Hier is ons storie, die storie oor hoe ons die lewe ervaar aan die anderkant van die water. Almal van ons het stories en hier deel ek ons sin, die lekker, die hartseer en by tye die werklikheid wat ons laat wankel.
Thursday, November 5, 2009
Wonga Park Christian Reform Church



Die gemeente is nou nie so groot soos wat ons by Wierdapark Suid was nie, maar hier is 'n hele klompie Suid Afrikaners. Die getalle lidmate wat Afrikaans of Suid Afrikaans is word gereken so by die 60%. Die predikantspaar is Thinus en Ina du Preez en hulle is omtrek so vyf en 'n half jaar al in Melbourne. Dis 'n ouerige predikant en hy is beroep na die gemeente nadat hy vir so ses maande by 'n ander gemeente in Box Hill uitgehelp het. Die dienste is meestal in Engels en dan so een Sondag in 'n maand word 'n Afrikaanse diens gehou. Die mense kom dan van heinde en ver om na die preek te luister. Daar word dan sommer ook lekker in Afrikaans gekuier na die tyd.Die kerk begin so tienuur op 'n Sondag en eindig so halftwaalf. Dit gooi 'n ou se dag maar lekker deurmekaar. Christiaan het sondagskool van so kwart voor tien tot so half elf en dan kom hy die kerk binne en luister saam met ons na die preek. Die ander kinders is saam met ons in die kerk tot so half elf dan gaan hulle uit vir Sondagskool.
Hier doen elkeen maar sy deel en elkeen kry sy beurt om die kerk skoon te maak asook om tee te skink en daarna die opwas.
Ek het besluit om deel te wees van die bybelstudie groep wat so elke twee weke bymekaar kom by 'n boekwinkel in Whitehorse Rd. Dit is nie iets wat ek voorheen gedoen het of belang gestel het om van deel te wees nie, maar ek moet se dit is heerlik om ander mense se standpunte en hulle oogpunt van Christenskap te sien. Ek word beslis verryk hierdeur.
Sunday, November 1, 2009
Wel hierdie week het ook gekom en gegaan met soveel spoed dat jou kop eintlik spin. Christiaan was die week op uitstappies gewees en het meestal baie moeg by die huis aangekom. Die eerste dag het hulle fiets gery vanaf die skool tot in Melbourne stad. Dit was die hele pad deur verskillende parkies en fietsry paadjies. Van waar ons bly kan jy tussen die verskillende "reserves" stap tot binne in die stad. Dit is omtrent so 30km tot binne in die stad. Christiaan was die dag so moeg hy het by die huis gekom en seker dadelik gaan slaap na aandete. Gewoonlik het hy nie in die bed gekom tot so voor elf nie.
Vir Dinsdag en Woensdag het hy op 'n roei uitstappie gegaan. Hulle het al die pad met die Yarra rivier geroei tot by hulle oornag verblyf en toe weer terug. Hy het dit so geniet dat hy amper 'n ander kayak gesink het. Hulle het 'n speletjie genaamd "Fruit Salad" gespeel en met die gespelery tussen die kayaks deur het hy die een so getrap dat dit skeef gekantel het en skielik water aangevat het. Donderdag moes hulle elkeen met die trein ry (op sy eie) tot by Flinders stasie in Melbourne waar hulle die onderwysers ontmoet het. Vandaar het hulle op 'n bootvaart gegaan vir die oggend. Vrydag het hulle op 'n bustoer gegaan. Het nie veel inligting gekry oor dit nie aangesien hy die middag skaars by die huis aangeland het toe toe weer vort is om te gaan kamp saam vriende.
Anli Roelofse het die taak op haar geneem om alles wat ons mag benodig vir die huis te organiseer. So het ons almal beddens met beddegoed, die kombuis het al sy benodighede wat jy kan aandink, daar is 'n bank en 'n paar poefs vir die kinders om op te sit en tv te kyk. Daar is 'n yskas, staal tafel en plastiek stoele vir die eetkamer. So sal ons regkom tot ons eie goed arriveer. Nou is dit net seker maak dat ons 'n wasmasjien, tv en eetkamer tafel gaan koop aangesien ons dit nie saamgebring het nie. Wie weet dalk, net dalk tel ek iets langs die pad op.
Met hierdie hele getrekkery het ek weereens gevind daar is mense wat meer as bereidwillig is om te help, of hulle jou nou ken of nie. Of dit nou een of twee goed is of selfs amper 'n hele kombuis vol goed, die mense is vrygewig. Anli is die tipe mens wat dinge laat gebeur. As 'n ding nie uitwerk is daar altyd nog iets wat sy sal probeer, sy gaan le net nie. Ons gesin is voorwaar geseend om haar familie te ken.
Ons het 'n bietjie gaan stap (dis nou ek, Alex en die 3 meisies) in die verskillende parkies hier in ons omgewing en die kinders het heeltemal mal gegaan op al die swings en glyplanke. Ons was seker 'n goeie uur of selfs langer weg gewees. (Sal foto's laai) Dit is voorwaar nog party dae moeilik om te glo dat mens hier kan rondstap, van een parkie na 'n ander, en nie bang hoef te voel dat iets met jou sal gebeur nie. Jy voel werklik sorgvry, en kan asemhaal sonder om heeltyd jou omgewing te scout vir enige moontlike ongure karakters wat dalk net iewers kan skuil.
Net soos in Suid Afrika is hier tog ook maar misdaad. Enige iemand wat hiernatoe kom en dink dit is nie die geval nie is in vir 'n surprise. Hier vind jy ook maar dat in sekere gebiede die Australianers nie tyd het vir immigrante nie en die ouens word fisies aanval. Hier is ook gevalle waar daar by trein stasies mense aangerand word en besteel word. Partykeer kom soek moeilikheid vir jou en dan moet jy maar gereed wees.
Ek moet tog vir julle vertel van die storie oor Celeste en assasins. Celeste kom een middag by die huis en vra wat is assasins. Nou probeer Alex en ek bepaal in watter konteks bedoel sy assasins. Het sy die woord gehoor en verstaan sy dit nie, weet sy nie wat dit beteken of wat. Sy wil toe weet watter mense is assasins. Nou probeer ons verduidelik dit kan enige tipe mens wees. Nee antwoord sy daar is dan assasins in haar skool. Duidelik is ek en Alex toe heeltemal deurmekaar. Wat bedoel sy daar is assasins in haar skool? Dis 'n skool vol kinders, waar kom die Assisins vandaan? Was daar 'n infiltrasie van karakters of onderwysers waarvan ons nie bewus is nie. Sy verduidelik toe vir ons wat sy bedoel . . . . . . duidelik is vertaling nog 'n probleem.
Die einde van die storie is sy wou eintlik weet wat of wie is Asiers!
Tot volgende keer.
22 Glenorchard Close


Hier is ons huis vir tenminste die volgende 12 maande. Indien moontlik selfs nog langer. Die huis is in 'n cul de sac en dit klink of hier ontrent net immigrante bly. Die bure het ook kom kennis maak dieselfde dag wat ons ingetrek het. Langs ons (regs van die garage se kant) bly of Italianers of Portugeuse ou mense. Klink of hulle sieklik is, maar baie vriendelike ou mense. Twee huis op van hulle bly Grieke, die ou omie het met Alex kom kennis maak terwyl hy buite besig was.Die huis is ruim genoeg vir ons om te beweeg sonder om in mekaar se hare te wees. Dis nou nie so groot soos ons huis in Eldoraigne nie, maar ook nie so klein soos ons huis in Eldo Meadows nie. Die kamers is lekker ruim en Christiaan het vir die eerste keer hierdie jaar 'n behoorlike slaapkamer. Al probleem is die huis het net twee badkamers. Dit beteken dat 'n tydskedule uitgewerk moet word om sodoende tyd in die badkamer aan elkeen toegeken te kry om verder te verseker elkeen is betyds klaar vir skool elke oggend en kerk op Sondae.
36 Pine Hill Drive



Hierdie was ons huis vir die afgelope 3 en half weke vandat ons hier aangeland het. Dit was nou die mees netjieste en skoonste plek wat mens al tee gekom het nie, maar dit was 'n blyplek in die vreemde.
Ek is heeltemal seker dat hierdie eienaar moeg was om die huis te verhuur vir lang kontrak periodes en besluit het hy sal beter geld maak deur dit as gemeubileerd te verhuur. Jou inkomste verdrie dubbel dan maklik. Ek is nog meer seker daarvan dat hy die meuels langs die pad opgeraap het en in die huis gesit het. Nou kyk die meubels was nie sleg nie, dit was OK. Jy kan duidelik sien dit het al baie jare op die klok gehad. Die eetkamer tafel is van die soort wat jy kan verleng of verkort afhangende van jou omstandighede. Die tafel was nou in 'n toestand, as jy van naby gekyk het kan jy jare se aanpaksels tussen die skrefies sien. Die blad kon jy nie langer of korter maak nie, dit het vasgesit. Die stoele was so sat en onstabiel, Alex moes die eenstoel regmaak met 'n draad hanger, en daar was al 'n paar laste met ducktape.
Oor die algemeen het ons lekker gebly en het ons 'n plek gehad wat ons 'n tuiste kon noem noem al was dit net vir 'n rukkie.
Sagte bal
Die tweeling het hierdie week gaan sport doen tydens skooltyd. Hulle het gaan sagtebal speel in Waverley. Daar was tussen 300-400 kinders daar. Die wedstryde het die oggend seker so tienuur begin en die kinders was terug so teen half vier die middag. Hulle het dit geweldig baie geniet, en was nogal pootuit Die beste van alles is dat daar 'n afrigter na hulle toe gekom het en hulle toe gerecruit het vir klub sagtebal. Die vrou was so impress met die girls dat hulle dadelik plek in die span gekry het. Volgens haar het sy die hele dag so tussen die wedstryde beweeg het en gekyk het na al die kinders se wedstryde. Van almal was sy baie beindruk met die twee se spel, veral met Celeste wat tydens een van die wedstryde "geslide" het na die bof. Dis iets wat hulle nie sommer hier sien gebeur nie. Hier speel almal "safe".
Die meisies het gaan oefen Woensdagaand en is toe opgeneem in die Waverley Glen span. Hulle het Saterdag hulle eerste wedstryd gespeel, en verloor. Die span teen wie hulle gespeel het was goed, die girl wat pitch is vrek vinnig en die meisies het maar gesukkel om die bal raak te slaan. Celeste en Nicolette was slegs twee van 3 wat dit kon regkry om die bal raak te slaan en sodoende kolwers huis toe gebring, wat natuurlik punte beteken. Die afrigter het gou agter gekom dat die ander span staat maak op die pitcher se goeie pitching, toe dit weer Waverley se beurt was om te pitch het sy 'n stadiger pitch in gesit. Deur dit te verander het die ander span natuurlike goeie houe ingekry en die balle het telkemale deur die lig getrek, maar die voordeel hiervan was dat die veldwerk goed was en die kolwers is uitgehaal na mekaar sonder dat hulle punte kon aanteken.
Sal foto's opsit sodra ek dit op my rekenaar gestoor het.
Self help kassiere . . . . . .
Toe ons hier aanland in Melbourne en gou gaan om 'n paar noodsaaklike groceries te koop was ons absoluut verstom oor hoe maklik dit is om te betaal vir jou aankope. Moet my nou nie verkeerd verstaan, dit is maar presies dieselfde hier as in Suid Afrika. Jy het nog steeds jou trollie of mandjie, jy staan in 'n ry en betaal. Waarvan ek praat is die selfhelp kassier lyn. Ons moes verseker soos 'n paar verdwaasde, selfs gestremde of beter dalk soos bobejane gelyk het toe ons die betaal manier gesien het.
Hoe is dit moontlik, het dit deur ons koppe gegaan dat jy doen jou aankope, dan gaan jy na die till, en dan lui jy self jou aankope op en betaal dan daarvoor. Soos dit maar ons natuur is begin ons dadelik dink hoe sal die metode gemanipuleer word in Suid Afrika. Hoe maklik sal die ouens slenters uitdink om die till te verneuk. Daar is geen manier dat so 'n betaal punt enigsins in enige Pick 'n Pay, Checkers of enige ander winkel sal werk nie. Die mens sal dit omsyl tot hulle eie voordeel.
Hoe dit werk is jy vat jou mandjie, (sal nou nie lekker werk as jy die maand se aankope doen nie) sit dit op die kant (dit is 'n elektroniese weegskaal) en jou mandjie word geweeg. Aan die anderkant sit jy jou sak en dan begin jy die groceries scan. Soos jy die een uithaal, scan en dan in jou sak plaas weeg dit die een teenoor die ander een op. Wanneer jy klaar alles gescan het dan druk jy op die skerm om te wys jy wil betaal. Dit check dan dat jou oorspronklike gewig ooreenstem met die groceries wat jy gescan het se gewig, indien die skale happy is kan jy voortgaan om te betaal. Indien jou sak vol is en jy dalk twee of meer sakke nodig het is daar nog 'n plekke vir jou om die vol sak op te sit, die het ook 'n skaal. Daar is 'n liggie aan die onderkant van die scanner wat groen of rooi sal wys en daarvolgens kan jy sakkies afhaal en oorsit. Jy kan of kontant betaal deur die geld in 'n gleuf in te sit of met jou kaart. Sodra die transaksie afgehandel is loop jy en die volgende ou kan dan sy transaksie doen. Jy het natuurlik 'n probleem indien jou gewig nie ooreenstem. Indien daar fout is dan gaan daar 'n alarm af en jy kan nie jou transaksie voltooi nie. Daar is redelik vinnig iemand daar wat kyk wat is fout en ook deur jou aankope gaan om seker te maak daar is niks verdag nie.
Ons probeer dit nog lekker uitwerk, maar die twee keer wat ons dit tot dusver gebruik het moes iemand ons kom help omrede ons iets fout doen. Alex wil nog 'n boffin raak op die manier van aankope want dit fascinate hom totaal en al.
Subscribe to:
Posts (Atom)