Sunday, July 25, 2010

Rigting wyser

Hier kom gereeld “nuwe” mense die land binne wat maar redelik verward rond strompel. Ons verwysings raamwerk wat vir jare gegroei het oor hoe dinge werk in ons land van geboorte is skielik daarmee heen en ‘n nuwe verwysings raamwerk moet gevorm en gebou word oor jou nuwe land. Dit is maar redelik moeilik veral as jy absoluut niemand ken, en jy moet nog probeer uitpleis wat werk en hoe werk wat. Dit help as mens iemand het wat jou die pad kan wys.

Hier werk alles anders. Vat nou maar jou bank, hier glo die mense nog aan tjeks, internet betalings is maar baie “suspect” in die mense se oë. Jy kan nie net jou kinders in die skool inskryf nie, nee dit is eers afspraak wat jy maak en dan onderhoude wat gevoer word, jy word die skool gewys en dan besluit jy wil jy jou kind inskryf. Dis ‘n lang proses wat maklik ‘n week of langer kan neem. Jy kan ook nie net ‘n agent bel as jy ‘n huis soek nie, dis ook ‘n proses. Jy moet registreer om ‘n sms te kry oor wanneer die huis op skou is om te gaan kyk, dan kry jy ook net vyftien minute om deur die huis te gaan. Jy kan ook nie te veel vra hê nie want die kanse is baie goed dan die agent ook geen idée het. Selfs om net winkel toe te gaan en kos te gaan koop vat nogal dink werk. Dink nou vir jouself, vir jare word jy groot met Tastic, Koo, All Gold Tamatie sous. Jou vleis koop jy by die slagter en jy ken die snitte by die naam. Wel hier is nie Tastic en Koo nie so watse rys gaan jy nou koop en die kinders wil niks weet van enige tamatiesous behalwe All Gold nie. Nou moet jy maar elke keer iets anders koop om alles uit te probeer tot jy nou iets kry wat naastenby is soos wat jy gewoond aan was. Selfs die vleis snitte word anders gesny. Mens sukkel om maar ‘n plekkie te kry wat skaapnek sal sny, dit is beskikbaar, maar die ouens se snitte is meer hompe as snitte. Die slagter sal sommer opgewonde raak as jy sou vra om dit nog kleiner te sny. Hy is te bang hy sny sy vinger af. Partykeer wil mens sommer self agter die lem inklim en die goed sny.

Die week het ek ‘n nuwe gesin gewys waar alles is en bietjie raad gegee oor hoe dinge werk en waarvoor daar uitgekyk moet word. Ek het sommer begin deur vir hulle te gaan wys waar is die Suid Afrikaanse winkel waar ons chutney en rys koop, die rys wat ons in Coles hier koop kook pap. ‘n Belangrike winkel vir ons hier is Aldi’s want hier sal jy altyd iets te kope kry wat spotgoed koop is vir die week en die kruideniersware is nie te duur nie. Ons het op en af gery met die strate en hulle gewys dat alle paaie kruis met mekaar, so indien jy sou verdwaal hoef jy net dwars te draai en jy kruis weer een van die groot paaie. Ek het hulle ook gewys waar is die trein stasies, die “op shops” die verskillende winkelsentrums, asook waar al die “factory outlets” is om klere teen ‘n goedkoop prys te kry en natuurlik ook die natuurpad by Warrandyte koffie winkel.

Wanneer jy hier land werk jou kop nog in rande en jy betaal in dollars. Nou elke keer wat jy iets koop kan jy nie anders as om alles terug te verwerk na rande nie. Indien jy dit doen dan kos alles ‘n astronomiese prys. So hier leer jy vinnig om al die specials vir die week uit te snuffel en by watter winkels kan jy maar verby loop. Wanneer jy iemand het wat jou al die dinge kan uitwys en reghelp dan maak dit dat die aanpassing nie so moeilik is nie. Hopelik is hier een gesin wat minder “confused” is oor die onbekendheid.

Saturday, July 17, 2010

"HARD LABOUR"

Vandag was nou een van daardie dae waar jy jouself omtrent letterlik oor ‘n mik gewerk het, jy is skoon moeg en uitgeput na so ‘n lang dag. Al waarna jy nou verlang is om ‘n lekker warm stomende borrel bad te gaan neem. Nie dat dit nou vir my beskore is nie want ek het nie ‘n bad in my badkamer. Hopelik een van die dae dan sal ek ook so ‘n luuksheid hê.

My vriendin Anli-hulle het getrek van hulle kleine en beknopte tuinhuisie na ‘n lekker groot huis met ‘n tuin. Dit was ook nou nie moontlik om ‘n ou Jonas of Elias nader te geroep het om te kom help met die getrekkery nie, nee wat daar was eerder geroep na ‘n Alex en Johan. ‘n Groot trokkie is gehuur vir die dag en van die manne het vroeg uit die vere gespring om te gaan help. Die hele huis is omtrent getrek en nou word daar gewag vir “Two men and a Truck” om die groot goed soos die beddens, kaste, tafels en sitkamer stelle te trek. Ons is te oud om die goed te doen, en Elias en Jonas is nie hier, so dan huur jy mense om die vir jou te doen. Hulle het die regte “toerusting” en weet ook hoe om dit reg te “dra”.

Ons vrouens het na die nuwe huis gegaan en die kombuis begin skoonmaak. Ek wil dit net weereens noem dat hier is verskillende vlakke van skoonmaak in Australia. Daar is ‘n spreekwoord wat so gaan “Bo blink maar onder stink” en dit is hoe die mense hier skoonmaak. Alles lyk netjies tot jy die kaste en laaie begin skoonmaak, mensig maar die mense het net absoluut geen benul wat dit beteken om ‘n huis skoon en netjies af te gee nie. Ai, ek skud maar my kop, en is dan maar dankbaar my Ma kon my wys hoe om behoorlik ‘n huis skoon te maak. Hopelik sal my kinders ook eendag dankbaar wees angesien hulle hier onder my ook maar hel het.

Hier leer ons weer om mense te waardeer en dankbaar te wees vir die vriendskappe wat ons sluit. Ons kan met ‘n rustige hart weet dat as iets ooit moet skeef loop die ander een daar sal wees om te help. Ons het hierdie tipe vriendskappe begin verloor in Suid Afrika, nie doelbewustelik dink ek nie, dis maar die manier hoe ons begin leef het. Elkeen vir homself en die duiwel vir almal

Sunday, July 4, 2010

Afrika tyd versus OZ tyd

So kom alle goeie en natuurlik lekker dinge ook maar altyd tot ‘n einde. Hierdie afgelope naweek was ons na die Grampians om bietjie te gaan ontspan. Die Grampians hier is soos die Drakensberge in Suid Afrika. Baie mooi en natuurlike baie koud.

Die naweek het maar nat begin, maar gelukkig weet ons teen die tyd dat jy pak maar altyd ekstra warm goed in want jy weet nooit. Die plekkie waar ons oorgebly het is aan die suidelik kant van die Grampians. Wat so interresant was terwyl ons gery het is die dorpies waardeur ons is, hoe verder ons ry hoe kleiner is die dorpies. Op die een plekkie waar ons toe gestop het is die pupulasie maar 100, die winkeltjie is die plaaslike “take away”, poskantoor, Medicare en Centre link, en DVD winkel. Jou alles in een winkel. Daar was ander dorpies wat nog kleiner is op ons pad, en nog voor jy dit besef het is jy deur die dorp, met slegs ‘n gehuggie en pleknaam as aanduiding van ‘n dorp. Ek wonder partykeer hoe oorleef die mense dit so op die platteland.

Die dorp naaste aan ons by die Grampians is Balmoral. Nou die plekkie is nie veel verskillende van die ander dorpies waar ons al gestop het nie, maar hy sal beslis die een wees wat altyd in ons kop sal vas sit. Ons het besluit om Saterdagaand in die dorp te gaan eet, en sodoende het die ouens plek bespreek by die hotel, die enigste een natuurlik op die dorp. Nou picture dit, dis ‘n tipiese ou hotel dateer seker so uit die vroee 1900’s en jy kan die laslappie werk sien wat so deur die jare gedoen is, maar dis die dorps se kuier plekkie die. Dis nie net die dorps se kuier plekkie nie, dis sommer ook die local “drive thru” bottle stoor. So elke keer wat jy by die kroeg staan en iets bestel en nog dink jy wil betaal hardloop die barman gou uit om die “drive thru” klient te gaan bedien, dan is jy eers weer aan die beurt. Sonder om veel hieroor uit te brei kan julle julself nou indink hoe lank die bestelling van 23 mense gevat het. Dit was LANK.

Omtrent al die eetplekke werk so dat jy bestel jou kos by die kasiere, jy betaal en kry dan ‘n tafel nommer. Jy kry vir jou ‘n ou sitplekkie en wag dan vir jou kos, en gewoonlik verloop dinge redelik vlot en vinnig. Dis ‘n bietjie van ‘n aanpassing, maar dit werk. Wel blykbaar werk dit in die hotel toe ook so, eers was dit die drinkgoed se bestellings wat bietjie lank geneem het, en toe besef ons maar dis nie net sit by die tafel in die hotel nie, nee jy moet by die bar jou kos ook bestel. Gelukkig kry ons ‘n menu of twee en werk die ding sommer so vinnig deur. Dit was nou weer ‘n proses om die kos bestellings geplaas te kry, maar ons is rustig. Nou laat ek net ook dit sommer noem, ons was so sesuur by die hotel en aandete word slegs bedien tussen 6 en half nege. Iemand het dit blykbaar nie vir die kombuis genoem nie, maar dis ok.

Na ‘n uur en ‘n half daag die eerste 3 se borde kos op, ons almal wag toe in spanning vir die res. Die kos het almal in sarsies van drie of so opgedaag, met tussen poses van tien minute tot ‘n driekwart uur. Ons het naderhand weddenskappe begin neem oor hoe vinnig ons gedink het die volgende ou se kos sou neem en wat dalk volgende sal uitkom. Ons het selfs al begin dink om ‘n game darts te begin speel want ons het baie tyd gehad so tussen die bedieninge van die kos. Dit het presies drie ure geneem vandat die eerste ou sy kos gekry het tot die laaste ou sy kos gekry het, en met elke bediening het ons naderhand die ouens maar begin aan gecheer want dit was ‘n prestasie as die kos uit die kombuis gekom het. Ek moet bysê, die kos was alles vars gemaak en niks reeds voorbereide kosse gewees nie. Dalk was die groente en skyfies dalk geskil gewees, maar selfs dit kan ons oor debateer.

Ons het later aan begin dink dalk moet ons dit maar opgee en vra vir ‘n take away wat ons die volgende oggend sal kom afhaal want dalk en net dalk sal ons betyds daarvoor wees. Niemand was bereid om ‘n koffie bestelling te plaas nie want ons was seker dat indien een ou ‘n bestelling plaas en ‘n ander ou ry terug na die kamp plek dit ‘n absoluut no brainer sal wees oor wie eerste koffie sal kry. Hier het ons gesien dat Afrika tyd kom nie naby Oz tyd nie.

Monday, June 14, 2010

Queens Birthday Weekend

Hierdie naweek was nou ‘n regte rustige en stil naweek sonder die kinders gewees. Hoe lekker was dit nou om net ons twee te gewees het sonder enige kinder bekommernisse. Die kinders het na die “State Youth Games” gegaan in Warragul vir drie dae. Dit is ‘n Christenkamp vol sport aktiwiteit vir die jonges tussen die ouderdom van 13 tot 25. Deur die dag was daar ook allerhande ander aktiwiteit wat hulle kon doen en in die aand was daar weer Christen bands en ander sosiale bedrywighede waarmee hulle hulself kon besig hou. Slaap was natuurlik nie hoog op die agenda gewees nie, hoe minder slaap daar was hoe beter natuurlik.

Die weer het Vrydag nie so lekker saam gespeel nie en die kamp was in die reen opgeslaan. Dit het natuurlik daartoe bygedra dat die hele naweek ‘n groot modderspul was. Alles was letterlik met modder besmeer, en wie sal dit toe nou moet skoon maak. NEE daar is nie ‘n Mary, of Elizabeth of Zondi nee, dis die Ma’s en Pa’s wat die gemors moet skoon maak. Wel dit was die eerste en die laaste keer dat ons die modderspul skoon gemaak het terwyl die kinders hulle verlore slaap ingehaal het. Ek het die meisies se tekkies net so in die asblik gegooi, daar is net geen manier dat ek die gemors sal skoon kry nie.

Met die water beperkinge nog steeds in werking hier is dit moeilik om sommer net die kraan oop te draai en alles af te spuit, ek het lanklaas soveel modder gesien. Ek wonder partykeer wat deur die kinders se koppe gaan as hulle alles so bemors, seker gedink “Oe Pret” en net verder in die modder gespeel. Mens sou sweer hulle is ‘n klomp vyfjariges wat niks beter weet nie.

Met die aankoms daar Maandag oggend het dit soos ‘n reuse tentdorp gelyk. Van die hoogte af was dit ‘n miernes van bedrywigheid, en wat ‘n gesig om dit te sien. Die area waarin die kamp was is ongeloof mooi. Dis groen so ver jy kan sien, met boerdery rondom jou. Daar was 3 000+ jongmense gewees wat die kamp bygwoon het. Die eerste kamp twintig jaar terug het begin met 75 jonges, hierdie jaar was daar 75 verskillende kerkgroepe gewees vanaf regoor die hele Victoria / Melbourne area. Die kinders het dit ongelooflik baie geniet, maar volgende jaar gaan daar beslis reels wees alvorens daar enige plekke geboek word vir die 2011 kamp

Wednesday, June 9, 2010

Diesel vs Unleaded

Vandag was een van daardie dae wat ek verseker baie lank sal onthou. Dis die dag wat potensieel 'n koste tag van $20 000 aangehad het. Wat het gebeur wonder julle, wel die storie is . . . . . . . . petrol het opge-eindig in 'n diesel kar se tenk.

Hier is baie scenarios en die vinger kan heen en weer gewys word maar aan die einde van die dag moet ek die blaam vat hiervoor. Ek het vandag met Alex se Chrysler gery en moes diesel ingooi. Maar soos alles hier moet jy dit self doen want hier is nie petrol joggies wat jou bedien nie. So toe ons by die petrolstasie stop klim boeta uit en se hy sal ingooi, hy vra vir my watter unleaded moet hy gooi want hier is twee verskillendes, en tipies soos ek is luister ek met 'n halwe oor. (Wel dit sou amper veroorsaak dat ek 'n hartaanval kry later.) Ek antwoord dat diesel is diesel en hy gooi unleaded in, ek stap in om te gaan betaal en ry doodluiters huis toe.

By die huis gekom eet ons gou en dis tyd om Clarissa by die netbal te gaan haal, en dis hier wat die paniek inslaan. Ek start daardie kar en die volgende oomblik ruk hy so erg dat ek 'n oomblik van totale verlamming beleef, ek skrik daar uit my beswyming en skakel die kar onmiddelik af. Ek loop hardloop terug na die huis en so ver ek gaan roep ek vir Christiaan, "Wat het jy in die kar gegooi, Unleaded of Diesel", en hier diep binne in my hoop ek hy gaan antwoord Diesel, maar my brein se dit gaan Unleaded wees.
Julle almal het al gesien as die TV stories of die movies alles so in slow motion begin wys, en hy weet hier kom 'n ding, en dit is nie goed nie. Jy sien hoe speel hulle die scenes terug na die begin en realiteit skop in want jy weet hier kom die punchline. Soos baie dinge in die lewe is daar nie 'n recall of reverse knoppie wat gedruk kan word om dinge wat verkeerd gedoen is reg te maak alvorens die bollie die fan gaan tref nie.
Wel die uit einde was dat daar unleaded in die tenk gegooi is in plaas van diesel. So wat die hel maak mens nou. Die kar het so erg gebok spring dat my hart nou nog aan die buitekant sit. Hoe verduidelik jy aan jou man dat jy het potensieel 'n uitgawe van $20 000 geskep. Jy kan nie die dom petroljoggie beskuldig nie want die dom petrol joggie is jou 16 jarige seun wat jou iets gevra het en jy het nie geluister nie.
Jou brein werk oortyd want jy weet daar moet iets wees wat jy kan doen om dit reg te maak, om die Universe weer terug op track te kry, en almal wat jy ken gaan deur jou gedagtes om te probeer pinpoint wie weet iets van karre af. Jy bel rond en uiteindelik lyk dit of daar 'n ou ligpuntjie kan wees, Craig en Marcell kan kom help. Die unleaded word gedreineer uit die tenk en diesel word ingegooi. Ek het lankal die pad gevat want ek sien nie kans vir nog enige verdere slegte nuus nie, die proses moet werk en die enjin het hopelik geen skade.
Ek moet se ek het 'n redelik sug van versagting gehad toe Alex in die huis instap en daar is darem 'n smile, want toe weet ek dis OK.

So die uiteinde van die storie is, ek gooi van nou af self diesel of petrol in die karre en ek sal beter moet luister.

Wednesday, May 19, 2010

Ek le so lekker in my warm bed nou, dit raak vrek koud hier. Dit voel so of die winter op ons is, maar dis nog net die begin, dit raak blykbaar baie nat en baie koud. Sal maar sien hoe pas ons aan. Hopelik sal ons die sneeu geniet in die berge, dis darem net so twee ure se ry soontoe. Ons beplan om Mt Baw Baw toe te gan, sal julle op hoogte hou.

Wel kom ek vertel net gou vir julle, Roelf se drama met die hospitaal is nog nie verby nie, die arme ou het gaan staan en sy arm ook nog breek. Nou sit hy met 'n gebreekte been en 'n gebreekte arm, nou is hy in 'n rolstoel. Sy arm het hy gebreek by die tieners se "youth" groep.

Doe hokkie hou die meisies darem besig, en natuurlik vir ons op Vrydae aande. Dis nie pret om teen 9 grade langs 'n baan te staan, en as dit nog reen is dit minder pret. Hierso oefen en speel die kinders wedstryde of dit nou sonskyn weer is en of dit nou reen dit maak nie saak nie. Ek het darem vinnig geleer om in lae aan te trek na die sport toe. Ek lyk soos 'n eskimo, maar tenminste is ek gepantser teen die koue, moet nog net vir Alex mooi leer.

Ons bybelstudie groepie is besig met die boek Openbaring en mensig mense dis eintlik 'n interresante boek. Ons het laasweek begin en het net oorhoofs gesels. 'n Interresante website wat julle na kan gaan kyk is http://www.raptureready.com en hier is baie goeie artikels. Ek dink nie ons besef hoe naby die tyd is nie.

In die gemeente waar ons is naamlik Wonga Park Christian Reform Church is eintlik 'n tipiese immigrante gemeente. Hier is 'n wye spektrum van mense in die kerk, klompie Suid Afrikaners, Duiters en Hollanders. Ons het die week 'n klompie van die ouer lidmate bederf met eg Suid Afrikaanse gebak. Hulle het dit so geniet om bederf te word, en so het ons gepraat oor alles en nog wat. Partykeer raak mens so verstrengel in jou eie dinge dat jy nie besef die mense rondom jou verstaan jou nie eintlik nie. Ons is so geneig om onmiddelik Afrikaans te praat as ons iemand sien, jou brein se Afrikaans en jy begin dan sommer in jou moedertaal gesels, jy vergeet skoon dat die ander in die geselsskap dalk nie verstaan. My brein is nog nie so ingeskakel dat ek net Engels praat nie, so moet ek nou probeer om my mede lidmate te akkomodeer en hulle nie uitsluit uit die gesprekke nie. Dit gaan nogal baie dinkwerk verg.

Van die lidmate wat ons mee gekuier het is almal diep in hulle sewentigs, tagtigs en begin negentigs. Hierdie klomp ou mense is nog almal aktief, hulle stap en kuier en blykbaar is hulle dagboeke nogal besig. Die een omie Phillip Nel (ou Suid Afrikaner / Hollander) is noual dertig jaar hier in Australia en het so tweejaar terug vir die eerste keer terug gegaan na Suid Afrika. Hy was verstom oor die veranderinge, wat hom die meeste getref het is die feit dat die pad tussen Jhb en CPT 'n goeie 100km korter is as in hulle dae. Ook dat al die klein dorpies nou afgesny is van die groot pad. Hy is nou 81 al en sy kop werk nog goed.

Boeta het sestien geword en ek kan nie glo hoe die tyd gevlieg het nie. Die kind is yslik groot en is alreeds 'n kop langers as ek. Ek moet nou opkyk na hom, maar ek kan hom darem nog lekker laat bloos.

Die skole se ope dae is hier gedurende Mei, en mensig is dit bedrywig. Dit was vanaf tienuur tot drie uur die middag. Celeste het gaan uithelp by die skool, sy het in die kombuis gewerk. Hulle het sop gekook en pizza's gemaak, en vir al die harde werk het sy 'n fliek kaartjie gekry asook McDonalds in klastyd. Die manier hoe ope dae hier gehou word is net heeltemal anders as in SA, dis soos 'n roadshow, in elke klas is demonstrasies, of dit nou wetenskap is of houtwerk, en die publiek word deel van die hele demonstrasie, hulle is betrokke by alles wat gedoen word, dis nie net "show and tell" nie. Volgens Celeste het hulle oor die driehonderd mense voorsien van sop en pizza's, ek is nie seker hoeveel het dalk maagpyn gekry nie.

Wednesday, April 7, 2010

Dit reën nou so lekker buite, die lug is so mooi helder en skoon. Die blou wat so plek plek deurslaan is verrassend mooi. Ek is seker as jy nou buite sou gaan staan jy die heerlikste varste lug sal ruik. Dit is lekker om in die oggend buite te kom en die vars lug in te asem, geen besoedeling en rook wat swaar hang op die horizon nie. Die varsheid van die dag kan mens amper proe so op jou tong.

Die afelope week was nou nie sonder insidente gewees nie. Ons het die kinders gevat na die nuwe Icerink in die Docklands, wat natuurlik baie lekker was, en daar sal dit gebeur dat Roelf sy enkel breek. Tussen Nicolette, Roelf en Christiaan het hulle oor mekaar geval. Christiaan stoot vir die twee "love birds" van agter om hulle te help om vinniger gaan, die probleem hiermee is dat die ys al redelik groefies het van die vorige ysskaats sessies. Die skaatse haak vas in die groefies want ons skaats mos nie, ons gly net. So haak Roelf se skaatse vas en hy val neer, Nicolette val oor hom en Christiaan oor hulle altwee. 'n Resep vir moeilikheid, en dis hoe dit gebeur dat Roelf sy enkel breek.

Soos ons maar nou gewoond is vat jy dan nou jou kind na die ongevalle, en vandaar sort die dokters die kind uit. Jy is maar saam met die kind elke stappie, van die xstrale en dan die wag enige iets anders wat soos gewoonlik maar sal volg. Die dokter lig jou in soos die proses ontwikkel en jy verstaan presies wat met jou kind gebeur. Die ouens praat met jou. So sal jou kind of opgeneem word vir die aand indien dit ernstig lyk, of 'n cast kry vir 'n week tot die swelling gesak het en hulle dalk 'n beter prognoses kan maak. Jou kind sal darem 'n tablet kry vir die erge pyn en daar sal mooi verduidelik word hoe om die voet te versorg indien hy huis toe sou gaan. Jy is op "par" met die dokter, en indien jy nie is nie, dan kry jy nog 'n tweede opinie tot jy gelukkig is. Jy vat ook jou kind na die dokter waarmee jy gemaklik is en jy praat met ander ouers wat ook deur so 'n proses is om te hoor wat is hulle opinies oor die dokter en is die ou darem behoorlik gekwalifiseerd. Jy weet darem dat as die radiograaf die xstrale geneem het die ou die verslag geskryf het dat die dokter sal verstaan, die dokter kyk ook na die xstrale, dis nou om homself te vergewis dat xstrale wys dit wat die verslag sê. Die ou is mos nou darem die ER dokter en hulle weet mos. Die verwys jou na 'n ortopediese chirurg waarmee hy gelukkig is.

Wel hier werk dit anders. Nie slegter nie, net anders. Eerstens indien jy na noodgevalle gaan hier met jou kind word die kind deur die pediatriese dokters gesien omrede hulle tot met 16 jaar daaronder klasifiseer. Hier is jy as ouer net 'n beslommernis, jy mors die dokters se tyd deur hulle te vra oor die besering. Die body language is tipies van "Ek het nie nou tyd om jou 'n les in anatomie te gee nie" en al wat jy wou geweet is, is hoe ernstig die breek nou eintlik is. Jy sit in ongevalle, die feit dat jy privaat medies hier het beteken absoluut niks, zero, NIL. Jy is eintlik net ‘n nommertjie tot iemand anders met pyn erger as joune opdaag. Jy sit en wag jou beurt af soos in enige staats hospitaal in Suid Afrika, en indien enige iemand anders inkom wat meer dringende aandag nodig het sal jy maar net moet wag. So hier sit jy,die voet hang want daar is nie plek om die voet te lig nie, en jy wag. Die arme kind in pyn maar wat jy wag geduldig, dalk iewers is daar uitkoms.

Na drie en 'n halwe uur raak jy maar redelik gatvol gewag, wat is dit met die gewagery en jy gaan vra nou “wat nou”? hoe lank moet ons nog wag vir die dokter. Nie die slimste move gewees hierdie nie, moet ook nou nie jou stem verhef of net effens te hard vra hoe lank nog nie want dan roep hulle sommer Code Grey op jou. Jy's agresief en 'n gevaar vir die mense, FOK, teen daardie tyd sou hulle 'n flippen CODE RED moes uitroep vir my, my in 'n straight jacket sit en 'n kalmeer inspuiting gee. Hier mense moet julle regtig maar bid vir my, ek is nie die kalmste mens wanneer dit by my kinders kom en sport beserings nie, veral nie as hulle vir ure gaan sit met pyn en ek my beurt moet afwag nie.

Eventauly word die kind is vir xstrale gestuur, die arme dokters kan nie behoorlik sien hoe erg die besering is nie en stel voor dat hy vir 'n CT scan gaan, maar nou is dit na ses so jy moet wag tot more want hulle maak toe, die ER maak toe (HAHAHAHA ek dog dis dan 'n ER), en nee jy kan nie voorskrif pynpille kry nie jy kan maar panadol gee. Dis so goed jy gee jou kind ‘n disprin in, dit gaan nie help vir die gebreekte enkel se pyn nie. So jou kind se enkel is gebreek, hulle kan nie sien hoe erg nie, maar is darem bereid om 'n semi cast op sit tot die volgende dag toe. Die hospitaal sal jou dan bel vir 'n afspraak om vir die scan te gaan. As dit maar so eenvoudig was. Niks in die lewe is ook maklik of eenvoudig nie, daar is altyd ‘n kinkel in die kabel.
Eerstens die hospitaal bel jou nie, jy bel naderhand en probeer uitvind nou wat nou. Daar word vir jou vertel dat dit nie meer nodig is vir die CT scan nie, die ER dokter het die Xstrale vir die ortopediese chirurg gewys en ja die enkel is gebreek maar hy moet eers met die "been"spesialis praat. Die ortopediese chirurg praat met jou nadat jy hom moes bel, (hy moes jou gebel het maar wie worry nou oor sulke kleinighede) en hy wag nog vir die "been"spesialis om die xstrale te interpetreer. Wow, drie dokters later en hulle weet nog nie presies wat is eintlik die diagnose nie. So die radioloog kan nie mooi op die xstrale die breek sien nie, die ER dokter kan ook nie en besluit op 'n CT scan, die ER dokter wys die Ortopediese chirurg die xstrale en hy besluit om die "been"spesialis te konsulteer. Nou wat die verskil is tussen die ortopediese chirurg en die "been"spesialis weet ek nie, maar sal nog uitvind. Jy moet jou kind terug vat na die ER en daar is besluit om nou 'n behoorlike cast op te sit to onder die lies, dit vir 'n gebreekte enkel, hoekom dit nie in die eerste plek gedoen is nie verstaan ek nie, maar ek is nie die dokter nie.

Maar die storie eindig nie daar nie. Dit het nog 'n episode of tien, ek is seker mens kan ‘n dokumentere real live experience hieroor doen.

So na 'n week in die cast tot onder die knieg bel die ma weer die hospitaal, want nadat die cast opgesit is het die "been"spesialis haar ingelig sal die kind moet skroewe in die enkel kry. Nou hier is die total confusion hoog, hulle kan nie die breek mooi sien nie maar wil sommer opereer en skroewe in sit. Daar moet daar en dan toestemming gegee word vir opname en hospitalisasie. Indien jy weier dan behandel hulle ook nie jou kind verder nie.

Kyk hier sou my moer meter weer die rooi geslaan het, en die alarm sou glad nie gestop het nie. Eerstens laat hulle jou wag, die opvolg met die dokters gebeur nie indien jy nie self die opvolg doen nie, jy kan nie vra vir tweede opinies nie, jy kan nie jou kind na 'n ander hospitaal vat nader aan die huis nie. Ek wonder wat noem mens dit?

So nadat die hospitaal of die dokters weereens nie gebel het vir die opvolg besoeke en scans vir die week nie, volg die ma dit maar weereens op. So hoor sy dat die CT scans volgeboek is vir die week en sy nie gehelp sal kan word nie. Na mooi praat en verduidelik en weer opvolg en navrae laat weet hulle sy kan so drie uur die middag inkom en dan maar wag vir 'n gaatjie. Nou moet die arme kind vas van 7uur die oggend af, hy moet wag vir die scan wat dalk enige tyd van na drie geneem kan word en dan sal daar besluit word oor die operasie. Wel hier kom die snag, die ma word na 2ure gebel, sy moet agtuur die oggend by die hospitaal wees vir die scan, die operasie is geskeduleer vir drie uur die middag. Die uit einde van die episode is die kind is eers half een die volgende oggend geopereer. Die arme kind het gevas vanaf seweuur die oggend, geen druppel water oor die lippe, geen drip in die arm vir vloeistof inname en as die ma iets vra dan word die ogies gerol. Hulle kan bly wees dit was nie my kind nie.

Die been is in ‘n semi cast gesit vir twee weke, die semi cast is pleister aan die agterkant van die been en verband. So sal ons leer dat alles nie altyd beter of makliker aan die anderkant van die draad is nie. Baie dinge mag dalk dieselfde lyk maar is beslis nie.

Wees op die uitkyk vir die opvolg, dit mag dalk ‘n verassing of twee inhou