Dis nou twee jaar gelede wat ons die groot pak aangedurf het en die grootheid daarvan het my nogal redelik oorweldig. Ek onthou nog die dag toe die eerste pakkers opgedaag het om die huis te kom oppak. Die benoude gevoel wat mens kry met al die mense binne jou huis en die kop hou van wat gaan en wat moet maar bly het menige maal veroorsaak dat mens net histeries aan die gil wil gaan en se dat almal tog net moet rustiger raak, maar eintlik was jy die een wat nie rustig was nie.
Daardie gevoel wil so half sy plek weer vind hier in my binneste. As ek so deur die huis gaan en besef dat alles weer in bokse ingepak moet word om binne in 'n container in te gaan dan raak ek skoon onrustig. Alles word weereens van voor af uitgesorteer, die keer dink ek gooi ek makliker goed uit vir "hardwaste" en met hoe minder ek trek hoe beter.
Die eerste ouens was vandag hier vir hulle kwotasie, dit terwyl ons in die tuin werk en ek soos "Annie van Danville" lyk. Maar basta daarmee dink ek toe, ons is deur die huis. Alles is bespreek so nou wag ek maar vir die kwotasie. Nommer twee kom more, gelukkig nie vroegoggend nie.
As ek so kyk na die websites vir huise in Sydney dan wil ek nog meer paniekerig raak. Daar is nie veel beskikbaar nie, en die tyd loop vinniger as wat mens dit graag sal wil laat loop. Ek weet mens moet tyd nie vinniger om wens sodat jy daar kan kom en kan gaan kyk na huise nie. Die keer het ek nie iemand aan daardie kant wat dit vir my kan doen nie, so elke keer wat ek 'n huis sien wat ek van hou dan raak ek sommer moerig want ek weet dit gaan voor ons weggeraap word.
Geduld is dus nie my vriend op die stadium nie.
Die kinders gaan hulle laaste kwartaal klaar maak hier in Melbourne, dit gaan 'n bumper kwartaal wees. Die meisies het weer 'n rivier avontuur van 'n week, dis nou kanovaart op die yarra rivier wat wag. Hulle het ook 'n week van buitemuurse aktiwiteite wat fietsry in stad toe, 'n kanovaart en 'n bootvaart op die yarra insluit. Wie't ook gedink skool is boring.
No comments:
Post a Comment