Monday, August 17, 2009

Hierdie week was 'n besige week gewees. Ek en Alex het ons lysies gemaak met wat ons moet doen voor ons vertrek na Australia. Dit het met 'n bang afgeskop.

Noudat ons almal dieselfde tyd vertrek jaag dit die tydskedule op en moet beplanning behoorlik gedoen word. Hierdie naweek het Alex al die kampgoed gewas, gespuit en skoongemaak. Daar kan mos nie 'n krieseltjie stof of grond van Afrika saam met ons gaan nie. En soos ek na die gesprek luister met Alex na die harde werk was boeta nie die mees entoeiastiese werker gewees nie. Daar was baie gekla en beterwetige opmerkings gewees. Dis was net tot hy die "GUN" gekry het, toe is alles spelletjies. Die "GUN" is die highpressure spuit wat ek geleen het by die werk. Alles is toe sommer pret. Maar dit het ons verwag met Christiaan, sodra hy iets in sy hande het wat soos 'n geweer lyk is dit speeltyd.

Die week het die meisies beroepe dag gehad, en moes aantrek in die beroep wat hulle hulself sien. Dit was pret. Celeste het soos 'n kunstenaar gelyk en Nicolette tipies "prim & propper" soos 'n rekenmeester. Duidelik gaan niemand in mekaar se skadu staan nie.

Dit was my laaste naweek van Scrap, en dit was lekker om dit met die "girls" te gedeel het. Ons vier (Elsie, Esther, Ciska en ek) kom al 'n lang pad met ons weeklikse scrap op Woensdae aande. Gaan dit beslis mis, veral as Elsie het haar vroom gesig jou tereg wys op jou bladsy se datums wat kort, of die musiek wat nou nie meer daar is of selfs as sy voel Ciska het bietjie lanklaas gaan voorraad koop.

Clarissa het saam met die Wapadrand Dansgroep in die Staatsteater op getree tydens Tshawane se Jeug Kultuur week. Die mense was absoluut gaande oor die kinders se gedansery. Die volkspele was beslis die hoogtepunt van die aand gewees. Dit was lekker om die kinders so te sien deelneem van al die verskillende skole. Ons jeug het beslis talente waarmee die onderwysers / afrigter kan woeker op die verhoog.

Die 2ling tree Maandag aand op met hulle revue groep. Ons sal dit nie kan bywoon, maar ek is seker hulle sal dit net so baie geniet. Ons moet boeta se aanlegtoetse kry en gaan luister wat is die siening oor vakkeuses vir hom. Dit gaan baie interesant wees om dit te sien.

Wel nog 'n week is daarmee heen. Hopelik sal hierdie week ook baie hoogtepunte vir ons he.



Tuesday, August 11, 2009

Bosveld naweek

Stelselmatig begin mens afskeid neem van die dinge in jou geboorte land. Myne was die bosveld. Vir die langnaweek was ons Sondela toe en dit was absoluut wonderlik. Jy kom daaraan en die mense is vriendelik, behulpsaam en weet wat beteken kliente diens.
Die huis waarin ons gebly het is tipies bos geinspireerd. Mooi grasdak huis met houtmeubels en afwerkings, alles maak oop na buite en is beslis vir die ou wat graag buite wil kuier.
Die sonsondergang is mooi en Alex verstom my partykeer oor sy benadering van hoe hy foto's neem. Die diere kom sommer so by die huise verby gestap en daar is 'n watergat nie eens 20 meter van ons. Almal was lekker moeg en ons is vroeg bed toe. Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en Alex neem weereens fotos van die sonsopkoms. Die reuke so vroegoggend in die bos is darem lekker. Christiaan het vir ons 'n heerlike ontbyt gemaak met flapjacks, hy is natuurlik uitgevang terwyl hy so lekker proe en bak. Ons het 'n bietjie gaan swem en later die middag na die sentrum gegaan waar hulle vir die jong, weerlose en beseerde diere sorg. Absoluut amazing om te sien watter harde werk ingaan om die diere te rehabiliteer. Die oulikste was die baba renoster en die leeuwelpies. Daar was ook 'n baba kameelperd en kleine skilpadtjies wat nie eens die helfte van jou handpalm is nie.
Die kinders het gaan quadbike ry en later die middag gaan perdry. Verstommend hoe die kinders al die avonture aanpak en dit so geweldig geniet. Elke oomblik gryp hulle aan sonder om twee keer te dink en hanteer die situasies en uitdagings sonder perke. Hierdie is 'n naweek wat hulle nie gou sal vergeet nie.
Ons het 'n mooi land sonder perke, ongelooflike sonsopkomste en sonsondergange. Hierdie land is my land, my geboorte grond, tog moet daar meer wees as dit.

Thursday, August 6, 2009

Vandag is weereens een van daardie dae wat die maag so op 'n knop getrek word. Jy's bang en excited dieselfde tyd. Ons planne het bietjie opgeskyf en nou vertrek ons einde September na Australia. Ons wou altyd almal ingedagte hou alvorens ons net veranderinge doen, maar na gister het ons besluit genoeg is genoeg. Ek en Alex is die ouers, ons neem die besluite, die res moet inval en aanpas. Die hele skuif is nie maklik vir enige een van ons nie, so hoe gouer dit maar gebeur hoe beter.

Dit is so 'n skielike en oorweldigende verandering dat jy jouself nog nie regtig kon kondisioneer en die aanpassing doen nie. Die emosies loop en by tye wil dit my so oorweldig dat ek nie kan dink nie. Ek is baie bang vir die onbekende.

Die kinders sal die kwartaal klaar maak en sal dan Oktober in Australia begin skoolgaan. Al wat ons kan doen is bid dat alles reg sal uitwerk. Ek glo dit gaan alles uitwerk. Ek glo Alex sal homself weer kan vind en 'n nuwe lewe daardie kant vir ons skep met vooruitsigte waardeur ons sal kan groei.

Nou moet planne gemaak word, roosters opgestel word sodat alles behoorlik beplan kan word vir die groot skuif.