So ry ons toe so halfvier die Vrydag middag uit Melbourne oppad na Apollo Bay toe, almal gerelax en sien uit na die naweek by die see. Oppad soontoe stop ons maar langs die pad en besigtig die natuurskoon. Dit is baie, baie, baie mooi. Die lug ruik heerlik skoon en vars, onthou hier is nie vrot karre met vieslike uitlaat gasse nie, so as jy stop en uitklim slaan die reuke en geure van die natuur jou en dit is lekker. Die is regtig spectacular, die pad herinner my op tye aan Chapmans Peak, dan is ons weer effens binneland in en dit laat jou dink aan Tsitsikama. So hier het ons altyd iets wat jou sal laat terug dink aan jou moederland en herinneringe wat jy daar opgedoen het.
Ons het na die Otway Treetop Walkway gegaan, die stelasie is 600m lank en is so 25m bo die grond gebou, op party plekke voel dit vir my of ons tenminste 100m bo die grond loop, die uitkyk af ondertoe maak jou eintlik duiselig, maar jy is veilig moet ek by se. In die middel van die roete is nog 'n stelasie wat nog opgaan na 45m bo die grond, hier het ek maar verby gehou, hoogtes is nie my ding. Plek plek voel jy hoe beweeg die stelasie en ek moet se ek was bly toe ons aan die einde van die roete kom en ek my voete vierkantig en solied op moederaarde weer kon neersit.
So tussen die bosse is daar ook 'n dinosaur uitstalling en dit is baie realisties gedoen van die mooiste en kleinste dinosaurs tot groot grillerige goed en slange wat teen die bome uit seil.
Ons het ook na 12 Apostels gegaan en dit is absoluut amazing om te sien, dis soos om Tafelberg vir die eerste keer te sien. Jy staan en staar in verwondering na wat die mens gegee is om met die oog te geniet. Gaan google tog die plekke en kyk na dit wat die ouens op die web alles wys oor die stukkie natuurskoon.
Ons het na so 'n klein strand gegaan, Johanna Bay, wat 'n stukkie beeldskone natuurskoon is dit nie. Almal wat daar stop en af stap strand toe draai links en stap dan strand af, ons het regs gegaan en mensig dit was 'n goeie besluit. As jy so stap en jy kom om 'n draai met rotse en land wat in die see in gaan en jy klim oor die rotse kom jy op nog sulke klein strande af, en so het ons nog aan gestap. Op 'n stadium het ek vir Alex gese ons moet liewers terug want as dit hooggety is sit jy vas tussen strande en daar is geen manier om terug te gaan. Op is nie 'n opsie nie want dit is net styl kranse boontoe. Die kinders het kans gevat en die see van naby getrotseer op die rotse, dit is heerlik as die seesproei jou so in die gesig raak.
Die eerste aand het ons na die pretpark gegaan en die kinders het julle self gate uit geniet. Selfs Alex het saam met Christiaan bumber car gery, die meisies het op een of ander tipe swaai gegaan wat my sommer net seesiek sou maak, ek het liewers op die kantlyn gesit en hulle so bekyk. Dis lekker om so sorgeloos te wees, te weet dat jy kan dalk bietjie meer kanse vat en die lewe geniet sonder enige vrese.