Thursday, December 26, 2013

Verlies van 'n ouer


Een van die moeilike dinge wat ons expats moet deur maak hier alleen in die verte is om die verlies van 'n ouer te verwerk. Die verlies is veral moeilik om emosioneel te verwerk as jy nie daar is om fisies afskeid te neem nie. So het ek die middernagtelike oproep gekry een aand. Dit het 'n hele warboel van emosies losgemaak en my gedagtes het begin dwaal.

Dit het my laat terug dink aan my sorgelose kinder lewe, die pad wat ons gestap het daar in die rowwe suide van Johannesburg, van armoede, nie dat dit ons enigsins gehinder het om 'n goeie kinder lewe te gehad het nie.

Ons het groot geword daar aan die suide kant van Johannesburg in Bellavista, die gedeelte waar al die munisipale woonstel blokke ingeryg langs mekaar gestaan het, die een amper identies aan die ander een. Die plekke is in die '70's gebou, ek onthou nog hoe ons gesit en kyk het hoe die paaie geteer word, die vars reuk van teer sit nog vars in my geheue. Die klere aan jou bas was selfgemaak en almal van ons het eenders gelyk, daar was nie geld gewees om winkel klere te koop nie.
Die kliniek oorkant by die vlei het party Vrydae gedurende skool vakansies gedien as 'n fliek. Die projekter is opgeslaan en ons klomp kinders het op 'n ry gesit en Tarzan movies kyk.

Ons het 'n goeie sorgelose kinder lewe gehad, niks in oorvloed. Ons speelplek was tussen die woonstel blokke en die groot grasvelde wat daar eens op 'n tyd was. Nou is dit vervang met snelwee en die dwelmhandelaars. As ons nou regtig avontuur wou gehad het dan het ons na die koppies uitgewyk of selfs die mynhope aan die agterkant van ons, maar dan het jy vir groot moeilikheid gesoek. Vakansie tye sou ons tot laataand buite wees en een vir een het jy die ma's hoor roep na die kinders om in te kom. Daar was nie so iets soos 'n tv stel in die huis nie, die het jy by die bure gaan kyk wat dit wel kon bekostig. Ons middagete was baie kere pap en marog, dit was koningskos vir ons. Daar was dae wat ons nie eens vleis gehad het vir aandete nie, maar dit het ons nie gepla nie want ons nie geweet van beter nie. Winter en somer het ons skool toe gestap, 'n goeie 7km elke dag en boeta as jy die dag laat was vir skool dan was dit 'n goeie drafstap opdraende. Die middae was dit natuurlik al die pad afdraende. Partykeer het jy die waagmoed gehad om met die bus te ry sonder 'n buskaartjie en so het jy al die pad gehoop jy word nie uitgevang nie.

Ons was soos enige ander kinders stout, het dinge aangevang wat jou Ma so kwaad gehad het dat die belt natuurlik ingespan is en jy is goed gevoeter. Natuurlik het jy gevoel dis onregverdig en jy het probeer om jou skuld in die situasie tot die minimun te beprek, daar is natuurlik deur alles gesien. Ek onthou eenkeer waar my jongste broer amper die huis kon afgebrand het, hy het met vuurhoutjies gespeel in sy kamer en sodoende sy bed en gordyne aan die brand gesteek. Die verduideliking was so oortuigend vir homself dat ons tot vandag toe nog daaroor lag.

My Ma moes vier kinders alleen groot kry na my Pa se skielike afsterwe van kanker, 'n maklike taak was dit beslis nie. Sy was 'n moeilike vrou en het nie ons nonsens gevat nie. Sy het finansieel voorsien wat sy kon en meer as eenkeer het sy vir ons kinders gese dat sy nie vir ons geleerdheid kan gee nie maar matriek sal ons almal klaar maak. Sy het net standerd 8 gehad, veel meer oor hoekom en waarom het sy nooit met my gedeel nie. Daar is baie wat sy nooit met ons wou deel na my Pa se dood nie. Soos ons ouer word raak hierdie dinge belangrik want dit is tog immers ook jou geskiedenis wat verlore gaan.
Daar was baie kere hard koppe gestamp maar terug praat het ons nie durf doen nie, nie soos vandag waar die kinders dink hulle het die reg om hulle ouers te bevraagteken oor elke liewe aspek in die lewe nie.

Ek mis my Ma hierdie kersseisoen.