pak met al jou goed in en al die onkoste aan te gaan om dit hier te kry nie. Nee man jy ry straat op en straat af totdat jy jou hele huis kan meubileer. Ek het juis toe hierdie week 'n weber buite sien staan, ek vat toe vir Alex en Christiaan sodat ons dit kan oplaai. Die twee het amper uit hulle velle geklim toe ek wou stop om dit te vat, nog nooit het ek hulle so sien skarrel vir cover. Hulle belowe my toe hulle sal dit in die aand kom oplaai wanneer dit donker genoeg is sodat hulle nie gesien word nie. Nodeloos om te se dit is nie gedoen en die volgende oggend is die weber weg. So die les is. - vat dit dadelik want iemand anders soek dit dalk ook. Ek ken so 'n persoon in ons familie wat absoluut uit sy vel sal wees om in so 'n omgewing te bly. 'n Ander ou se gemors is brood en botter vir iemand anders.

Ek het toe nie die weber op die straathoek opgetel, en ook nie die res van my meubels wat ek in die huis sal he vir die volgende paar weke totdat die container kom nie. Nee, hier is die Suid Afrikaanse gemeenskap baie behulpsaam en almal leen vir jou goed sodat jy darem oor die weg kan kom. Ons het darem almal beddens en beddegoed asook kombuis goed. Dit kom van alles van mense wat jy glad nie eens behoorlik ken. Jy't hulle dalk een of twee keer gesien, en party nog glad nie.

Ek sal tog vir julle foto's neem sodat julle kan sien waarvan ek praat.

Tot volgende keer.


No comments:

Post a Comment