Ek le so lekker in my warm bed nou, dit raak vrek koud hier. Dit voel so of die winter op ons is, maar dis nog net die begin, dit raak blykbaar baie nat en baie koud. Sal maar sien hoe pas ons aan. Hopelik sal ons die sneeu geniet in die berge, dis darem net so twee ure se ry soontoe. Ons beplan om Mt Baw Baw toe te gan, sal julle op hoogte hou.
Wel kom ek vertel net gou vir julle, Roelf se drama met die hospitaal is nog nie verby nie, die arme ou het gaan staan en sy arm ook nog breek. Nou sit hy met 'n gebreekte been en 'n gebreekte arm, nou is hy in 'n rolstoel. Sy arm het hy gebreek by die tieners se "youth" groep.
Doe hokkie hou die meisies darem besig, en natuurlik vir ons op Vrydae aande. Dis nie pret om teen 9 grade langs 'n baan te staan, en as dit nog reen is dit minder pret. Hierso oefen en speel die kinders wedstryde of dit nou sonskyn weer is en of dit nou reen dit maak nie saak nie. Ek het darem vinnig geleer om in lae aan te trek na die sport toe. Ek lyk soos 'n eskimo, maar tenminste is ek gepantser teen die koue, moet nog net vir Alex mooi leer.
Ons bybelstudie groepie is besig met die boek Openbaring en mensig mense dis eintlik 'n interresante boek. Ons het laasweek begin en het net oorhoofs gesels. 'n Interresante website wat julle na kan gaan kyk is http://www.raptureready.com en hier is baie goeie artikels. Ek dink nie ons besef hoe naby die tyd is nie.
In die gemeente waar ons is naamlik Wonga Park Christian Reform Church is eintlik 'n tipiese immigrante gemeente. Hier is 'n wye spektrum van mense in die kerk, klompie Suid Afrikaners, Duiters en Hollanders. Ons het die week 'n klompie van die ouer lidmate bederf met eg Suid Afrikaanse gebak. Hulle het dit so geniet om bederf te word, en so het ons gepraat oor alles en nog wat. Partykeer raak mens so verstrengel in jou eie dinge dat jy nie besef die mense rondom jou verstaan jou nie eintlik nie. Ons is so geneig om onmiddelik Afrikaans te praat as ons iemand sien, jou brein se Afrikaans en jy begin dan sommer in jou moedertaal gesels, jy vergeet skoon dat die ander in die geselsskap dalk nie verstaan. My brein is nog nie so ingeskakel dat ek net Engels praat nie, so moet ek nou probeer om my mede lidmate te akkomodeer en hulle nie uitsluit uit die gesprekke nie. Dit gaan nogal baie dinkwerk verg.
Van die lidmate wat ons mee gekuier het is almal diep in hulle sewentigs, tagtigs en begin negentigs. Hierdie klomp ou mense is nog almal aktief, hulle stap en kuier en blykbaar is hulle dagboeke nogal besig. Die een omie Phillip Nel (ou Suid Afrikaner / Hollander) is noual dertig jaar hier in Australia en het so tweejaar terug vir die eerste keer terug gegaan na Suid Afrika. Hy was verstom oor die veranderinge, wat hom die meeste getref het is die feit dat die pad tussen Jhb en CPT 'n goeie 100km korter is as in hulle dae. Ook dat al die klein dorpies nou afgesny is van die groot pad. Hy is nou 81 al en sy kop werk nog goed.
Boeta het sestien geword en ek kan nie glo hoe die tyd gevlieg het nie. Die kind is yslik groot en is alreeds 'n kop langers as ek. Ek moet nou opkyk na hom, maar ek kan hom darem nog lekker laat bloos.
Die skole se ope dae is hier gedurende Mei, en mensig is dit bedrywig. Dit was vanaf tienuur tot drie uur die middag. Celeste het gaan uithelp by die skool, sy het in die kombuis gewerk. Hulle het sop gekook en pizza's gemaak, en vir al die harde werk het sy 'n fliek kaartjie gekry asook McDonalds in klastyd. Die manier hoe ope dae hier gehou word is net heeltemal anders as in SA, dis soos 'n roadshow, in elke klas is demonstrasies, of dit nou wetenskap is of houtwerk, en die publiek word deel van die hele demonstrasie, hulle is betrokke by alles wat gedoen word, dis nie net "show and tell" nie. Volgens Celeste het hulle oor die driehonderd mense voorsien van sop en pizza's, ek is nie seker hoeveel het dalk maagpyn gekry nie.