Sunday, March 14, 2010

Die week het die 2ling hulle eerste verjaarsdag in die vreemde gevier. Dit het nie te sleg gegaan aangesien hulle goed in sport gepresteer het die dag en hulle nie hoef skool te gegaan het nie. Ons het hulle uit gevat vir aandete by Melissa's, die kos is nie te duur nie en een porsies is groot genoeg vir twee mense, nie dat hulle deel nie.

Dit was ook maar 'n relatiewe stil en rustige naweek gewees, nie te veel opwinding vir die gesin gewees nie. Ons het wel die Kampeer skou bygewoon en mensig was dit nou 'n belewenis gewees. Die skou het so halftien oopgemaak en teen die tyd wat ons gearriveer het so net na tien was dit al 'n gerumoer van mense. Hier was nou 'n goeie mengsel van mense en almal het een of ander belangstelling gehad in die skou.

Hier is kampeer groot, en ek bedoel dit is groot. In Suid Afrika het jy Jurgens, Sprite en Gypsey en eintlik wapper die vlae onder een vaandel. Vir die drie brands kry jy miskien 3-5 verskillende tipe waens en verder is die waens almal presies dieselfde, hier is geen variasie op die verskillende reekse nie. Wat ek hierby bedoel as jy 'n Penta koop weet almal hoe die uitleg is, daar is nie opsies op die uitleg nie. Of dit nou funksioneel is of nie, dis wat jy kry en jy kies maar op die ou einde maar wat die reeks wat vir jou werk. Wel jy't gedink jy het 'n wye keuse in die drie, maar mense julle het nog nie die mense aan die kant van die water gesien nie.

Hier is waens op waens op waens, nog verder aan kry jy 'n reeks en in die reeks kry jy 3-4 verskillende variasies. Hier is seker 10+ verskillende karavaan vervaardigers en dan natuurlik ons getroue ou Jurgens. Laat ek julle maar vertel, die ouens kan gaan slaap, Jurgens kan nie kers vashou by die ouens nie. Die vervaardigers mag dalk nou nie so aerodinamies wees soos die Jurgense nie, maar hulle weet van wat die mense soek. Hulle is nie skaam om uit te haal en te wys nie. Ons monde het behoorlik gekwyl oor alles wat beskikbaar is en hoe heerlik ruim en funksioneel alles is. Ons het ons karavaan gesien wat ons wil koop. Dit sal eintlik eers kan gebeur wanneer ons huis gekoop het, so tot dan toe sal ons maar net kwyl.

Nou daar was nie net waens nie, daar was tente, trailers en dan natuurlik die eye candy wat elke ou hier in sy binneste maar oor gekwyl het. Die Campervans. Hier is ook so 'n groot variasie verskillende vans dat mens naderhand nie meer kon kyk nie. Dis die basiese funksionele bussie tot die uiters luukse amper designer huis op baie wiele. Dis luuks en mooi, met leer sitplekke, die nuutste plasma skerms, sitkamer, slaapkamer, badkamer en kombuis. Dis ultra modern en vrek mooi, en natuurlik die mooiste deel is die price tag. Die tag is so groot jy kan dit omtrent nie optel nie. Dan begin jy maar droom oor die dag as jou skip inkom en dan stap jy maar uit die lokaal want die droom gaan maar net 'n droom bly want die price tag het nie gehoor van die finansiele krisis waardeur die wereld is nie.

Daar was ook 'n groot gedeelte wat afgebaken was net vir toerisme. Hier het elke streek kom uitstal en ook kom wys wat aan die toeriste gebied word. Hier land is eintlik so groot dat mens in jou leeftyd nie by al die plekke sal kan uitkom nie. Jy moet omtrent 'n profesionele toeris word net om alles te sien en te beleef hier. Net hier in Melbourne / Victoria alleen is daar soveel streke met wynplase, strande, reservate, riviere en kampeerplekke dat ons dit verseker nooit alles sal sien nie, maar ons gaan vrek hard probeer. Ons het soveel boekies met inligting gevat dat ons nooit vervelig behoorte te wees tydens enige naweek nie, ons behoort elke naweek besig te wees met al die natuur atraksies wat ons streek ons bied. Dan praat ek nie eers van al die ander skoue en buitelug aktiwiteit wat op 'n gereelde grondslag hier aangebied word nie.

Teen die middag was ons nou redelik gatvol vir die geloop en ons het nog nie eens die helfte van die karavane besigtig of al die nuutste gadgets gesien nie. Die plek was net so groot met so baie dinge dat mens dit nie in eendag kan besigtig nie. Daar kom weer later in die jaar so 'n skou dan sal ons dit maar beter beplan en dit dalk oor twee dae doen.

My ma is ook beter, sy's uit die hospitaal en hopelik sal dit so bly.


Tuesday, March 9, 2010

Skool sport

Dit was 'n tipiese wintersdag vandag, die temperatuur het nie eens die 20's geraak nie. Met die onweer en die koue het ek nie lus gehad om by die sportgronde te gaan sit en na die kinders te kyk nie. Maar soos gewoonlik het my nuuskierigheid die stryd gewen en ek is af na die sportgronde net so om die draai van die huis. Die kinders het huissport vandag gehad en dit was 'n warboel van kinders met gekleurde gesigte en hare. Die een probeer die ander oordoen met hulle funny uitrustings.

Nicolette het hoogspring, 200m, 400m, aflos en gewigstoot gedoen. Sy het 2de plek in hoogspring, 200m en gewigstoot gekry, en 'n eerste plek in 400m. Nie te sleg vir iemand wat bitterlik lanklaas haar voete op die oefen veld gesit het.

Celeste het 100m, 200m, 400m, driesprong, verspring, gewigstoot en aflos. In die gewigstoot het die tweeling die rekord gebreek met meer as 'n meter. Die onderwysers was verras oor die twee.

Clarissa het 100m, 400m, 1500m, gewigstoot en aflos gedoen. Sy het tweede plek in 100m, 400, en gewigstoot gekry. Sy was die hele dag op en af, het gelyk soos een van hierdie duracell battery mannetjies.

Christiaan het gewigstoot gedoen en mensig was dit 'n gesig gewees om te aanskou. Tipies soos dit maar is praat die kinders onder mekaar om te bepaal hoe goed of hoe sleg gaan hulle vaar teen hulle maats. Niemand het boeta geglo dat hy gemiddeld 11m en verder stoot nie, maar die resultate het hulle almal woordeloos gelaat. Boeta het met sy tipiese step gooi sonder enige moeite 11.93 gestoot, en die kinders was stil. Met sy volgende gooi toe doen hy die 2step gooi en mense hy stoot daardie bal 12.93 en daar daal 'n totale stilte op die baan neer en die volgende oomblik hoor jy net hoe cheer die kinders hom. Dit was amazing en dit was goed vir sy ego. Hy het die rekord laat spat met meer as 50cm, en ons sal maar sien of dit iewers in die toekoms gebreek sal word.

Monday, March 8, 2010

So breek 'n nuwe week aan na 'n heerlike lang naweek in Victoria. Hier is dinge wat ek nog nie lekker kan klein kry nie, dis nou soos die afgelope langnaweek hier by ons. Nou hier is een land of eiland wat jy dit ookal wil noem met 'n paar state. Jy het Adelaide, Brisbane, Canbera, Darwin, Hobart, Melbourne, Perth en Sydney, dis een land ouens met 8 verskillende staats wette en vakansies, nie eens te praat van die tydsverskille wat daar is nie. Elke staat besluit oor sy wette, skool en belastingwette. Dis om nou soos 'n dronkhoenderhaan in 'n slagpaal vas te loop. Jy trippel oor jou voete die kant toe en dan weer die anderkant toe en van kophou is daar nie sprake, dis net te deurmekaar. Hier sukkel ek nog so 'n bietjie met die deurmekaarheid. Maar wat kan ek nou einlik verwag van ouens wat convicts het vir voorvaders.

Ek het die naweek 'n vroue konferensie bygewoon en dit was okay, maar ook net okay tot op 'n punt. Kyk oor my geskiedenis en herkoms is ek trots, ek is trots Afrikaans, ek is trots Blank Afrikaans. My voorvaders het 'n pad gestap om te kom waar ons vandag is, hulle het die Zulu's geveg, hulle het die Kakies geveg en oorleef. Wat die NP regering gedoen het was nie reg, maar ek gaan nie aanhou omverskoning vra of sleg voel teenoor die vorige benadeeldes nie. Iewers moet die mense wakker skrik, hulle self uit die gat lig en die son sien skyn. Wat my meer kielie is hierdie mense wat vir WorldVision of Tear werk, slegs die gedeeltes sien en ervaar wat hulle wil ervaar, nie ander sieninge of swaarkry sien aan die anderkant van die berg nie. Mense wat tonnelvisie het en dink dis hoe die lewe is, wel daar is altyd 'n anderkant. In alles wat ek in my lewe al tee gekom het al die verhale en swaarkry, dit alles het drie kante. Dit het jou kant, my kant en dan die waarheid. Moet nooit dink as iemand jou sy sad storie vertel en ander is daarby betrokke dat jou version die enigeste waarheid is nie. DIT IS NIE. Ons land het deur 'n erge stryd gegaan met apartheid, rassisme en moorde, maar niemand in hierdie storie was onskuldig gewees nie. Nie my kant of jou kant nie, albei het bloed aan sy hande. So hoe vinnige hierdie mense dit verstaan hoe minder antogonisties sal ons teenoor hulle voel as daar sulke onsin kwyt geraak word tydens 'n Christen Vroue Konferensie.

Maar aan die anderkant het ons 'n klompie nuwe mense ontmoet. Hoe heerlik was dit om ander Afrikaners te ontmoet wat skoon opgewonde geraak het as hulle Afrikaans hoor, en dit was nie blanke dames nie net vir die rekord. Hier het Christen vroue van regoor Australia en Tasmania bymekaar gekom om die boek Ester te behandel. Ons was 'n klompie vroue wat net vir die dag gegaan het. In totaal was daar seker so 240 vrouens gewees, die dag besoekers was seker 25% daarvan gewees. Dit was 'n lekker dag al het die vrou my so ontstel met haar onsin.

Celeste het die swemspan van die skool gehaal en het Donderdag deelgeneem. Dit was nou iets om te aanskou. In al my tyd met al die bywoning van byeenkomste het ek nog nooit gesien dat skoolkinders stil sit. Hulle is altyd op plekke waar hulle nie moet wees en die onderwysers hardloop rond om toe te sien dat hulle wel op hulle plek kom. Hierdie ouens hardloop nie rond nie, die onderwysers is daar om toe te sien dat die kinders betyds is en niemand raak in 'n panick omdat kinders soek is nie. Dit is amazing, ek wonder net of die atletiek ook so gaan wees Dinsdag. Wat ek ook moet byvoeg is dat ek kan nie foto's neem van Celeste tydens die swem nie, hier geld "privacy acts" en ons is gevra om nie foto's of video's te neem nie. Ek was nou nie baie impress nie maar wat kan ek doen. Het darem so 'n paar ingekry voor die tyd.

En so kry ek toe ook 'n oproep oor my ma wat weer in die hospitaal beland het. Die suiker is hoog, die suurstof is min in die are en sy sukkel om asem te kry. So dis moeilik van die kant om simpatie te betoon, dis so ver en afgesny van almal. Om inligting te kry uit die verpleegsters is nie maklik nie, die ge eee kan my die dak uit dryf, maar kalm bly sal ek maar net moet. En kalmte is nou nie een van my goeie punte nie, daarvoor het ek net 'n te kort fuse.

Nou ja laat ons hierdie week met energie aanpak en hopelik sal ek die huis behoorlik kan skoonmaak of dalk ook nie, wie weet . . . . . .


Monday, March 1, 2010

Naweek pret

Wat 'n besig naweek. Ons het van die een hoek na die ander hoek gekuier en dit was pret. Saterdag het die kinders 'n partytjie gehad by Frankston, dit is by die see, en dit is omtrent so 'n uur se ry van ons huis af. Die van julle wat my op FB het sal onthou ek het foto's op 'n stadium gelaai van Frankston en die sand kastele, Moments in Time.

Saterdagaand het die 2ling 'n ander partytjie gehad en daar was gekuier tot tienuur die aand. Hulle was lekker poegaai gewees. Dit was een van hulle Ozzie vriendinne se verjaarsdag partytjie.

Sondag het ons vroeg opgestaan, sesuur, om die trein te vang in stad toe. Vandaar het ons 'n country trein gekry na Woodend. Die koerant The Age het 'n "Harvest Festival" geborg by die Hanging Rock in Woodend. Dit is so 'n tipiese platelandse dorpie, as jy uitswaai vir 'n hoender dam mis jy dalk die dorpie, met baie karakter. Die plekke Hanging Rock is so twintig minute uit die dorp tussen plase, en as ek reg kan onthou is daar 'n perde redwen baan. Daar is nie baie op die plekkie nie in die sin van geriewe nie, maar daar is baie spasie. Hier het omtrent so 100 stalletjies hulle ware uit gestal. Meestal van die stalletjies was maar wyne van die omgewing, en is hier baie wynplase, die res was maar kosse en gebak gewees. So tussenin was daar musikante wat die mense vermaak het op die verhoog, en as jy moeg geraak het dan het jy maar op jou kombers gaan le en 'n slapie gevang.

Daar was 'n hele groot groep Suid Afrikaners wat die festival bygewoon het, en ons het met nog 'n paar nuwes kennis gemaak. Van die Ozzie ouens wou net met ons gesels om heeltyd die SA aksent te hoor. Dit klink so mooi vir hulle op die oor.

Die dag het ook maar lank geword en ons is so vieruur die middag terug na die bus sodat ons dalk kan onderhandel om 'n vroeer trein terug te kry huis toe. Gelukkig het die kondukteur nie 'n probleem gehad nie en ons is op die trein toe dit die stasie intrek. Die probleem was daar is toe nie genoeg sitplek nie en al genade was dat ons maar moes staan. Die trein was so nice binne dat ons toe besluit het om op die grond te sig, daar was matte. So het ons toe maar die uur met trein rit terug op die grond gekuier.

Dit was so lekker om terug by die huis te wees en net te gaan sit op 'n sagte stoel. Nodeloos om te noem maar ons was almal vroeg in die bed.

Friday, February 26, 2010

Hartseer en vreugdes

Hier le ek in by bed op hierdie warm Vrydag aand en bejammer myself omdat hierdie hoofpyn nie wil weg nie. Ek voel jammer vir myself omdat ek nie net dokter toe kan gaan en iets daaromtrent kan doen nie. Dit voel partykeer of die dokters hier probeer om die wiel weer van vooraf uit te vind. Wat is dit met die mense dat hulle so sku is om 'n mens te behandel. Waarvoor is die ouens so bang, en vir wat dink hulle 'n mens is 'n moroon net omdat jy self weet wat is fout met jou.
Het hulle nog nooit mense gekry wat dit mooi vir hulle kan uitspel wat is fout met hulle of wat is hulle simptome nie.

My hart is seer want my scrapvriendin se hart pyn. Haar ma is oorlede en ek kan niks doen om haar pyn te verlig nie. Haar gesig het altyd gestraal as sy van haar ma praat, hoe ouma haar kind breiwerk leer, hoe haar kind vakansie by ouma gekuier het. Ek kan nie nou na haar gaan en net haar vasdruk nie, mens voel so magteloos as jy so ver weg is. Mag jy vrede in hou hart kry, ek dink aan jou.

My kind se hart pyn. Daar is iewers fout met 'n vriendin en hier sit sy veertien duisend kilo's ver en huil. Huil vir 'n vriendin se hartseer wat sy niks kan aandoen nie. Die verwerping van 'n vriendin omdat sy probeer help, maar dis nie goed genoeg nie. Hoe verduidelik jy aan haar sy moet dit laat gaan, dis 'n vriendskap van 7jaar wat deur hoogte en laagte punte gegaan het, sy moet leer dat sekere dinge kan jy iets aan doen en partykeer is daar absoluut niks wat jy kan doen wat enigsins 'n verskil gaan maak nie.

Ons het ook vreugdes, vreugde om hier te sit en 'n land te sien wat mooi is. Vandag het ek 5km gestap in 'n park sonder om oor my skouer te loer vir 'n skurk wat my dalk wil oorval nie. Ek het Maandag 'n nat stad binne gery en my self weereens verkyk aan die mooiheid daarvan. Hoe skoon en helder die lug is, hoe die parke mens uitnooi om te kom sit en ontspan. Die koffie winkels wat hulle deure oopmaak en mens wil binne nooi vir 'n heerlike "cuppa" Die reuke en geure van die bome, die bloekomboom se olie wat uitstyg en jou oorweldig. Die busse se skoon uitlaat gasse wat jou laat besef mensig maar die ouens gee eintlik om vir die omgewing.

Celeste het die skool se swemspan gehaal en sy is in ekstase hieroor, ek is nie want die "bather" kos 'n plaas se prys, maar ons sal net moet rondshop. Christiaan het begin rygby oefen en dit was hel hoor ek. Hy kon nie lekker byhou nie (lekker onfiks), maar hy is positief om elke dag iets te doen om fikser te word. Hy is partykeer so gedetermineerd om dinge gedoen te kry, waaroor ek en Alex natuurlik baie opgewonde raak oor, maar dan weer die volgende week heeltemal die pad byster raak. Daar is hoop vir die kind.

Ons gaan die naweek met die trein binneland toe ry vir 'n "Food Festival", ek sien nogal uit daarna. Daar is seker so 10 Suid Afrikaanse gesinne wat kaartjies bespreek het vir die dag, hopelik speel die weer saam en kan ons 'n heerlike buitelug piekniek hou. Ek is net bevrees as my kinders eers uit hulle kassies is kan die trein episode weer heeltemal oorgeneem word deur tiener eskapades. Die trein rit van oujaars aand kom weer by my op en ek sien hoe hulle ons die keer afgooi van die trein.

Mag elkeen van julle al julle vreugdes en hartseer in julle lewe met HOM deel. Hier in die vreemde het ek meer geestelike groei al beleef as wat ek ooit in my geboorteland beleef het en daarvoor is ek dankbaar.


Monday, February 8, 2010

Oujaars aand foto's

Ou Jaarsaand vuurwerke.

Op oujaars aand het ons almal op die trein geklim (dit was verniet die hele dag) en ingery stad toe. By die MCG (Melbourne Cricket Ground) het hulle 'n familie vuurwerk vertoning gehou. Dit het seker so 5uur die middag begin met allerhande karakters wat die kinders vermaak het. Die kinders het hulle saam met Bart Simpson en Homer laat afneem. Die kinders het dit so geniet en tekere gegaan terwyl die sangers en groepe opgetree het. Ek het lanklaas my kinders so sorgeloos gesien, ok kom ons wees eerlik, ek het my kinders nog nooit so vreesloos en sorgeloos tussen ander duisende vreemde mense gesien nie. Hulle het behoorlik gejol.

Die vuurwerk vertoning sou so kwart oor nege begin het, maar daar is gese dat as daar reen is en weerlig mag hulle dit dalk kanselleer. Wel die wolke het lekker dik begin aanpak so van agtuur die aand af. Dit het gelyk na 'n tipiese donderstorm wat oor altyd so Pretoria opbou, en wragtag so teen negeuur toe begin daardie bliksem strale mos so mooi dans in die lug. Die klomp woesies (Ozzies) het elke tekere gegaan as die weerlig so slaan. Jy kon duidelik sien wie is Suid Afrikaners, ons verwelkom toe die weerlig in al so glorie. Toe die reen begin uitsak moes julle sien hoe spartel die mense vir cover en hoe leeg raak die park. Daar was duisende mense met kinders, baie meer as wat by die Carols was. Die mense het van heinde en ver gekom om die vertoning te sien. Ons het so lekker natgereen en angstig gewag om te hoor wat is die uitslag oor die vertoning. Hulle het darem besluit om die nie te kanselleer maar moes wag vir die weerkantoor om die groen lig te gee vir die vertoning. Dit het so net na halftien begin. Wat 'n awesome gesig. Die hemelruim het skielik helder verlig geword met die mooiste kleure. Die vuurwerk vertoning is op twee plekke in die park gedoen, so mense het alles dubbel gesien. Dit het seker vir so vyftien minute aangehou, toe dit klaar was het die reen weereens lekker uitgesak. Dit was beslis nie 'n onwelkome reenbui nie want dit was vrek warm gewees deur die dag.

Die groot pret het begin toe ons terug stap stasie toe. Met al die reen probeer almal toe gelyk op die peron kom. Dit het gelyk soos 'n klomp skape wat gelei word na die slagpale. Die trein interval was so elke 10minute en soos die noodlot dit toe wil he is die trein so vol en ons moet wag. Ons het seker so 'n hele twintig minute gewag alvorens ons 'n trein kon kry. Toe ons eers op die trein is klim die kinders toe eers uit hulle kassies uit. Die mense het die kinders lekker aangegaap oor al hulle gesingery. Ons het die aand eers half twaalf by die huis aangekom, maar wat 'n heerlike experience om die nuwejaar in te gaan.