Saturday, October 24, 2009

Piekniek in die natuur.


Ons het vanoggend besluit om weereens 'n bietjie rond te ry en om die omgewing te gaan verken.

Alex het besluit om na die Yarra Range Natuur reservaat te gaan en dan piekniek daar te gaan hou. Die son was uit, die kar gepak en ons almal gereed vir die uitstappie.

Die van julle wat dalk nie weet, in die begin van die jaar so Februarie was hier groot brande in die Melbourne "rural" areas. Nou rural is nou nie soos wat ons Suid Afrikaners gewoond is nie, rural kan binne 10 minute van ons wees en dit is plaasomgewing. Die area waarheen ons gery het was erg gebrand gedurende die tyd, so as jy mooi kyk rondom jou sal jy nog die effek sien. Nou in die reservaat sien jy die ongelooflike mooi groen omgewing, maar die brand effek kan jy nog by die bome sien die het erg gebrand.

Melbourne het die afgelope vier weke baie reen gehad, nou soos ons deur die reservaat ry sien jy baie stroompies wat van die berg af loop. Dit is prentjie mooi. Die reuke binne in die reservaat is heerlik vars, en Christiaan het soos 'n bobbejaan sy kop by die venster uit gesteek en die vars lug probeer proe. Ons het bo op die "summit" gestop en hier piekniek gehou. Daar is 'n uitkyk pos en daar is besluit Alex en die kinders kan maar opklim ek bly op vaste grond. Dit is seker so 4 verdiepings hoog. Die gesig van bo is ongelooflik mooi.

Hier het Alex en Christiaan terwyl hulle by die braai besig was, 'n paar Chinese tee gekom wat probeer vuur maak het met stokkies. Dit was blykbaar 'n gesig gewees om te aanskou. Later toe kom hulle daar aan met 'n hele boks vol stokkies. Wat hulle presies probeer doen het kan ons maar net imagine.




Sunday, October 18, 2009

Borskanker byeenkoms

















Saterdag was ek genooi om saam te gaan na 'n borskanker tee / middagete. Nou dit was ook interresant gewees. Ons is 11uur weg en eers 4uur die middag terug. Ons klomp het beslis nie gedink dit gaan so lank vat nie, maar om julle net 'n idee te gee hier is 5 minute die ekwivalent van 'n halfuur of selfs langer.

Hier het ek die eerste prys vir die dag gewen, 'n groot pakkie met allerhande "dinge" in. Met vorige ondervinding waar dit kom by borskanker funksies het jy maar altyd iemand wat praat oor die moet's en moenies, waarna gekyk moet word ens. Hier was geen sprake daarvan gewees nie. Ons het 'n heerlike middagete gehad en daarna 'n "clown" van vrou. Sy spesialiseer daarin om mense te help lag. Nou kyk die eerste 5 minute mag dalk snaaks gewees het, maar na dit was dit geensins meer snaaks nie. Anli, 'n vriendin wat ek in Februarie ontmoet het, het haar pamflet gevat en gesien sy doen korporatiewe funksies. Ek dink nie sy sal eers 5 minute hou in 'n korporatiewe omgewing wat ons gewoond is nie. Dit was op die ou einde 'n hele spektakel gewees. Ons het ook een van Chanel 9 se nuuslesers gehad wat ons toegespreek het. Wat 'n down to earth mens. Die ou het ons kos bedien en daarna in die kombuis gehelp opruim. Nou waar in Suid Afrika sal jy sien dat iemand soos Rian Cruywagen dit ooit sal doen. Nie maklik nie.

Die Suid Afrikaanse gemeenskap is vinnig om mense by te staan en is baie behulpsaam, die klompie dames is almal tussen 5 jaar en korter in die land. Van die vrouens se kinders is ook in Donvale Christian College.

Week 3 in Australia

Hierdie week het die kinders begin skool gaan en die gesigte was nie altyd vreeslik opgewonde wanneer dit by opstaan tyd gekom het nie. Die son gaan laat onder en ons het ook omgeskakel na daylight saving. Nou vir die wat nie weet daylight savings is wanneer die dag 'n uur of wat aanskyf hier in Melbourne. Ons horlosies is Sondag met 'n uur aangeskuif. So in effek begin ons vroeer met skool en kom dan vroeer uit. Die son gaan eers na nege hier onder. So met daylight savings kry die mense meer daglig tyd om te ontspan. Nie dat ons regtig kan ontspan nie want dit was hierdie hele week maar in die lae 10's, en dit het elke dag gereen. Dit was maar 'n gesukkel om die wasgoed droog te kry.

Die kinders se roetines het so 'n bietjie verander. Elkeen kry nou beurt vir kombuis, wasgoed, badkamer & toilet skoonmaak en dan die skottelgoedwasser wat uitgepak moet word en die asblikke. Christiaan moes hierdie week die sorg dat die kinders se wasgoed gewas is, en al moet ek self so se het hy hom goed van sy taak gekwyt.

Die land is fanaties wanneer dit kom by recycling. Hier het ons 3 asblikke, 1 vir die tuinafval, 1 vir die gewone kombuis afval en dan 1 vir die recycling goed. Hier word bottels, glas, blik en bokse gerecycle. Jy het twee asblikke in die kombuis vir die doeleindes. Ek moet se dat ons asblikke nie naastenby so erg lyk in die week wanneer dit tyd is vir kolleksie nie. Die recycle blikke word elke tweede week gehaal, so een week is dit die gewone gemors en recycle goed, die volgende week is dit gewone gemors en die tuin afval. Jy moet ook nie asblikke te hoog opstapel nie want dan los hulle dit ook. Dit is net een ou wat die lorrie bestuur en ook al die asblikke leeg maak, so moenie hom te veel oorlaai met gemors nie.

Die kinders se skool week het vinnig verby gegaan. Daar is vinnig vriende gemaak wat sekerlik die aanpassing makliker vir hulle gemaak het. Die 3 grotes het hulle rekenaars gekry Woensdag en alles word daarop gedoen. Omrede dit 'n Christelike skool is het hulle elke dag eers lofprysing vir so 'n kwartier na 'n halfuur in die oggende en daar word spesifiek op dinge gefokus vir die maand. Op hulle rekenaars is die bybel ook gelaai want baie van die skool vakke het 'n Christelike onderslag en dan word daar uit die bybel aangehaal. Ek dink vir die kinders se eie groei in hulle Christenskap is dit 'n goeie ding. Mag hulle tog ook net mekaar meer verdraagsaam wees.

Ek en Alex het afsprake vir ons leerling lisensie en persepsie toets die komende week, en eers in Desember kan ons dan ons omskakeling doen van die bestuurslisensie. Soos al voorheen genoemn werk meestal van die prosesse hier met 'n kaartjie stelsel. Jy kry 'n kaartjie by die info en dan wag jy tot jou nommer geroep word. Dit is partykeer regtig kostelik om te sien hoe mense reageer as hulle sien wat die volgende nommers is wat geroep word en wat hulle nommer is. Ons het ook gedink sjoe dit gaan lank vat want daar was dertig nommer voor ons, maar ons is gehelp binne 15 - 20 minute. Die hele proses vloei mooi.

Alex het ook die week gegaan na 'n byeenkoms van profesionele, besigheids en beroeps mense. Die ouens kom so een maal 'n maand bymekaar en dan network hulle. Dit help die nuwe ouens wat moet inskakel en dit help ouens om hulle self te bemark. Daar is altyd iemand met raad of wat weet watter manier moet jy jouself bemark, want die Ausies is maar 'n geslote nasie wanneer dit kom by werk. Hulle sal eerder 'n Ausie aanstel alvorens hulle iemand anders aanstel. Die Ausies dink regtig ons is 'n klomp arrogante en baasspelerig mense. Dit is maar net omdat ons gedrewe is en 'n sukses van ons lewens wil maak.

Ek het hierdie week begin met 'n kursus om MYOB te leer. Dit was maar 'n bietjie boring, maar dan aan die anderkant help dit om te verstaan hoe die mense dink. Die kursus is 'n hele agt weke lank. So dis maar tande kners vir agt weke lank.




Monday, October 12, 2009

Eerste dag by die skool
















Die kinders se eerste dag by Donvale Christian School. Die administratiewe personeel was heel beindruk dat ons dit reggekry het om die kinders binne 'n week in te skryf asook behoorlik uit te rus met klere vir die eerste dag. Vir ons is dit natuurlik, maar vir hulle is dit uitsonderlik. Geen wonder dinge vat so lank.

Die Gr9's dra ander klere as die res van die skool. Kinders het die eerste dag geniet en moes oor en oor woorde se omrede hulle aksent die kinders gefasineer het.

Ons hoop dit hou so aan.

Sunday, October 11, 2009

Week 2 se storie


So hier kan jy nie net na 'n skool van jou keuse gaan en jou kinders inskryf nie. Nee, hier is dit 'n proses. Jy bel die skool en laat weet hulle jy wil jou kinders inskryf. Die skool bel jou terug met 'n afspraak om die skool aan jou bekend te stel. Jy skryf nog nie die kinders in nie. Die skool word aan jou gewys en vertel hoe dinge daar werk. Dan is dit 'n kwessie van het julle plek vir jou kind. Jy loop daar weg en wag weereens dat die skool na jou terugkom oor of daar plek is. Indien daar is dan het jy weer 'n afspraak, hulle het dan 'n interview met die ouers en dan besluit hulle wil hulle jou daar akkomodeer, dan as hulle jou wil he kan jy jou kinders inskryf. Proses ja, maklik nee, net frustrasies. Wat dit nog erger maak is as jy jou kinders in 'n staats skool wil inskryf kan jy dit ook nie net sommer doen nie, jou adres moet in die zone val van die skool. Dan moet jy 'n permanente adres van ten minste 12 maande wys alvorens hulle 'n afspraak met jou sal maak. Hulle wil jou glad nie eers sien. Grappie, nee net groter frustrasies, die dat ons maar na 'n privaat skool is met die kinders.

Dit het ons presies 'n week gevat om die kinders in 'n skool in te skryf. Die skool waarna toe die kinders gaan is Donvale Christian College. Blykbaar baie goed en daar is baie Suid Afrikaners in die skool. Die kinders behoort tuis te voel. Hier kan die kinders ook nie buite speel sonder dat hulle hoede dra nie. Daar word elke dag gekyk of die kinders se hoedens in die sakke is, indien nie mag hulle nie buite speel nie. Hulle is veral streng met die junior kinders, maar nie soseer met die seniors nie.

Die skool is deur die ouers gestig in die 1960's en word deur die ouers gerun, besluite word deur die ouers geneem, maar die hoofde bestuur die skool andersins.

Die junoirs het 'n diere plaas waar hulle na verskillende diere kan omsien. Die seniors veral die Gr9's het 'n ekologiese benadering en hier word in verskillende fassette na die omgewing omgesien. Die Gr9's het hulle eie skoolgebou weg van die res van die skool. Christiaan is nogal beindruk hierdeur. Die kinders plant soos byvoorbeeld groente ens, sien om na diere (alpackas) en die entrepeneurskap van hulle word uitgebrei. Hier word 'n ander benadering gevolg vir die kinders om hulle nogsteeds in skool geintreseerd te hou.

Ons het ook na 'n paar huise gaan kyk, maar hier is nie sulke groot huise soos waaraan ons gewoond is nie. Jy sal 'n groot huis kry, maar jy is gelukkig as jy meer as 2 badkamers het. Ons het aansoek gedoen vir twee huise, ons eerste opsie het ons nie gekry, maar wel die volgende een. So einde van Oktober trek ons na 'n lee huis. Ons sal dan vir 'n paar weke moet kamp totdat die container kom. Hier leen die mense vir mekaar meubels en die nodige kombuis goed tot jou goed kom. Party van die huise is ook maar in 'n toestand. Omrede die huise maar van hout gebou is, is baie vervalle en die binnekant kort bietjie aandag. Baie huise kry jy die idee dit is maar oeserig (sleg), totdat jy binne is dan weerspieel die binne kant nie wat jy buite gesien het. Die afwerking binne is gewoonlik baie goed. Die badkamers is baie klein en gewoonlik twee, baie min dat jy meer as twee sal kry.

Ons het die kinders na Melbourne stad gevat. Ons het by Queen Victoria Park gestop en 'n bietjie daar rondgeloop. Kyk hierbo en sien hoe mooi groen lyk alles op die stadium. Die park is rustig en jy kan ontspan en piekniek hou of net rondloop. Ons het vir so 'n paar uur hier gespandeer, die kinders het op Federation Square gesit en gekyk na 'n comedian terwyl hy sy show hou. Dit was groot pret. Ons het later die middag na St Kilda gery by die see en middag ete daar gaan geniet. Bietjie koud nog, maar as dit eers somer is die see sommer naby vir 'n lekker swem.

Ons het kerk toe gegaan vanoggend, dit is nogal 'n aanpassing om alles in engels te moet doen. Die kinders het sondagskool gehad, maar Christiaan sal eers volgende week aangesien ons vandag nagmaal gehad het. Die predikant is 'n Afrikaner, maar preek in engels. Sy vrou Ina het ek in die week ontmoet tydens 'n bybelstudie byeenkoms. Hier is baie Afrikaanse en Suid Afrikaanse mense in die gemeente. Brendina en Marius Burger het ons in Februarie ook hier gehad toe ons kom kyk het hoe dit in Australia lyk en waar ons wou settle.

Ons het ook vir 'n piekniek gegaan by Lysterfield Park Reserve. Hier het 'n klomp ou Suid Afrikaners vir die Sondag bymekaar gekom en net lekker gekuier. Hier het ek darem 'n paar bekende gesigte raakgeloop wat ek vroeer in die week ontmoet het. Dit is nou mense wat 'n vriendin wat ek in Februarie ontmoet het my aan bekend gestel. Anli en Schalk Roelofse het in Desember 2008 hier geland. Sy het alles alleen aangepak terwyl Schalk nog kontrak werk in Afrika gedoen het. Dit was sommer lekker om by 'n vreemde plek te kom en dan boonop bekende gesigte te sien. Van die mense se kinders is ook in Donvale Christian College en toe maak die kinders sommer maats met kinders van hulle ouderdoms groep. Alex het ook lekker ontdooi en saam met 'n paar manne gestaan en kuier. Dit is altyd lekker as jy sien jou familie vind die samesyn met ander mense ook lekker, veral vreemde mense.

Ons het heerlike samoosas ge-eet en aan ander mense se kosse gepeusel alvorens ons kos reg was. Het Yvette en Alex haar man ontmoet, dis nou die mense wie se fiets ons saam ingepak het in die container. As ek so na die mense se kinders luister en die aksente dan tel die kinders die Ausie slang vinnig op.

Wel die komende week gaan die kinders tenminste begin met skool dan kan ek en Alex begin om aandag te gee aan ons lisensies. Dit gaan pret wees.

Groete tot volgende week.
















Sunday, October 4, 2009

Week 1 in Australia

Dit is nou 'n week wat ons hier is. Dinge werk beslis anders hier soos om byvoorbeeld koffie te bestel. Dis of 'n long white, long black of skinny white maar geen filter koffie. Jy word aangekyk asof jy van mars afkom. Ek kan wel noem dat koffie hier beslis lekkerder is as in Suid-Afrika, dit is selfs lekkerder as Wimpy sin. Hulle cuppichino's is baie lekker, geen room, maar as jy dit kry lyk asof daar dik room oor is.

Ons het bietjie rondgery en jy kan nie glo hoe mooi die natuur hier is (nie dat dit nie mooi in Suid-Afrika is nie), maar binne 'n halfuur ry jy paaie met dieselfde natuurskoon soos in Magoebaskloof of selfs soos in 'n wildreservaat. Die natuur verander verskriklik vinnig hier. Ons het selfs in Kommetjie gery of aldus so het ons gedink. Dit is so oppad na Geelong en die natuur en see is ongelooflik mooi en skoon. Die see was bietjie rof want ons wou die ferry terug gevat het, maar ek het nie kans gesien vir die skommeling nie. Ons sal 'n volgende keer met die ferry terug Melbourne toe. Dit opsig self moet 'n belewenis wees veral vir die kinders aangesien ek en Alex reeds in Griekeland tussen die eilande met die ferries gery het.

Die mense kyk jou maar lekker skeef aan wanneer jy iets bestel en jy kyk hulle met 'n blank gesig terug. Partykeer praat hulle so vinnig of selfs so onduidelik dat jy nie kan uitmaak wat hulle vir jou gese nie. Hier eet die mense ook nie in restaurante soos ons gewoond is nie, maar meer in tipe van gourmet cafe of wegneem etes. Die areas is groot waar die mense kos bestel en daar is orals tafels en stoele om te sit. Hier raak die messe en vurke nie weg nie. Die mense sit daar en eet en doen dan verder hulle dinge. Nie soos ons wat wegneem etes koop en dadelik huistoe gaan nie. Hier kuier die mense in die "foodhalls". Dit is skoon en netjies.

Ons het 'n atletiek klub vir die kinders gekry met profesionele afrigters. Dit kos jou ook nie ekstra vir die afrigting nie, dis deel van die klubfooie. Hier fokus die mense ook nie op prestasie nie, so as jy vandag net nie lus voel dan ploeter jy maar net voort, volgende keer presteer jy weer. Hier kyk hulle eerder na jou persoonlike beste teenoor waar ons gewoond is teenoor mekaar. Hier word elkeen beloon en nie net die bestes nie.

Die kinders word die week ingeskryf by die skole en dit is huis soek met alle erns. So later meer daaroor.

Thursday, October 1, 2009

Arriveer in Sydney Australia

Die laaste twee weke in SA was besig. Om alles gepak en op die container te gekry het was "HECTIC", maar ons het dit gemaak.

Die vlug van Suid-Afrika na Sydney was in baie opsigte 'n nagmerrie. Die vlug was "bumpy" en baie beknop en volgeboek. Daar was nie 'n plek vir 'n muis daarop. Die landing was nie veel beter gewees want daar was wind sywaarts en die vliegtuig het maar lekker geskuif oor die aanloop baan. Gelukkig het die kaptein sy job geken.

Die paar dae in Sydney was heerlik, en die kinders het dit geniet. Die papierwerk wat ons hier kom doen het was so tydsaam. By die bank as jy inkom neem jy dan 'n kaartjie met 'n nommer op, afhangende van wat jy doen. Die nommer word dan uitgeroep en so word werk afgehandel. Die kinders het hulle self simpel gelag oor die mense en hulle reaksies op die "ticketmachine". Ons het letterlik 'n dag gespandeer aan papierwerk en dit net om 'n kar gekoop te kry en finansiering te kry. Hier gebeur niks sommer net so nie. Alles is 'n proses en vir alles wat jy aangeneem het in Suid Afrika moet so werk, wel dit werk nie so nie. Hier is 'n ou wat die kar vir jou wys en verkoop, dan is hier iemand wat die finansiering doen, dan is hier iemand wat die venster tinting en sekuriteit op die vensters doen. Niks gaan deur net een persoon nie, dit is van een mens na 'n ander na 'n ander. Dit voel naderhand of jy die hele dealership leer ken het.

Ons het Woensdag 30 September in Melbourne gearriveer. Dit is nou ons nuwe tuiste. Hier moet ons nuwe vriende maak en onsself inburger. Die huurhuis is nie bad nie, moet net gewoond raak aan hoe dinge hier werk. Hier moet ons recycle en die ouens is fanaties oor rycycling. Ek lag so lekker as ek sien hoe rigting beduiweld Alex en Christiaan raak. Ek werk altyd op bakens en nie soseer rigting.

Die kinders het darem aanklank gevind by hulle ou maats en die het lekker gekuier vir 2 dae. Hulle is gewys waar hulle skool is, en hulle is glad nie impress om nou so ver te stap skool toe en terug nie. Maandag begin die skole weer hier dan gaan ons die kinders inskryf by die verskillende skole.

Ons het ook intussen begin kyk na huise om te huur op 'n permanente basis en dit lyk ook na 'n proses. Hier werk dinge anders as in Suid-Afrika. Hier is dit nie wie eerste die huis besigtig en vat nie, maar hier doen almal aansoek vir die huis en dan keur die agent jou en dan besluit die eienaar op gronde daarvan wie huur sy plek. Fun!!!!!